2018-06-05
Spreuke 13:12 NLV
Kom ons kyk vir die volgende paar dae na van ons algemeenste begeertes. Materiële begeertes: Lydia was ‘n besigheidsvrou wat in wolmateriaal gehandel het (sien Handelinge 16:14). Sy was een van Paulus se eerste bekeerlinge. Kan jy dink wat dit van ‘n vrou geverg het om in so ‘n patriargale samelewing suksesvol te wees? Sy was so suksesvol dat sy haar eie huis besit het. Hierdie huis was groot genoeg om die vergaderplek vir die eerste kerk in die geskiedenis van Europa te wees. Van al die godsdienstige geboue wat oor die eeue gebou is – Notre Dame, Westminster Abdy en die Sistyne kapel – was die eerste kerk die huis van hierdie besigheidsvrou. Nou, as jou begeerte om geld te maak jou vrygewigheid wurg, jou in skuld laat lewe of kroniese ontevredenheid skep, is dit tyd om dit waarmee jy besig is, te herevalueer. Dis God-gegewe begeertes om geld te maak, goeie produkte te skep en mense in diens te neem. ‘Onthou altyd dat dit die Here jou God is wat vir jou die krag gee om ryk te word…’ (Deuteronomium 8:18 NLV). Het jy al ooit gewonder hoekom jy dit geniet om met enjins te peuter of om met jou hande te werk? Dis omdat jy na die beeld van ‘n kreatiewe God geskape is wat hierdie ongelooflike kosmiese masjien met soveel kragte en energie geskep het, dat mense briljante wetenskaplike beroepe daaraan toewy om net ‘n klein deeltjie daarvan te verstaan. Die Bybel sê, ‘…Groot is die Here wat Hom verheug in die vrede van sy dienaar’ (Psalm 35:27 NVL). Wanneer jou begeerte na materiële sukses gebruik word om God mee te loof en ander mee te seën, sal Hy jou help om sukses te behaal.
Sielskos: Eseg 1-4; Mark 14:1-11; Ps 121; Spr 14:13-16
2018-06-04
2 Timoteus 3:16 DB
Paulus het aan Timoteus geskryf: ‘Die klomp skelms gaan net woester en slegter word… Hulle lei ander op die verkeerde pad omdat die duiwel húlle op die verkeerde pad gelei het. Maar jy, Timoteus, moet jou nie ‘n duim van koers af laat bring nie. Bly by die dinge wat vir jou geleer is en wat jy weet waar is…Toe jy nog klein was, het jy al die Skrif gelees. Jy kan baie daaruit leer, soos hoe ‘n mens se saak met God weer reggemaak kan word deur op Christus Jesus te vertrou. Die hele Skrif kom direk van God af… Dit help ons om te wys waar mense die pad byster raak en om hulle weer reg te help. Uit die Skrif kan ons ook vir mense wys hoe God wil hê hulle moet leef. Op dié manier sal iemand wat God s’n is, weet wat God van hom verwag en só reg wees om behoorlik vir God te kan werk’ (verse 13-17 DB). Hier is hoekom jy jou Bybel moet lees: 1) Sodat jy nie die pad byster raak nie. God sal nooit iets vir jou sê wat nie in lyn is met dit wat Hy duidelik in sy Woord bekend gemaak het nie. 2) Sodat jy weet dat jy waarlik gered is. Die apostel Johannes skryf: ‘Ek skryf hierdie dinge aan julle sodat julle met die wete kan leef dat julle nou reeds deel het aan die ewige lewe, julle wat aanhou glo in die persoon van die Seun van God’ (1 Johannes 5:13 NLV). 3) Om jou roeping te identifiseer. Paulus sê, ‘…Uit die Skrif… sal iemand wat God s’n is, weet wat God van hom verwag en só reg wees om behoorlik vir God te kan werk’ (2 Timoteus 3:16-17 DB). Die Bybel is jou handleiding om ‘n Christelike lewe te lei, lees dit dus elke dag!
