2018-04-25
Spreuke 6:9 NLV
Die luiaard doen nooit vandag wat hy tot môre kan uitstel nie en hy doen nooit môre wat hy vir ewig kan afstel nie. Sy gunsteling werksdag is môre. Dis hoekom God vra, ‘Jou luiaard, hoe lank gaan jy nog lê en slaap?..’ As iemand in staat is om te werk en daar werk beskikbaar is, mag jy dalk met ‘n luiaard praat wanneer jy aanhoudend vra, ‘Hoe lank gaan jy tussen werke wees?’ Of, ‘Wanneer gaan jy ‘n werk soek?’ Daar is ‘n verhaal van ‘n universiteitstudent wat moes besluit of hy gaan studeer of nie. Hy het ‘n munstuk gevat, dit in die lug opgeskiet en gesê, ‘As dit kop is gaan ek fliek. Stert, gaan ek televisie kyk. En as die muntstuk op sy sy te staan kom, gaan ek studeer!’ Sommige luiaards is inderwaarheid selfs te lui om ‘n muntstuk op te skiet! Die luiaard is ‘n persoon wat altyd oppad is om die werk te doen, maar nooit daarby uitkom nie. Ouers, leer julle kinders dat dit net so belangrik is om ‘n werk te begin as om dit klaar te maak. ‘n Kind se gunsteling reaksie op ‘n bevel is dikwels, ‘Ek sal dit nou-nou doen.’ Moenie dit aanvaar nie, anders gaan jy nog lank daarvoor betaal. Leer jou kinders dat ‘nou,’ nou dadelik beteken en dat ‘klaar’ beteken dat jy nie die televisie aanskakel totdat die werk gedoen is nie. Dis ‘n belangrike waarheid want, soos een leier gesê het, ‘As jy doen wat jy moet doen, wanneer jy dit moet doen, dan kan jy doen wat jy wil doen, wanneer jy dit wil doen.’
Sielskos: Hand 16-17; Mark 4:30-34; Ps 7:1-9; Spr 11:3-6
2018-04-24
Spreuke 6:6 NLV
Wat is ‘n luiaard presies? Robert Hicks sê, ‘Om te voel dat ons geregtig is op dinge, sonder om die nodige werk te doen om dit te bekom, maak ons ‘n samelewing van luiaards.’ Daar is een ding waarvan jy nooit die luiaard sal kan oortuig nie: dat hy ‘n luiaard is. ‘Die luiaard dink hy weet meer as sewe ander mense wat goeie antwoorde kan gee’ (Spreuke 26:16 NLV). Selfs al sê sewe wyse manne vir hom hy is lui, sal hy dit nie erken nie. Jy kan met ‘n luiaard gesels, maar jy kan nie veel vir hom sê nie. ‘Die begeertes van ‘n lui mens lei na sy dood. Hy weier om sy hande uit sy moue te steek’ (Spreuke 21:25 NLV). ‘n Luiaard se gunsteling woord is ‘eendag.’ ‘Eendag gaan ek die boerpot wen.’ Of, ‘Eendag gaan ek my eie besigheid besit.’ Of, ‘Eendag gaan ek…’ (Jy kan die spasie invul)! Hy of sy het altyd ‘n verskoning hoekom hulle nie kan werk nie. Dis is die betekenis van Salomo se stelling: “‘n Luiaard se pad is met dorings besaai. ‘n Opregte mens se pad is gelyk” (Spreuke 15:19 NLV). Wanneer die luiaard by die voordeur van die lewe uitkyk, sien hy nie ‘n snelweg van geleenthede nie, hy sien net een groot doringbos. Benjamin Franklin was reg toe hy gesê het, ‘Ek het nog nooit ‘n man teëgekom wat goed is met enige iets anders, as hy goed is met verskonings maak nie.’ Die luiaard sal eerder verskonings maak as om ‘n lewe vir homself te maak. Die woord vir jou vandag is dus: Moenie ‘n luiaard wees nie!
