2018-04-07
Lukas 15:18 NLV
Wanneer jy die feit dat God jou gekies en aangestel het om sekere dinge te doen, begryp, sal baie van jou onbeantwoorde vrae begin sin maak. Vrae soos hoekom jy dinge anders as ander mense sien, of hoekom jy genope voel om aan te beweeg terwyl hulle tevrede is om te bly waar hulle is. Paulus het gesê, ‘God het almal wat aan Jesus behoort, gekies om Syne te wees. Dat dit so moet wees, het Hy lankal besluit en Hy laat altyd alles gebeur soos Hy dit wil hê’ (Efesiërs 1:11 DB). Jy is met die hand vir die werk uitgekies en ontwerp, omdat God sekere dinge het wat Hy deur jou wil doen. Hier is twee redes hoekom jy hierdie waarheid moet begryp: 1) As jy dink dat God jou gekies het omdat jy goed kan bid, of jou Bybel vir ure aaneen kan lees, of omdat jy ‘n onberispelike karakter het, sal die duiwel jou die oomblik wat jy jou waaksaamheid verslap aanval en vir jou vertel dat jy nie langer deur God aanvaar word nie. 2) Deur jou status voor God te ken, word jy toegelaat om te sê, ‘Selfs al struikel en sukkel ek en kry dit nie altyd reg nie, kan ek enige tyd na God gaan omdat Hy my gekies het.’ Dis kragtig! Dit sal jou denkwyse, jou lewensuitkyk en die vlak van jou selfvertroue verander. Selfs toe hy alles verloor het en soos die varke wat hy moes oppas geruik het, kon die Verlore Seun sê, ‘Ek sal huis toe gaan na my pa toe…’ Wees bly, want God is steeds jou Vader, selfs wanneer jy drooggemaak het. Wees berouvol, keer terug en wy jouself weer aan God toe – jy is ‘gekies en aangestel.’
Sielskos: Jer 31-32; Mark 1:29-34; Ps 72:12-20; Spr 9:7-9
2018-04-06
Galasiërs 4:5 DB
God het sekere dinge geskeduleer om in sekere seisoene in jou lewe plaas te vind. Soms moet mense hulle lewenstyl aanpas om ‘n onverwagte swangerskap te akkommodeer – maar niemand neem per ongeluk ‘n kind aan nie. Dink daaroor: God het reeds van al jou swakhede geweet, en tog het Hy jou gekies. ‘Christus het gesorg dat ons nou as God se kinders aangeneem word… En omdat julle sy kinders is, is julle ook sy erfgename. Al sy goedheid is nou julle s’n’ (verse 5;7 DB). Jy hoef nooit te wonder of jy jou hemelse Vader kan nader nie, want Hy is altyd gereed om jou te ontvang. Jou sitplek is by sy tafel bespreek. ‘U berei vir my ‘n feesmaal voor die oë van al my vyande…’ (Psalm 23:5 NLV). Dit beteken dat struikelblokke en teenstand jou nie van God se seën kan beroof nie. Om ‘gekies en aangestel’ te wees, is soos om ‘n platinum kredietkaart te hê: jy kry voorkeurbehandeling! Dit beteken egter nie dat jy kan maak soos jy wil nie. Nee, ‘Die Here dissiplineer juis die mense vir wie Hy lief is; Hy tug elkeen wat Hy as sy kind aanneem’ (Hebreërs 12:6 NLV). God se dissipline is nie verwerping nie, dis ‘n bewys van sy liefde! Jy word nie as gevolg van jou ras, gawes, talente, voorkoms of intelligensie gekies en aangestel nie. God het jou gekies omdat Hy lief is vir jou en ‘n spesiale plan vir jou lewe het. Hy sal jou versterk en jou toerus om hierdie plan te vervul. ‘Ek is oortuig dat God die goeie werk wat Hy in julle begin het, sal voortsit totdat Hy dit voltooi…’ (Filippense 1:6 NLV).