Sielskos: Amos 5:18-9:15; Mark 13:24-37; Ps 117; Spr 14:9-12
2018-06-03
Markus 2:4 NLV
Mary Engelbreit wou altyd kinderboeke illustreer, maar ‘n voorligtingsberader by die skool het vir haar gesê, ‘Jy kan dit nie doen nie. Wees prakties. Kry ‘n graad en word ‘n onderwyser.’ Mary het by ‘n kunswinkel begin werk, oor die industrie geleer en kunstenaars wat ‘n lewe gemaak het deur te doen waarvoor hulle lief was, leer ken. Deur te weier dat struikelblokke op die konvensionele pad na sukses haar terughou, het Engelbreit ‘n erkende kunstenaar geword wat haar eie tydskrif begin het. Proust het gesê, ‘Die ware reis van ontdekking bestaan nie daaruit om nuwe landskappe te soek nie, maar om nuwe oë te hê.’ Leer om buite die boks te dink en onthou, inspirasie ontstaan uit perspirasie! Verwag dat daar probleme gaan opduik en moenie toelaat dat dit jou voornemens verswak nie. Vier mans wat nie hulle verlamde vriend as gevolg van die skare by Jesus kon uitkry nie, ‘…het ‘n gat deur die dak bokant Jesus se kop gemaak. Toe laat hulle die mat waarop die sieke gelê het, deur die dak sak.’ Jesus het geloof in aksie gesien en dit beloon deur die man gesond te maak. Jy kan enigiets bereik as jy daaroor bid en volhard. Rebecca Barlow Jordan sê, ‘Ware kreatiwiteit hou nie by inspirasie op nie. Baie mense het al probeer en gefaal, omdat hulle nie die struikelblokke kon oorkom nie. Die ware kunstenaar sien deur geloof die voltooide prentjie. Almal van ons is kunstenaars en God het vir ons werk om te doen. Hy moedig ons aan om die vrugte van ons arbeid te geniet. Die ware seëning vind egter nie net plaas wanneer ons dinge regkry nie, maar wanneer kreatiwiteit sy goddelike oorsprong bekragtig en eer aan God bring.’
Sielskos: Gal 5:23; Spr 16:32; 2 Pet 1:5-8; Heb 11:23-27
2018-06-02
Daniël 3:1 NLV
Dis veilig om te sê dat enigiemand wat ‘n dertig meter hoë standbeeld van homself bou, heel waarskynlik besig is om vir iets anders te kompenseer. Hierdie standbeeld was die toonbeeld van trots. Ons het almal ‘n bietjie Nebukadnesar in ons. Ons sal nou nie ‘n standbeeld vir onsself oprig nie, maar ons raak ontsteld wanneer mense nie voor ons wense buig nie. Ons sal niemand ooit in ‘n oond gooi nie, maar ons raak witwarm van woede wanneer ons nie ons sin kry nie. Ons soek aanbidding op meer subtiele maniere. Ons oordryf op ons CV’s en vertel witleuentjies om die grys areas in ons lewens weg te steek. As jy nie jou identiteit en sekuriteit in dit wat God vir jou aan die kruis bereik het vind nie, sal jy jou onsekerhede agter jou eie skynheiligheid wegsteek. Jy sal jou eie gevegte probeer veg, jou eie geleenthede probeer skep en jou eie reputasie probeer vestig. Twee Skrifgedeeltes definieer koning Saul se val: 1) ‘Saul het daar ‘n altaar vir die Here gebou…’ (1 Samuel 15:12 NLV). 2) ‘…Saul is Karmel toe om ‘n gedenkteken vir homself op te rig…’ (1 Samuel 15:12 NLV). Samuel het egter reg deur die rookskerm gesien: ‘…Voorheen het jy min van jouself gedink, tog het jy die leier van die stamme van Israel geword…’ (1 Samuel 15:17 NLV). Weet jy wie bou gedenktekens vir hulself? Mense wat min van hulself dink! Hoe onsekerder ‘n persoon oor homself is, hoe meer monumente moet hy bou. Daar is ‘n fyn lyn tussen ‘Laat u koninkryk kom’ en ‘Laat my koninkryk kom.’ As jy oor daardie lyn tree, word jou verhouding met God selfdienend. Jy dien Hom nie, jy gebruik Hom. Jy bou nie altare vir God nie; jy bou vir jouself gedenktekens. Dis afgodery.
