2018-05-01
1 Kronieke 4:10 ABA
In die boek 1 Kronieke vertel die Bybel ons van ‘n man genaamd Jabes. Die eerste nege hoofstukke bestaan uit geslagsregisters met meer as seshonderd name. Uit al daardie name, sonder God een man vir spesiale erkenning uit – ‘n man genaamd Jabes. Daar is net twee verse in die hele Bybel oor hierdie man, en tog word hy bo seshonderd ander mense genoem. Hoekom het God hom uitgesonder? Wat het Jabes gedoen dat sy naam vir meer as vierduisend jaar behoue gebly het? Wat het hom bogemiddeld gemaak? Kom ons kyk vir die volgende paar dae wat ons van hom kan leer. ‘Jabes was meer geëerd as sy broers…’ (vers 9 NLV). Wat het hom uitgesonder? Hy het dit gewaag om God vir groot dinge te vra: ‘Jabes het tot die God van Israel gebid en gesê: ‘Ek bid dat U my baie sal seën en dat U baie grond vir my sal gee. Ek bid dat U my sal beskerm, sodat dit nie sleg sal gaan met my nie en sodat ek nie sal seerkry nie.’ God het alles laat gebeur wat Jabes gevra het’ (vers 10 ABA). God wil hê dat jy Hom vir groot dinge moet vra! Hy het vir Jeremia gesê, ‘Vra my, en Ek sal jou ‘n antwoord gee. Ek sal jou van ongelooflike dinge vertel…’ (Jeremia 33:3 NLV). Paulus sê vir ons dat God ‘…mag het om deur die krag wat in ons werk, oneindig meer te doen as wat ons vra of dink om te vra’ (Efesiërs 3:20 NLV). Jy kan nie meer vra of groter droom as wat God kan gee nie, vra dus vir Hom wat jy wil hê – en glo dat Hy dit vir jou sal gee!
Sielskos: Hand 27-28; Mark 5:31-43; Ps 94:12-23; Spr 11:16-18
2018-04-30
Deuteronomium 28:8 NLV
Elke roeping, maak nie saak wat dit is nie, is ‘n roeping van God. Sodra jy jou werk in hierdie lig begin sien, sal jy dit makliker vind om te glo dat God jou in jou werk wil seën. Met dit in gedagte, moet jy: 1) Werk nastreef wat met jou gawes versoenbaar is. ‘…Het jy die gawe ontvang om ander te dien? Doen dit met die krag en energie wat Gód gee. Só moet God verheerlik word…’ (1 Petrus 4:11 NLV) 2) Leer alles moontlik oor jou werk. ‘Selfs hulle wat wys is, kan luister… sodat hulle tot dieper insig kan kom…’ (Spreuke 1:5 NLV). 3) Herken God as jou ware werkgewer. ‘Doen julle werk entoesiasties, asof julle dit vir die Here doen en nie vir mense nie. Julle weet mos dat die Here elke mens wat sy werk goed doen, sal beloon…’ (Efesiërs 6:7-8 NLV). 4) Sien werk as God se gawe, nie as straf nie. ‘…Dit is goed dat mense… hulle werk geniet… en die vermoë om dit te geniet, is… ook ‘n geskenk uit sy hand’ (Prediker 5:17-18 NLV). 5) Gebruik kritiek tot jou voordeel. Laat dit vir jou werk. Vra vir voorstelle en korreksie. ‘Hy wat hom nie wil laat reghelp nie, beland in armoede en vernedering. Hy wat ‘n teregwysing ter harte neem, ontvang eer’ (Spreuke 13:18 NLV). 6) Doen meer as wat van jou verwag word. ‘As ‘n soldaat jou dwing om sy goed een kilometer te dra, dra dit vir hom twee kilometer ver’ (Matteus 5:41 NLV). 7) Sien God as jou vennoot by die werk. Bly dwarsdeur die dag van Christus bewus soos jy jou take voltooi, en ‘Die Here sal jou seën in alles wat jy doen…’
Sielskos: Hand 24-26; Mark 5:21-30; Ps 94:1-11; Spr 11:14-15
2018-04-29
1 Korintiërs 9:27 NLV
