Moenie ‘n luiaard wees nie (3)

2018-04-26
Spreuke 20:4 NLV

Die luiaard sien elke struikelblok as ‘n geleentheid. Alhoewel hy nie ‘n werk kan behou nie, is daar altyd ‘n goeie verskoning daarvoor. Die ure is te veel, die salaris is te min, die werk is te moeilik, die mense is te veeleisend. Moenie bekommerd wees nie, as jy nie van hierdie verskonings hou nie, het die luiaard nog baie ander om te gee. Het jy al van die leeu gehoor? Salomo skryf, “‘Daar is ‘n leeu daarbuite!’ sê die luiaard. ‘Ek sal gevang word as ek dit buite waag!'” (Spreuke 22:13 NLV). Thomas Edison, die toonbeeld van ‘n goeie werker en die teenoorgestelde van ‘n luiaard, het gesê, ‘Geleenthede word deur die meeste mense gemis omdat dit altyd in werksklere te voorskyn kom en na werk lyk.’ ‘n Luiaard is nooit sonder ‘n verskoning nie. Dit is altyd te warm of te koud, te nat of te droog om te werk. “‘n Luiaard ploeg nie wanneer dit saaityd is nie…” As luiaards net hulself seergemaak het sou dit een ding gewees het, maar hulle maak almal anders ook seer. ‘Iemand wat lui is in sy werk, is die tweelingbroer van die verwoester’ (Spreuke 18:9 NLV). Chuck Swindoll sê: ‘Die woord ‘verwoes’ pols van aanspreeklikheid. ‘n Lui werker hou nie net die maatskappy terug nie; hy verwoes die motivering en dryfkrag daarvan. ‘n Lui speler verswak nie net die span nie, hy verwoes hulle gees en verminder hulle begeerte om te wen. ‘n Lui pastoor beperk nie net ‘n gemeente nie, hy verwoes hulle entoesiasme, hulle passie om siele te wen en aan behoeftes te voldoen. Kort voor lank moet almal anders meer doen om vir die luiaard se negatiewe invloed te vergoed.’ Dus is die woord van vandag vir jou weer: Moenie ‘n luiaard wees nie!

Sielskos: Hand 18-19; Mark 4:35-41; Ps 7:10-17; Spr 11:7-9