Hoe om mense te help (3)
2018-03-20Handelinge 3:5 NLV
Jy kan nie iemand help tensy hulle gereed daarvoor is nie. Dit beteken dat jy moet kan onderskei tussen diegene wat oplossings soek en diegene wat net simpatie wil hê. Voor die verlamde man by die tempel sy genesing ontvang het, het hy ‘…toe na hulle [Petrus en Johannes] [gekyk] in die verwagting dat hy ‘n bydrae gaan kry.’ Daar is twee belangrike beginsels hieruit te leer: 1) Aandag. Jy moet eers die persoon se aandag kry. Hoor hulle regtig wat jy sê, of word hulle so deur hulle omstandighede en emosies verblind dat hulle nie ‘n uitweg kan sien nie, selfs al wys jy dit duidelik vir hulle uit? 2) Verwagting. Die effektiefste ding wat jy kan doen om iemand te help, is om hulle geloof te bou. Dit neem geduld. Een leier skryf eerlik oor sy probleem met ongeduld wanneer hy met mense moet werk: ‘Vroeg in my beroep wou ek dinge so vinnig as moontlik doen. As iemand nie teen my spoed beweeg het nie, het ek hulle in die stof agtergelaat. Hierdie leierskapstyl het egter my vermoë om met ander mense te skakel verhinder en my verhoudings het daaronder gelei. Die goeie nuus was dat ek vinnig beweeg het. Die slegte nuus was dat ek dikwels alleen beweeg het. Dit neem uit die aard van die saak energie om by iemand wat vinniger as ons beweeg, by te bly. Maar is dit nie ook uitputtend om teen ‘n stadiger pas as wat ons wil te beweeg nie? Ek vind dit baie frustrerend. Dit beproef my geduld. As ek egter by mense wil inskakel, moet ek gewillig wees om stadiger en teen iemand anders se pas te beweeg.’ Om mense te help, moet jy gewillig wees om dieselfde te doen.
Sielskos: 2 Kon 21-23; Matt 25:24-46; Ps 11; Spr 8:4-5