2018-04-19
Deuteronomium 31:6 NLV
Enige tyd wanneer jy iets vir die eerste keer probeer, of iets waarin jy voorheen misluk het, of iets wat jy dink te groot vir jou is, sal jy beide vrees en geloof ervaar. Hulle gaan hand aan hand. Een sal die ander een oorwin, maar hulle gaan nooit weg nie. Omdat Israel geen idee gehad het watter uitdagings vir hulle voorgelê het nie of hoe die lewe in die Beloofde Land sou wees nie, het God vir hulle gesê, ‘Wees sterk en hou moed!.. Die Here julle God sal met julle wees. Hy sal julle nie in die steek laat nie en julle nie verlaat nie.’ Dis vandag ook sy belofte aan jou! Dis die vrees vir mislukking wat ons die meeste van die tyd terughou. Tog besef jy wanneer jy terugkyk dat mislukking glad nie permanente skade aanrig nie; jy groei inteendeel as gevolg daarvan. Dr Joan Borysenko skryf: ‘Toe ek by Harvard toegelaat is, was ek seker dat dit as gevolg van ‘n rekenaarfout was. ‘n Prokureursvriend van my raak elke keer angsbevange net voor sy die slotargument voor ‘n jurie moet gee. Selfs wanneer jy ‘n kenner is, verdwyn vrees nie noodwendig nie. Dit is wanneer jy vrees as deel van die reis aanvaar, eerder as om daarvan af weg te hardloop, wat dit jou help om dit te oorwin.’ Om enige plek te kom, moet jy êrens begin, anders gaan jy nêrens nie. Die Amerikaanse essayis Hamilton Wright Mabie het gesê, ‘Die vraag wat elke mens moet beantwoord is nie wat hy sal doen as hy die inkomste, tyd, invloed en opvoedkundige voordele gehad het nie, maar wat hy sal doen met die dinge wat hy het.’ Konfronteer dus jou vrees, neem ‘n tree in geloof en vertrou God vir jou sukses.
Sielskos: Hand 6-7; Mark 3:20-27; Ps 75; Spr 10:22-23
2018-04-18
Spreuke 27:21 NLV
Die woord vleier kom van ‘n Franse term wat beteken ‘om te klop, te streel of te liefkoos.’ Dus is ‘n vleier iemand wat jou met een hand op die skouer sal klop en in sommige gevalle met die ander hand jou in die rug sal steek. Vleiery is iets wat ‘n persoon in jou gesig vir jou sal sê, maar nie agter jou rug nie. Dis onopregte lof vanuit ‘n onopregte beweegrede. Die Bybel waarsku ons om daarvoor versigtig te wees: ‘Loop katvoet vir die man wat jou altyd loop en vlei. Hy bedoel dit nie regtig nie. Dit is soos ‘n net wat hy oor jou gooi en waaruit jy nie kan loskom nie’ (Spreuke 29:5 DB). Salomo sê dat jy op die lange duur beter af is met ‘n persoon wat jou kritiseer as ‘n persoon wat jou vlei. ‘Die een wat ander berispe kry op die einde waardering, en nie die persoon wat ander vlei nie’ (Spreuke 28:23 NLV). Wanneer dit by vleiery kom, moet jy altyd hierdie twee dinge in gedagte hou: 1) Prys spaarsamig maar opreg, met slegs die beste vir die ander persoon in gedagte. 2) Ontvang lof met wysheid, sonder om jouself of die persoon wat jou prys te ernstig op te neem. Onthou altyd dat vleiery die wapen is wat Satan teen Adam en Eva in die tuin van Eden ingespan het: ‘…Julle sal dan net soos God alle kennis hê’ (Genesis 3:5 NLV). Dis hoekom Salomo skryf: “‘n Smeltkroes bepaal die gehalte van silwer, die vuuroond bepaal die suiwerheid van goud. ‘n Mens se waarde word bepaal deur wat mense van hom sê.” Die vraag wat jy jouself altyd moet afvra wanneer iemand jou prys is dus: Laat dit my ‘n groter kop, of ‘n groter hart kry?
