Jabes (1)

2018-05-01
1 Kronieke 4:10 ABA

In die boek 1 Kronieke vertel die Bybel ons van ‘n man genaamd Jabes. Die eerste nege hoofstukke bestaan uit geslagsregisters met meer as seshonderd name. Uit al daardie name, sonder God een man vir spesiale erkenning uit – ‘n man genaamd Jabes. Daar is net twee verse in die hele Bybel oor hierdie man, en tog word hy bo seshonderd ander mense genoem. Hoekom het God hom uitgesonder? Wat het Jabes gedoen dat sy naam vir meer as vierduisend jaar behoue gebly het? Wat het hom bogemiddeld gemaak? Kom ons kyk vir die volgende paar dae wat ons van hom kan leer. ‘Jabes was meer geëerd as sy broers…’ (vers 9 NLV). Wat het hom uitgesonder? Hy het dit gewaag om God vir groot dinge te vra: ‘Jabes het tot die God van Israel gebid en gesê: ‘Ek bid dat U my baie sal seën en dat U baie grond vir my sal gee. Ek bid dat U my sal beskerm, sodat dit nie sleg sal gaan met my nie en sodat ek nie sal seerkry nie.’ God het alles laat gebeur wat Jabes gevra het’ (vers 10 ABA). God wil hê dat jy Hom vir groot dinge moet vra! Hy het vir Jeremia gesê, ‘Vra my, en Ek sal jou ‘n antwoord gee. Ek sal jou van ongelooflike dinge vertel…’ (Jeremia 33:3 NLV). Paulus sê vir ons dat God ‘…mag het om deur die krag wat in ons werk, oneindig meer te doen as wat ons vra of dink om te vra’ (Efesiërs 3:20 NLV). Jy kan nie meer vra of groter droom as wat God kan gee nie, vra dus vir Hom wat jy wil hê – en glo dat Hy dit vir jou sal gee!

Sielskos: Hand 27-28; Mark 5:31-43; Ps 94:12-23; Spr 11:16-18