Sielskos: Jer 28-30; Mark 1:16-28; Ps 72:1-11; Spr 9:1-6
2018-04-05
Johannes 15:16 ABA
Jesus het gesê, ‘Julle het My nie gekies nie, Ek het julle gekies. Ja, Ek het julle gekies en aangestel om vrugte te dra, vrugte wat nie sleg word nie…’ Dis belangrik hoe jy ‘n verhouding begin. Al die partye moet veilig voel, vir die verhouding om suksesvol te wees. Wanneer jy byvoorbeeld na iemand se huis vir aandete genooi word, is dit billik om te verwag dat hulle aan sekere sosiale verpligtinge sal voldoen. Jy behoort nie te wonder of jy welkom is, of daar genoeg kos sal wees en of daar plek vir jou aan tafel sal wees nie. Hierdie soort dinge sal net van belang wees as jy ongenooid daar opgedaag het. Net so gee dit jou selfvertroue wanneer jy weet dat jy deur God gekies en aangestel is. Dit beteken dat jy reeds aanvaar is; jy hoef nie ‘n veldtog te loods om gekies te word nie. God kies jou vir twee redes: om jou te seën en om jou ‘n seën vir ander mense te maak (sien Genesis 12:2). Die Bybel praat van seëninge wat meer as genoeg sal wees (sien Maleagi 3:10). Soms is God se seën so oorweldigend dat wanneer Hy begin om dit uit te stort, jy wonder of jy dit alles sal kan hanteer. Jy is reg om so te dink – as jy die een is wat die verhouding geïnisieer het! Jy het egter nie vir God gekies nie, Hy het jou gekies. Wie Hy ook al roep, rus Hy ook toe. Jy moet net ontvanklik daarvoor wees. ‘…stel julleself voortdurend vir God beskikbaar… Stel al julle liggaamlike vermoëns as wapens van geregtigheid tot God se beskikking’ (Romeine 6:13 NLV).
Sielskos: Jer 25-27; Mark 1:9-15; Ps 31; Spr 8:34-36
2018-04-04
Jesaja 6:8 NLV
Jesaja skryf, “Toe het ek die Here hoor vra: ‘Wie kan Ek met ‘n boodskap na my volk toe stuur? Wie sal vir ons gaan?’ Ek het geantwoord: ‘Here, ek sal gaan! Stuur my!’ Hy het gesê: ‘Ja, gaan…'” (verse 8-9 NLV). In die voorafgaande Skrifgedeelte het Jesaja allerhande verskonings uitgedink en vir God vertel hoekom hy nie vir die werk geskik is nie. In God se koningkryk troef roeping egter elke keer getuigskrifte! Dit gaan nie oor ervaring of kundigheid nie, maar oor beskikbaarheid en die gewilligheid om te leer. As jy gewillig is om te gaan wanneer God jou die groen lig gee, sal Hy jou na ontoeganklike plekke neem en onmoontlike dinge laat doen. Abraham, Jakob, Josef, Ester, Moses, Samuel, Dawid en Jesaja het almal een ding in gemeen gehad, hulle het almal gesê, ‘Hier is ek.’ Is dit nie ironies dat ons soveel tyd en energie spandeer om te probeer uitvind waarheen God wil hê ons moet gaan, wanneer ons eenvoudig net moet sê, ‘Hier is ek’ nie? Dis God se werk om ons te kry waar Hy wil hê ons moet gaan; ons werk is om onsself beskikbaar te stel. Soos ‘n dokter wat op roep is, ‘n polisieman aan diens of ‘n brandweerman wat sy skof werk, is dit ons gereedheid om te reageer wanneer God ons roep, wat belangrik is. Soms is dit ‘n eenvoudige aansporing om ons buurman lief te hê. Soms is dit ‘n roeping om halfpad rondom die wêreld te verhuis. Dit begin egter altyd met ‘n gebed van drie woorde: ‘Hier is ek.’ Dit is wat Moses by die brandende bos gesê het. Dit is wat Kaleb gesê het toe hy uiteindelik die Beloofde Land binnegegaan het. Dit is ook wat God wil hê jy vandag moet sê.
