Deur God gekies en aangestel (2)

2018-04-06
Galasiërs 4:5 DB

God het sekere dinge geskeduleer om in sekere seisoene in jou lewe plaas te vind. Soms moet mense hulle lewenstyl aanpas om ‘n onverwagte swangerskap te akkommodeer – maar niemand neem per ongeluk ‘n kind aan nie. Dink daaroor: God het reeds van al jou swakhede geweet, en tog het Hy jou gekies. ‘Christus het gesorg dat ons nou as God se kinders aangeneem word… En omdat julle sy kinders is, is julle ook sy erfgename. Al sy goedheid is nou julle s’n’ (verse 5;7 DB). Jy hoef nooit te wonder of jy jou hemelse Vader kan nader nie, want Hy is altyd gereed om jou te ontvang. Jou sitplek is by sy tafel bespreek. ‘U berei vir my ‘n feesmaal voor die oë van al my vyande…’ (Psalm 23:5 NLV). Dit beteken dat struikelblokke en teenstand jou nie van God se seën kan beroof nie. Om ‘gekies en aangestel’ te wees, is soos om ‘n platinum kredietkaart te hê: jy kry voorkeurbehandeling! Dit beteken egter nie dat jy kan maak soos jy wil nie. Nee, ‘Die Here dissiplineer juis die mense vir wie Hy lief is; Hy tug elkeen wat Hy as sy kind aanneem’ (Hebreërs 12:6 NLV). God se dissipline is nie verwerping nie, dis ‘n bewys van sy liefde! Jy word nie as gevolg van jou ras, gawes, talente, voorkoms of intelligensie gekies en aangestel nie. God het jou gekies omdat Hy lief is vir jou en ‘n spesiale plan vir jou lewe het. Hy sal jou versterk en jou toerus om hierdie plan te vervul. ‘Ek is oortuig dat God die goeie werk wat Hy in julle begin het, sal voortsit totdat Hy dit voltooi…’ (Filippense 1:6 NLV).

Sielskos: Jer 28-30; Mark 1:16-28; Ps 72:1-11; Spr 9:1-6