Sielskos: Amos 1:1-5:17; Mark 13:12-23; Ps 82; Spr 14:5-8
2018-06-01
Daniël 2:49 NLV
Sadrag, Mesag en Abednego het geweet dat hulle tereggestel sou word as hulle weier om voor die dertig meter hoë standbeeld van koning Nebukadnesar te buig. Hulle het egter ‘n bepalende besluit geneem om te doen wat reg is, eerder as om voor dit wat verkeerd is te buig. Die meeste van ons sou met ‘n dosyn rasionalisasies vorendag kon kom: ‘Ek buig dalk aan die buitekant, maar ek staan regop aan die binnekant,’ of ‘Ek sal vir vergifnis vra direk na ek klaar gebuig het,’ of ‘Hoe kan ek vir God werk as ek dood is?’ Dis egter ons rasionalisasies wat dikwels sy openbaringe nietig maak. Wanneer ons ons integriteit onder verdenking plaas, los ons nie veel plek vir sy goddelike ingryping nie. Wanneer ons sake in ons eie hande neem, neem ons God uit die situasie uit. Wanneer ons probeer om ‘n situasie te manipuleer, verbeur ons ‘n wonderwerk. As Sadrag, Mesag en Abednego hulle integriteit prysgegee het en voor die standbeeld gebuig het, mag hulle dalk steeds uit die oond gered gewees het – maar dit sou deur Nebukadnesar se hand plaasgevind het, nie deur God s’n nie. Hulle sou hulle getuienis prysgegee het deur die toets te faal. Hulle mag dalk hulle eie lewens gered het, maar hulle sou hulle integriteit opgeoffer het. Dit was hulle integriteit wat die sneller vir die wonderwerk was. Dit was hulle integriteit wat God toegelaat het om op te daag en sy mag ten toon te stel. Hulle integriteit het dividende betaal: ‘Daarna het [die koning] Sadrag, Mesag en Abednego bevorder en nog hoër posisies aan hulle in die provinsie van Babel gegee’ (Daniël 3:30 NLV). Wanneer jy die regte ding doen, sal God die regte ding vir jou doen!
Sielskos: Klaag 3:40-5:22; Mark 13:1-11; Ps 113; Spr 14:1-4
2018-05-31
Handelinge 27:20 NLV
Daar is tye wat dit voel of God ontoeganklik is. Wanneer jy in jou huidige omstandighede bid, voel jy verlate. Nie net verlate nie, maar vreesbevange en selfs hopeloos. Paulus het daardie gevoel verstaan. Hy het gesmag na ‘n geleentheid om in Rome te gaan preek en was onderweg daarheen toe ‘n orkaan sy skip vernietig het. Paulus het voorsien dat nie net die skip en die vrag verlore sou gaan nie, maar dat hulle ook hulle lewens sou verloor (sien vers 10). Hy het die bemanning van die dreigende tragedie probeer waarsku, maar sy woorde is deur die mense in beheer verontagsaam. In kort, is Paulus en 276 ander mense in ‘n lewensgevaarlike posisie geplaas en daar was niks wat hy daaraan kon doen nie. Hy en sy gelowige metgeselle het wanhopig gevoel en verklaar, ‘Uiteindelik is alle hoop laat vaar dat ons gered sou word.’ Na veertien dae wat hulle op see verlore was – toe die orkaan op sy ergste gewoed het – het God ‘n engel gestuur. ‘…Hou op bang wees, Paulus… om jou ontwil spaar God almal wat hier saam met jou op die skip is’ (vers 24 NLV). Toe dit lyk asof Paulus se verterende begeerte om in Rome te gaan preek gedwarsboom sou word, het God hulle getrou deur die storm gestuur na die presiese bestemming wat Hy vir hulle in gedagte gehad het. Paulus sou na Rome gaan en God se Woord voor Caesar verklaar! Is jy in ‘n storm vasgevang? Watter toets jy ook al vandag voor te staan kom, weet hierdie een ding: Jy kan God vertrou om jou daardeur te dra. Hy maak ‘…die einde bekend vanaf die begin…’ (Jesaja 46:10 NLV), dus sal jy sterkter en wyser hier deur kom.
Sielskos: Klaag 1:1-3:39; Mark 12:28-44; Ps 108; Spr 13:24-25