Sielskos: Hand 3:11-5:42; Mark 3:13-19; Ps 127; Spr 10:19-21
2018-04-17
Filippense 1:29 NLV
Dink aan Getsemane, die tuin waar Jesus self met die wil van God gestoei het. ‘…Neem tog hierdie beker van lyding van My weg…’ (Markus 14:36 NLV). Jesus het geweet dat Hy hierdie beker van lyding tot op die bodem moet drink, maar het sy Vader gevra of Hy dit kon wegneem, of daar ‘n ander manier was. Tog het Hy sy gebed afgesluit met ‘n gebed van oorgawe: ‘…Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geld!’ (Lukas 22:42 NLV). Ons gebede is geneig om meer op eksterne omstandighede as interne houdings te fokus, omdat ons wil hê dat God ons omstandighede, eerder as onsself, moet verander. Dis baie makliker so, maar ons mis die punt heeltemal. Dit is die slegste omstandighede wat dikwels die beste in ons na vore bring. As ons na die groter prentjie kyk en sien dat dit die slegte dinge is wat die beste dinge na vore bring, is dit waar dat die slegte dinge dus eintlik goed is! Dis net wanneer jy getoets word wat jy ‘n getuienis het om met ander mense te deel. Ja, jy kan van jou lyding gered word, maar jy kan nie geestelik volwasse word of toegerus word om ander te dien daarsonder nie. Dit beteken nie dat jy dit bewustelik opsoek nie, maar dit beteken dat jy dit sien vir wat dit is – ‘n geleentheid om God te verheerlik. Paulus, wat baie gely het, skryf, ‘Aan julle is immers die voorreg gegee om… ook… vir Hom te ly.’ Waar het Paulus sy krag vandaan gekry? ‘Ek weet verseker dat ons huidige lyding hoegenaamd nie vergelyk kan word met die heerlikheid waarmee God ons gaan verras nie’ (Romeine 8:18 NLV). Die woord vir jou vandag is dus: Strewe daarna om God in elke omstandigheid van die lewe te verheerlik.
Sielskos: Hand 1:1-3:10; Mark 3:7-12; Ps 43; Spr 10:17-18
2018-04-16
1 Korintiërs 10:31 NLV
Daar is twee ‘wat ook al’ verse in die Skrif. 1) ‘Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie’ (Kolossense 3:23 AFR83). Jou doel in die lewe moet wees om lief te wees vir die werk wat jy doen, en die werk te doen waarvoor jy lief is. Dit is egter nie ‘n realiteit in elke fase van die lewe nie. Soms word jy geroep om ‘n goeie werk te doen vir ‘n minder goeie maatskappy, baas of salaris. Dank God dat jy ‘n werk het waarmee jy aan jou behoeftes kan voldoen, daar is werklose mense wat in ‘n oogwink met jou plekke sou wou ruil. 2) ‘Wat julle ook al eet of drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God.’ Hoe eet en drink jy tot eer van God? Paulus het ons daaglikse rituele gebruik om ‘n allesomvattende punt te maak. Selfs die mees alledaagse aktiwiteite is absoluut wonderbaarlik. Jy neem ongeveer drie-en-twintig duisend asemteue elke dag, maar wanneer laas het jy God vir een van hulle gedank? Ons is geneig om God vir die dinge wat ons asem wegslaan te bedank. Dis goed so, maar dalk moet ons Hom vir elke ander asemteug ook bedank! Die Westminster Kategismus beskryf ‘n doelgerigte lewe as volg: ‘Die mens se hoofdoel is om God te verheerlik en Hom vir altyd te geniet.’ Dit kan nie eenvoudiger of beter gestel word nie. Ons bestaan vir een rede en een rede alleenlik: om God te verheerlik en Hom vir altyd te geniet. Jy is geroepe om dit te doen, maak nie saak in watter omstandighede jy jou bevind nie. Enige manier. Enige plek. Wat ook al. Waar ook al.