Sielskos: Hand 14-15; Mark 4:21-29; Ps 16; Spr 11:1-2
2018-04-23
2 Petrus 3:18 AFR83
Elke dag sal jy geleenthede kry om in genade toe te neem. Jy moet altyd oop en ontvanklik vir hulle wees. ‘n Ouma wat haar vyftigste huweliksherdenking gevier het, het die geheim van haar lang en gelukkige verhouding gedeel: “Op my troudag het ek besluit dat ek ‘n lys van tien van my man se foute sou maak, wat ek ter wille van ons huwelik sou oorsien. Ek het op die ou einde van die dag nooit die lys gemaak nie. Elke keer wat hy egter iets gedoen het waarvan ek nie gehou het nie, het ek vir myself gesê, ‘Gelukkig vir hom is dit een van die tien!'” Dis nou vir jou ‘n wyse dame! Fisiese intimiteit is iets wat ons bymekaar bring, maar om saam in genade te groei sal ons bymekaar hou. Wanneer iemand jou dus ontstel, in plaas van om met kwaai woorde of ‘n kwaai stilte te reageer, herinner jouself daaraan dat God jou nog ‘n geleentheid gee om in genade te groei. As jy nie te goed doen met sommige van die geleenthede wat Hy stuur nie, moenie bekommerd wees nie, Hy sal aanhou om nog geleenthede te stuur tot jy dit regkry! Wrewel is een van die duurste luukshede wat jy kan geniet. ‘n Diep-gesetelde wrok vreet aan jou gemoedsvrede soos ‘n dodelike kanker ‘n orgaan verwoes. Daar is inderdaad min dinge so hartseer soos ‘n persoon wat ‘n wrok jare lank vertroetel. Sonder vergifnis, word die lewe ‘n eindelose siklus van gebelgdheid en vergelding. Een van die geheime van ‘n lang en vrugdraende lewe is om almal en alles elke aand voor jy bed toe gaan te vergewe. Dis die sleutel tot persoonlike vrede. Raak dus ernstig daaroor om, soos die Bybel ons vermaan, in genade toe te neem.
Sielskos: Hand 12-13; Mark 4:10-20; Ps 103:13-22; Spr 10:30-32
2018-04-22
Lukas 7:44 NLV
Lukas skryf: “En kyk, ‘n sekere vrou van losse sedes het gehoor dat Hy daar is en het ‘n albaste fles met duur aromatiese olie gebring. Sy het agter Jesus gekniel, by sy voete, en gehuil. Haar trane het op sy voete geval en sy het dit met haar hare afgevee. Sy het sy voete bly soen en die aromatiese olie daaraan gesmeer. Toe die Fariseër, wat die gasheer was, sien wat gebeur en wie die vrou is, het hy vir homself gesê: ‘Dit bewys dat Jesus geen profeet is nie. As God hom werklik gestuur het, sou hy geweet het watter soort vrou hom aanraak. Sy is ‘n sondaar!'” (verse 37-39 NLV). Hierdie toneel het in Simon, ‘n godsdienstige leier wat meer besorg oor ‘reg en verkeerd’ as die seer van mense was, se huis afgespeel. Hy mag dalk teologies korrek gewees het, maar hy het medelye gekort. Jesus het hom daaroor gekonfronteer! ‘Hy het toe na die vrou gedraai en vir Simon gesê: ‘Kyk na hierdie vrou’…’ Simon het haar as ‘n prostituut en verloorder gesien, maar nie Jesus nie. Hy het op die geskenk wat sy gebring het en die hart van liefde daaragter, gereageer. Toe Hy haar toekomstige potensiaal vir God se koninkryk bepaal het, het hy nie na haar sondige verlede gekyk of eers melding daarvan gemaak nie. Hy het haar trane gesien, haar behoefte verstaan en die godsdienstige skare geskok deur te sê, ‘…Jou sondes is vergewe’ (vers 48 NLV). Wees versigtig: Wanneer jy al ‘n geruime tyd in die kerk is en vergeet het hoe dit voel om aan die buitekant te staan, kan jou hart verhard word en kan jy versuim om God se liefde aan diegene wat dit nodig het, te bewys.