Paulus skryf: ‘Onthou, daar hardloop baie atlete op die baan, maar net een ontvang die prys. Hardloop só dat julle die prys sal ontvang. Al die deelnemers pas absolute selfdissipline toe. Húlle doen dit om ‘n prys te wen wat gou sal vergaan. Maar óns doen dit vir ‘n ewige prys. Daarom pyl ek reguit op die wenpaal af, doelgerig met elke tree wat ek gee. Ek is soos ‘n bokser wat met elke hou tref. Ek brei my liggaam en dissiplineer dit om werklik bruikbaar te wees. Ek wil tog nie, terwyl ek vir ander gepreek het, self deur God gediskwalifiseer word nie’ (verse 24-27 NLV). Tensy jy beheer van jou lewe neem, sal jy altyd met die wete lewe dat jy nie aan jouself behoort nie. Jy behoort aan wie of wat ook al jou beheer. Om te verbeter, moet jy probeer om hierdie drie dinge altyd voor oë te hou: 1) Lees. Dawid het gesê, ‘Hoe lief het ek u gebooie! Ek oordink dit die hele dag’ (Psalm 119:97 NLV). Dissiplineer jouself om elke dag iets te lees wat jou geestelik, emosioneel, verhoudingsgewys en beroepsgewys sal help. Plaas jou Bybel bo-aan die lysie van dit wat jy wil lees. 2) Belonings. Die skrywer Mike Delaney het opgemerk, ‘Enige besigheid of industrie wat die luiaards en die ywerige werkers ewe veel beloon, sal vind dat hulle kort voor lank met meer luiaards as ywerige werkers sit.’ 3) Resultate. Die volgende keer wat jy voor ‘n taak te staan kom en aan dit wat gemaklik is om te doen eerder as wat reg is dink, verander jou fokus. Tel die voordele daaraan verbonde om te doen wat reg is en begin met die taak. Moenie op die werk fokus nie, fokus op die resultate.
Sielskos: Gal 5:22; Luk 10:25-37; Ef 4:31-32; Spr 2:4
2018-04-28
Spreuke 17:27 NLV
Dis nie genoeg om die regte antwoorde te hê nie; jy het die regte benadering nodig. Goeie idees en raad word gemors wanneer jy dit by mense se kele afdruk. Wysheid beteken om die regte ding, op die regte tyd, op die regte manier te sê. ‘Iemand wat kennis het, praat nie baie nie. Iemand met insig bly kalm.’ Jou pogings om iemand te help verander sal misluk, of erger, hulle wegstoot, tensy jy hulle met liefde en nederigheid benader. Die meeste mense weet reeds wat hulle probleem is. Die kans is goed dat hulle al ‘n rukkie daarmee worstel en diep binne-in hulle wil hulle beter doen. ‘Mooi woorde is soos heuning; dit is goed vir die gees en bevorderlik vir sy lewe’ (Spreuke 16:24 NLV). Jesus het gesê, ‘en julle sal begryp wat die waarheid beteken, en die waarheid sal julle vrymaak’ (Johannes 8:32 NLV). As mense dus nie die waarheid op die manier wat jy dit deel wil aanvaar nie, is die probleem dalk deels joune. Die voormalige Amerikaanse Senaat Kapelaan, Richard Halverson, skryf: ‘Jy kan jou idees aan mense as koeëls of as sade aanbied. Jy kan hulle skiet of hulle saai. Idees wat as koeëls gebruik word maak inspirasie en motivering dood. Idees wat as sade gebruik word skiet wortel, groei en dra vrugte in die lewe waarin hulle geplant is. Daar is egter ‘n risiko hieraan verbonde: Sodra dit deel word van die persoon waarin dit geplant is, sal jy waarskynlik geen krediet vir jou oorspronklike idee kry nie. As jy egter gewillig is om sonder die krediet klaar te kom, sal jy ‘n groot oes hê.’ Die woord vir jou vandag is dus: Kies die regte benadering.
