Wees lief vir jou kerk (1)
2018-03-26Efesiërs 5:25 NLV
Voor jy jou kerk kritiseer, onthou dat ‘…Christus liefde aan die kerk bewys het toe Hy sy lewe daarvoor gegee het.’ Hy het nie opgegee op sy kerk nie, dus moet jy nie opgee nie! Hou op om so baie oor dit waarvan jy nie hou nie, te praat. As jou kerk perfek was, sou jy uit jou plek gewees het! Noag het nie op die Symphony gevaar nie, hy het op ‘n boot vol diere gevaar. Kan jy jou die geraas en verwarring indink op daardie boot soos dit deur ‘n geweldige storm, groot genoeg om die wêreld te vernietig, gevaar het? En wat van die reuk! Al daardie diere en net een uitlaatklep! Hier is egter die ding – almal in die ark is gered terwyl almal buite die ark verlore gegaan het. Daar is ‘n verhaal van ‘n aristokraat wat oor sy geslagsboom en bloubloed voorvaders gespog het. Geïrriteerd het een van sy luisteraars opgemerk, ‘Ek veronderstel jou voorvaders was saam met Noag aanboord die ark!’ ‘Nee,’ het hy geantwoord, ‘my mense het hulle eie boot gehad.’ Jy mag dalk glimlag, maar daar is net een boot wat veilig in die hemel se hawe gaan aankom en dit is die boot van verlossing. Stink dinge soms in die kerk? Sekerlik. Jesus het vir Petrus, die dissipel wat bestem was om ‘n leier in die kerk te word, hard bestraf: ‘…Gee pad agter My, jou satan! Jy maak dit vir My bitter moeilik. Jy dink soos mense dink – nie soos God nie’ (Matteus 16:23 NLV). Die groot faktor is egter dat wanneer jy foute maak, dieselfde genade wat Petrus herstel het, ook vir jou beskikbaar is. Die woord vir jou vandag is dus: Wees lief vir jou kerk!
Sielskos: Jer 1-3; Matt 27:1-10; Ps 55:1-11; Spr 8:17-18