Sielskos: Gal 5:22; 2 Pet 3:3-15; Matt 5:39; 1 Sam 25:1-42
2018-04-21
Efesiërs 3:8 NLV
Eendag het die Fariseërs ‘n vrou gevang wat egbreuk gepleeg het. Die wet van Moses was duidelik; sy moes gestenig word. Die Fariseërs was reg om dit te doen. Hierdie vrou het seker gedink dat Jesus sou saamstem. Skielik het Jesus egter gebuk en in die sand begin skryf. Sommige geleerdes dink dat Hy miskien die Fariseërs se sondes neergeskryf het, kompleet met tye en plekke. Toe Hy opkyk, was die vrou se aanklaers weg. Hy het vir haar gesê, ‘…Ook Ek veroordeel jou nie. Gaan maar, en moet van nou af nie meer sonde doen nie’ (Johannes 8:11 NLV). Daardie dag het Jesus haar van ‘n plek van onmiskenbare skuld na ‘n plek van onvoorwaardelike kwytskelding verhoog. Sy het dit nie verdien nie; sy het nie eers geweet dat dit moontlik was nie. Dis jou verhaal ook, nie waar nie? Eendag het Abraham Lincoln toegekyk hoe die eienaar van ‘n plantasie vir ‘n slawemeisie bie. Lincoln het gedink dat die eienaar die meisie sou koop en haar mishandel, dus het Lincoln die prys betaal sodat sy kon vrygaan. ‘Beteken dit dat ek kan gaan waar ek wil?’ het sy gevra. Lincoln het geantwoord, ‘Ja, jy is vry!’ Met trane wat oor haar wange stroom het sy gesê, ‘Dan, Meneer, sal ek saam met jou gaan.’ Die woord ‘genade’ is so belangrik dat Paulus dit drie keer meer as enige ander skrywer noem. Met sy vroeër gewelddadige lewe in gedagte, skryf hy ‘Aan my, die heel onbelangrikste van al God se mense, is hierdie onverdiende goedheid gegee…’ Die woord ‘genade’ kom van die Griekse woord charis, wat ‘pure vreugde’ beteken. Alhoewel jy dit nie verdien nie, sien God jou redding as ‘pure vreugde.’
Sielskos: Hand 10-11; Mark 4:1-9; Ps 103:1-12; Spr 10:27-29
2018-04-20
Deuteronomium 29:29 NLV
Die Bybel sê: ‘Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie’ (Spreuke 3:5 NLV). Hierdie Skrifgedeelte is maklik om aan te haal, maar moeilik om volgens te lewe, veral wanneer ons lewens deur tragedie aangeraak word en ons nie die redes daaragter verstaan nie. Daar is tye wat ons bid en God vir ons antwoorde gee en daar is tye wat ons bid en Hy vir ons vrede gee. ‘…Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. As julle so bid, sal julle God se vrede beleef. Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink. Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (Filippense 4:6-7 NLV). In tye van pyn en verlies, is daar twee Skrifgedeeltes waarop jy kan staan: 1) ‘Die geheime dinge is vir die Here ons God. Die dinge wat geopenbaar is, vir ons en ons nageslag…’ Wanneer dit by die verstaan van dinge kom, het ons ons gebied en God het syne. Ons s’n is beperk tot wat Hy besluit Hy aan ons wil openbaar. Paulus, wat die helfte van die Nuwe Testament deur goddelike openbaring geskryf het, erken, ‘Ons ken maar net ten dele…’ (1 Korintiërs 13:9 NLV). 2) ‘En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe’ (Romeine 8:28 NLV). Wanneer jy dus in die versoeking kom om jou hande in wanhoop op te gooi en te sê, ‘Wie weet?’ herinner jouself, ‘God weet!’ Herinner jouself vandag daaraan dat Hy dinge ten goede vir jou en vir sy heerlikheid laat uitwerk.
Sielskos: Hand 8-9; Mark 3:28-35; Ps 130; Spr 10:24-26