Deur God gekies en aangestel (3)
2018-04-07Lukas 15:18 NLV
Wanneer jy die feit dat God jou gekies en aangestel het om sekere dinge te doen, begryp, sal baie van jou onbeantwoorde vrae begin sin maak. Vrae soos hoekom jy dinge anders as ander mense sien, of hoekom jy genope voel om aan te beweeg terwyl hulle tevrede is om te bly waar hulle is. Paulus het gesê, ‘God het almal wat aan Jesus behoort, gekies om Syne te wees. Dat dit so moet wees, het Hy lankal besluit en Hy laat altyd alles gebeur soos Hy dit wil hê’ (Efesiërs 1:11 DB). Jy is met die hand vir die werk uitgekies en ontwerp, omdat God sekere dinge het wat Hy deur jou wil doen. Hier is twee redes hoekom jy hierdie waarheid moet begryp: 1) As jy dink dat God jou gekies het omdat jy goed kan bid, of jou Bybel vir ure aaneen kan lees, of omdat jy ‘n onberispelike karakter het, sal die duiwel jou die oomblik wat jy jou waaksaamheid verslap aanval en vir jou vertel dat jy nie langer deur God aanvaar word nie. 2) Deur jou status voor God te ken, word jy toegelaat om te sê, ‘Selfs al struikel en sukkel ek en kry dit nie altyd reg nie, kan ek enige tyd na God gaan omdat Hy my gekies het.’ Dis kragtig! Dit sal jou denkwyse, jou lewensuitkyk en die vlak van jou selfvertroue verander. Selfs toe hy alles verloor het en soos die varke wat hy moes oppas geruik het, kon die Verlore Seun sê, ‘Ek sal huis toe gaan na my pa toe…’ Wees bly, want God is steeds jou Vader, selfs wanneer jy drooggemaak het. Wees berouvol, keer terug en wy jouself weer aan God toe – jy is ‘gekies en aangestel.’
Sielskos: Jer 31-32; Mark 1:29-34; Ps 72:12-20; Spr 9:7-9