Strewe daarna om God te verheerlik (3)

2018-04-16
1 Korintiërs 10:31 NLV

Daar is twee ‘wat ook al’ verse in die Skrif. 1) ‘Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie’ (Kolossense 3:23 AFR83). Jou doel in die lewe moet wees om lief te wees vir die werk wat jy doen, en die werk te doen waarvoor jy lief is. Dit is egter nie ‘n realiteit in elke fase van die lewe nie. Soms word jy geroep om ‘n goeie werk te doen vir ‘n minder goeie maatskappy, baas of salaris. Dank God dat jy ‘n werk het waarmee jy aan jou behoeftes kan voldoen, daar is werklose mense wat in ‘n oogwink met jou plekke sou wou ruil. 2) ‘Wat julle ook al eet of drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God.’ Hoe eet en drink jy tot eer van God? Paulus het ons daaglikse rituele gebruik om ‘n allesomvattende punt te maak. Selfs die mees alledaagse aktiwiteite is absoluut wonderbaarlik. Jy neem ongeveer drie-en-twintig duisend asemteue elke dag, maar wanneer laas het jy God vir een van hulle gedank? Ons is geneig om God vir die dinge wat ons asem wegslaan te bedank. Dis goed so, maar dalk moet ons Hom vir elke ander asemteug ook bedank! Die Westminster Kategismus beskryf ‘n doelgerigte lewe as volg: ‘Die mens se hoofdoel is om God te verheerlik en Hom vir altyd te geniet.’ Dit kan nie eenvoudiger of beter gestel word nie. Ons bestaan vir een rede en een rede alleenlik: om God te verheerlik en Hom vir altyd te geniet. Jy is geroepe om dit te doen, maak nie saak in watter omstandighede jy jou bevind nie. Enige manier. Enige plek. Wat ook al. Waar ook al.

Sielskos: Joël 1-3; Mark 3:1-6; Ps 56; Spr 10:14-16