Wanneer jy vrees en geloof ervaar

2018-04-19
Deuteronomium 31:6 NLV

Enige tyd wanneer jy iets vir die eerste keer probeer, of iets waarin jy voorheen misluk het, of iets wat jy dink te groot vir jou is, sal jy beide vrees en geloof ervaar. Hulle gaan hand aan hand. Een sal die ander een oorwin, maar hulle gaan nooit weg nie. Omdat Israel geen idee gehad het watter uitdagings vir hulle voorgelê het nie of hoe die lewe in die Beloofde Land sou wees nie, het God vir hulle gesê, ‘Wees sterk en hou moed!.. Die Here julle God sal met julle wees. Hy sal julle nie in die steek laat nie en julle nie verlaat nie.’ Dis vandag ook sy belofte aan jou! Dis die vrees vir mislukking wat ons die meeste van die tyd terughou. Tog besef jy wanneer jy terugkyk dat mislukking glad nie permanente skade aanrig nie; jy groei inteendeel as gevolg daarvan. Dr Joan Borysenko skryf: ‘Toe ek by Harvard toegelaat is, was ek seker dat dit as gevolg van ‘n rekenaarfout was. ‘n Prokureursvriend van my raak elke keer angsbevange net voor sy die slotargument voor ‘n jurie moet gee. Selfs wanneer jy ‘n kenner is, verdwyn vrees nie noodwendig nie. Dit is wanneer jy vrees as deel van die reis aanvaar, eerder as om daarvan af weg te hardloop, wat dit jou help om dit te oorwin.’ Om enige plek te kom, moet jy êrens begin, anders gaan jy nêrens nie. Die Amerikaanse essayis Hamilton Wright Mabie het gesê, ‘Die vraag wat elke mens moet beantwoord is nie wat hy sal doen as hy die inkomste, tyd, invloed en opvoedkundige voordele gehad het nie, maar wat hy sal doen met die dinge wat hy het.’ Konfronteer dus jou vrees, neem ‘n tree in geloof en vertrou God vir jou sukses.

Sielskos: Hand 6-7; Mark 3:20-27; Ps 75; Spr 10:22-23