Sielskos: Jer 22-24; Mark 1:1-8; Ps 6; Spr 8:32-33
2018-04-03
Efesiërs 2:10 NLV
Die Bybel sê God het ons ‘…só gemaak dat ons die goeie werke wat Hy vir ons bestem het, kan uitlewe.’ Ons lewe in ‘n verwoestende tyd. ‘n Biljoen mense ly honger, miljoene word as slawe verkoop en pandemiese siektes wis hele nasies uit. Elke jaar word amper twee miljoen kinders in die globale sekshandelbesigheid uitgebuit. In die paar minute wat dit jou neem om vandag se dagstukkie te lees, het amper negentig kinders aan voorkombare siektes gesterf. Meer as die helfte van die mense in Afrika het nie toegang tot moderne gesondheidsfasiliteite nie. Gevolglik sterf tien miljoen elke jaar as gevolg van diarree, longkwale, malaria en masels. Baie van hierdie sterftes kon deur een inspuiting voorkom gewees het. Jy vra, ‘Wat kan ek daaraan doen?’ God beantwoord gebede, dus kan jy bid vir diegene wat ly. Jy kan gee, of dit nou min of baie is. Jy kan ook vrywillige werk doen. Jy word deur wonderlike organisasies omring wat na die behoeftes van mense omsien. Jy moet betrokke raak, want jou lewe snel verby en as jy nie versigtig is nie, sal jy een dag opkyk en jou een kans op ‘n sinvolle lewe sal verby wees. Sommige mense bemoei hulle nie met sulke gedagtes nie. Hulle beweeg deur hulle dae sonder om hulle oë op te lig en te kyk. Hulle lewe en sterf en vra nooit hoekom nie. As jy wil hê dat jou lewe moet saakmaak, lewe dit op so ‘n manier dat die wêreld oor jou bly sal wees. Jy is geskep en verlos sodat jy ‘…die goeie werke wat Hy vir [jou] bestem het, kan uitlewe.’ Wanneer jy eendag voor God staan, sal Hy jou vra hoe goed jy jou opdrag uitgevoer het en jou daarvolgens beloon.
Sielskos: Jer 18-21; Matt 28:16-20; Ps 69:19-36; Spr 8:30-31
2018-04-02
Deuteronomium 6:6-7 ABA
Dis nie maklik om ‘n Christen-ouer te wees in ‘n wêreld waar groepsdruk voel of dit jou plat druk nie; waar waardes nie meer saakmaak en waar sedeloosheid hoogty vier nie. Met God se hulp kan jy dit egter doen! Om jou kinders na Christus toe te lei, doen die volgende vyf dinge: 1) Begin wanneer hulle klein is en lees elke aand vir hulle Bybelstories voor. Laat hulle toe om te hoor hoe jy bid dat hulle Jesus persoonlik sal ken en hoe jy Hom aanhoudend bedank dat Hy vir hulle sondes gesterf het. 2) Wanneer jy hulle kerk toe neem, verduidelik aan hulle wat die verskeie rituele en seisoene (die Doop, die Laaste Avondmaal, Paasfees en Kersfees) verteenwoordig en hoekom hulle gevier word. 3) Wees sensitief oor elke geestelike vraag wat hulle vra en neem die tyd om hulle vrae op so ‘n manier te antwoord dat hulle dit sal verstaan. 4) Koop vir hulle Christelike DVD’s en strokiesprente wat die Bybelse waarhede op hulle vlak aan hulle kan verduidelik. 5) Vertrou dat die Heilige Gees jou wysheid op die regte tyd sal gee om die evangelie aan hulle te verduidelik; en bid konstant vir hulle verlossing. Op een geleentheid het D.L. Moody verslag gelewer oor ‘twee-en-‘n-half’ bekerings wat tydens een van sy dienste plaasgevind het. Iemand het opgemerk, ‘Ek veronderstel jy bedoel twee volwassenes en een kind.’ ‘Nee,’ het Moody geantwoord. ‘Ek bedoel twee kinders en een volwassene. Die kinders kan hulle hele lewe aan God gee, maar die volwassene het net ‘n halwe lewe om te gee.’ Onthou, die dinge wat ons die beste leer is die dinge wat ons die meeste hoor. Dus: ‘Julle moet die dinge onthou wat ek vandag vir julle sê en julle moet dit vir julle kinders leer…’
Sielskos: Jer 14-17; Matt 28:11-15; Ps 69:1-18; Spr 8:27-29