Sielskos: Hand 22-23; Mark 5:11-20; Ps 144:9-15; Spr 11:12-13
2018-04-27
Spreuke 24:30 NLV
Dis beter om hande te kort as om ‘n luiaard in diens te neem; beter om niemand te hê nie eerder as ‘n lui persoon. Klaarblyklik het Salomo met ‘n paar luiaards op sy betaalstaat gesukkel: “‘n Lui mens… is soos asyn tussen die tande, of soos rook in die oë” (Spreuke 10:26 NLV). Jy weet hoe aaklig asyn is wanneer jy dit net so skoon drink, of hoe irriterend rook is as dit in jou oë kom! Dis hoe irriterend ‘n lui persoon is vir die een wat hom in diens neem. Wat hy ook al doen neem twee keer so lank om klaar te maak en sal oorgedoen moet word of weggegooi moet word – teen dubbel die koste. Sy teenwoordigheid by die werk is erger as sy afwesigheid. Hy vermors sy eie hulpbronne, sowel as almal anders s’n. ‘n Tragiese prent word in Spreuke 24:30-31 geskets: ‘Ek het by ‘n lui mens se landerye verbygeloop. Die wingerd was die eiendom van ‘n onverstandige mens. Onkruid het dit heeltemal ingeneem. Dit was toegegroei onder bossies. Sy klipmuur het omgeval.’ Laat ons egter duidelik wees: Ons moet medelye bewys aan diegene wat as gevolg van regte redes swaarkry. Hulle het ‘n hand wat hulle ophelp nodig. Hulle het meer as kos en klere nodig; hulle kort ‘n doel, waardigheid en self-waarde. Dit is wat God wil hê ons vir hulle moet gee. Abraham Lincoln was nie suksesvol omdat hy in ‘n houthut gebore is nie, hy was suksesvol omdat hy daar uit gekom het. Die kanse is goed dat jy nie in die Withuis sal opeindig nie, maar tensy jy in die armhuis wil opeindig, moenie ‘n luiaard wees nie!
Sielskos: Hand 20-21; Mark 5:1-10; Ps 144:1-8; Spr 11:10-11
2018-04-26
Spreuke 20:4 NLV
Die luiaard sien elke struikelblok as ‘n geleentheid. Alhoewel hy nie ‘n werk kan behou nie, is daar altyd ‘n goeie verskoning daarvoor. Die ure is te veel, die salaris is te min, die werk is te moeilik, die mense is te veeleisend. Moenie bekommerd wees nie, as jy nie van hierdie verskonings hou nie, het die luiaard nog baie ander om te gee. Het jy al van die leeu gehoor? Salomo skryf, “‘Daar is ‘n leeu daarbuite!’ sê die luiaard. ‘Ek sal gevang word as ek dit buite waag!'” (Spreuke 22:13 NLV). Thomas Edison, die toonbeeld van ‘n goeie werker en die teenoorgestelde van ‘n luiaard, het gesê, ‘Geleenthede word deur die meeste mense gemis omdat dit altyd in werksklere te voorskyn kom en na werk lyk.’ ‘n Luiaard is nooit sonder ‘n verskoning nie. Dit is altyd te warm of te koud, te nat of te droog om te werk. “‘n Luiaard ploeg nie wanneer dit saaityd is nie…” As luiaards net hulself seergemaak het sou dit een ding gewees het, maar hulle maak almal anders ook seer. ‘Iemand wat lui is in sy werk, is die tweelingbroer van die verwoester’ (Spreuke 18:9 NLV). Chuck Swindoll sê: ‘Die woord ‘verwoes’ pols van aanspreeklikheid. ‘n Lui werker hou nie net die maatskappy terug nie; hy verwoes die motivering en dryfkrag daarvan. ‘n Lui speler verswak nie net die span nie, hy verwoes hulle gees en verminder hulle begeerte om te wen. ‘n Lui pastoor beperk nie net ‘n gemeente nie, hy verwoes hulle entoesiasme, hulle passie om siele te wen en aan behoeftes te voldoen. Kort voor lank moet almal anders meer doen om vir die luiaard se negatiewe invloed te vergoed.’ Dus is die woord van vandag vir jou weer: Moenie ‘n luiaard wees nie!
Sielskos: Hand 18-19; Mark 4:35-41; Ps 7:10-17; Spr 11:7-9