Lei jou kinders na Christus toe

2018-04-02
Deuteronomium 6:6-7 ABA

Dis nie maklik om ‘n Christen-ouer te wees in ‘n wêreld waar groepsdruk voel of dit jou plat druk nie; waar waardes nie meer saakmaak en waar sedeloosheid hoogty vier nie. Met God se hulp kan jy dit egter doen! Om jou kinders na Christus toe te lei, doen die volgende vyf dinge: 1) Begin wanneer hulle klein is en lees elke aand vir hulle Bybelstories voor. Laat hulle toe om te hoor hoe jy bid dat hulle Jesus persoonlik sal ken en hoe jy Hom aanhoudend bedank dat Hy vir hulle sondes gesterf het. 2) Wanneer jy hulle kerk toe neem, verduidelik aan hulle wat die verskeie rituele en seisoene (die Doop, die Laaste Avondmaal, Paasfees en Kersfees) verteenwoordig en hoekom hulle gevier word. 3) Wees sensitief oor elke geestelike vraag wat hulle vra en neem die tyd om hulle vrae op so ‘n manier te antwoord dat hulle dit sal verstaan. 4) Koop vir hulle Christelike DVD’s en strokiesprente wat die Bybelse waarhede op hulle vlak aan hulle kan verduidelik. 5) Vertrou dat die Heilige Gees jou wysheid op die regte tyd sal gee om die evangelie aan hulle te verduidelik; en bid konstant vir hulle verlossing. Op een geleentheid het D.L. Moody verslag gelewer oor ‘twee-en-‘n-half’ bekerings wat tydens een van sy dienste plaasgevind het. Iemand het opgemerk, ‘Ek veronderstel jy bedoel twee volwassenes en een kind.’ ‘Nee,’ het Moody geantwoord. ‘Ek bedoel twee kinders en een volwassene. Die kinders kan hulle hele lewe aan God gee, maar die volwassene het net ‘n halwe lewe om te gee.’ Onthou, die dinge wat ons die beste leer is die dinge wat ons die meeste hoor. Dus: ‘Julle moet die dinge onthou wat ek vandag vir julle sê en julle moet dit vir julle kinders leer…’

Sielskos: Jer 14-17; Matt 28:11-15; Ps 69:1-18; Spr 8:27-29