Sielskos: Joël 1-3; Mark 3:1-6; Ps 56; Spr 10:14-16
2018-04-15
Jesaja 6:3 NLV
Die onderskeid tussen heilig en wêrelds is ‘n valse verdeling. Alle dinge is deur God en vir God geskep – daar is geen uitsonderings nie. Elke noot musiek, elke kleur op die palet, elke smaak wat jy proe. Arnold Sommerfield, die Duitse fisikus en pianis, het opgemerk dat ‘n enkele waterstof-atoom wat eenhonderd frekwensies uitstraal, meer musikaal is as ‘n klavier wat net sewe-en-tagtig frekwensies uitgee. Elke enkele atoom is dus ‘n unieke uitdrukking van lofprysing. Volgens die komponis Leonard Bernstein is die beste vertaling van Genesis 1:3 nie ‘En God het gesê’ nie, hy glo dat die beter vertaling ‘En God het gesing’ moet wees. Die Almagtige het elke atoom in bestaan in gesing en elke atoom eggo daardie oorspronklike melodie, in drievoudige harmonie deur die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Sensitiewe klankinstrumente het bevind dat erdwurms dowwe staccato geluide maak, terwyl walvisse duisende kilometers onder water gehoor kan word. Lewis Thomas het dit so gestel: ‘As ons beter kon hoor en die wysie van seevoëls kon onderskei, die ritmiese melodie van ‘n skool visse kon aanhoor of selfs die verre harmonie van vlieë wat in die son in die veld rondvlieg kon hoor, sou die gekombineerde klank ons van ons voete afgelig het.’ Een dag sal ons dit alles kan hoor. Oordromme wat verheerlik is, sal die volgende Skrifgedeelte wat vervul word hoor: “Die hele skepping – in die hemel, op die aarde en onder die aarde, op die see en alles wat in hulle bestaan, het ek hoor sê: ‘Aan Hom wat op die troon sit en aan die Lam, kom toe die lofprysing en die eerbetoning, die heerlikheid en die krag vir altyd en altyd'” (Openbaring 5:13 NLV). Maak dit vandag jou doel om God in alles wat jy doen te verheerlik.
Sielskos: Gal 5:22; Luk 2:8-20; Spr 3:13-18; Ps 119:161-168
2018-04-14
2 Tessalonisense 1:12 NLV
Bach het 256 kantates gekomponeer. Die bekendste hiervan is sekerlik Jesu, Joy of Man’s Desiring. Amper 4 eeue later is dit steeds een van die gewildste liedjies waarop bruide by die paadjie afstap. Die rede hiervoor is dat sy musiek jou siel aanraak, omdat hy dit uit sy siel geskryf het. Het jy egter geweet dat sy kantates oorspronklik gebede was voordat dit liedjies geword het? Voordat Bach begin het om ‘n liedjie te komponeer, het hy JJ – Jesu, Juya – aan die bokant van die bladmusiek geskryf. Dit beteken ‘Jesus, help my.’ Aan die onderkant van elke komposisie het hy die letters SDG geskryf, wat staan vir Soli Deo Gloria – ‘alleenlik tot die glorie van God.’ Sy lewe was ‘n unieke uitbeelding van ‘n enkele beweegrede – om God te verheerlik. Jou lewe moet ook so wees. Niemand kan God soos jy verheerlik nie, of dit vir jou doen nie, want jou lewe is ‘n oorspronklike komposisie. Soli Deo Gloria is om vir ‘n gehoor van een te lewe; dis om die regte ding vir die regte rede te doen. Dit is om vir die applous uit hande wat met spykers deurboor is, te lewe. Dis om te verklaar dat Jesus alles vir jou is. Net Jesus. Niks meer nie, niks minder nie, niks anders nie. Paulus stel dit so: ‘Met dit in gedagte bid ons altyd vir julle. Mag ons God julle waardig maak vir die lewe waartoe Hy julle geroep het. Mag Hy elke goeie voorneme en geloofsdaad met krag tot volkome uitvoering bring. So sal die Naam van ons Here Jesus verheerlik word deur wat julle doen. En júlle sal deur Hom verheerlik word op grond van die genade van ons God en die Here Jesus Christus’ (verse 11-12 NLV).
Sielskos: Jer 51-52; Mark 2:23-28; Ps 50:16-23; Spr 10:11-13