Groei jou genade?
2018-04-232 Petrus 3:18 AFR83
Elke dag sal jy geleenthede kry om in genade toe te neem. Jy moet altyd oop en ontvanklik vir hulle wees. ‘n Ouma wat haar vyftigste huweliksherdenking gevier het, het die geheim van haar lang en gelukkige verhouding gedeel: “Op my troudag het ek besluit dat ek ‘n lys van tien van my man se foute sou maak, wat ek ter wille van ons huwelik sou oorsien. Ek het op die ou einde van die dag nooit die lys gemaak nie. Elke keer wat hy egter iets gedoen het waarvan ek nie gehou het nie, het ek vir myself gesĂȘ, ‘Gelukkig vir hom is dit een van die tien!'” Dis nou vir jou ‘n wyse dame! Fisiese intimiteit is iets wat ons bymekaar bring, maar om saam in genade te groei sal ons bymekaar hou. Wanneer iemand jou dus ontstel, in plaas van om met kwaai woorde of ‘n kwaai stilte te reageer, herinner jouself daaraan dat God jou nog ‘n geleentheid gee om in genade te groei. As jy nie te goed doen met sommige van die geleenthede wat Hy stuur nie, moenie bekommerd wees nie, Hy sal aanhou om nog geleenthede te stuur tot jy dit regkry! Wrewel is een van die duurste luukshede wat jy kan geniet. ‘n Diep-gesetelde wrok vreet aan jou gemoedsvrede soos ‘n dodelike kanker ‘n orgaan verwoes. Daar is inderdaad min dinge so hartseer soos ‘n persoon wat ‘n wrok jare lank vertroetel. Sonder vergifnis, word die lewe ‘n eindelose siklus van gebelgdheid en vergelding. Een van die geheime van ‘n lang en vrugdraende lewe is om almal en alles elke aand voor jy bed toe gaan te vergewe. Dis die sleutel tot persoonlike vrede. Raak dus ernstig daaroor om, soos die Bybel ons vermaan, in genade toe te neem.
Sielskos: Hand 12-13; Mark 4:10-20; Ps 103:13-22; Spr 10:30-32