Wees dankbaar vir God se genade
2018-04-21Efesiërs 3:8 NLV
Eendag het die Fariseërs ‘n vrou gevang wat egbreuk gepleeg het. Die wet van Moses was duidelik; sy moes gestenig word. Die Fariseërs was reg om dit te doen. Hierdie vrou het seker gedink dat Jesus sou saamstem. Skielik het Jesus egter gebuk en in die sand begin skryf. Sommige geleerdes dink dat Hy miskien die Fariseërs se sondes neergeskryf het, kompleet met tye en plekke. Toe Hy opkyk, was die vrou se aanklaers weg. Hy het vir haar gesê, ‘…Ook Ek veroordeel jou nie. Gaan maar, en moet van nou af nie meer sonde doen nie’ (Johannes 8:11 NLV). Daardie dag het Jesus haar van ‘n plek van onmiskenbare skuld na ‘n plek van onvoorwaardelike kwytskelding verhoog. Sy het dit nie verdien nie; sy het nie eers geweet dat dit moontlik was nie. Dis jou verhaal ook, nie waar nie? Eendag het Abraham Lincoln toegekyk hoe die eienaar van ‘n plantasie vir ‘n slawemeisie bie. Lincoln het gedink dat die eienaar die meisie sou koop en haar mishandel, dus het Lincoln die prys betaal sodat sy kon vrygaan. ‘Beteken dit dat ek kan gaan waar ek wil?’ het sy gevra. Lincoln het geantwoord, ‘Ja, jy is vry!’ Met trane wat oor haar wange stroom het sy gesê, ‘Dan, Meneer, sal ek saam met jou gaan.’ Die woord ‘genade’ is so belangrik dat Paulus dit drie keer meer as enige ander skrywer noem. Met sy vroeër gewelddadige lewe in gedagte, skryf hy ‘Aan my, die heel onbelangrikste van al God se mense, is hierdie onverdiende goedheid gegee…’ Die woord ‘genade’ kom van die Griekse woord charis, wat ‘pure vreugde’ beteken. Alhoewel jy dit nie verdien nie, sien God jou redding as ‘pure vreugde.’
Sielskos: Hand 10-11; Mark 4:1-9; Ps 103:1-12; Spr 10:27-29