Hoekom jy jou Bybel moet lees

2018-06-04
2 Timoteus 3:16 DB

Paulus het aan Timoteus geskryf: ‘Die klomp skelms gaan net woester en slegter word… Hulle lei ander op die verkeerde pad omdat die duiwel húlle op die verkeerde pad gelei het. Maar jy, Timoteus, moet jou nie ‘n duim van koers af laat bring nie. Bly by die dinge wat vir jou geleer is en wat jy weet waar is…Toe jy nog klein was, het jy al die Skrif gelees. Jy kan baie daaruit leer, soos hoe ‘n mens se saak met God weer reggemaak kan word deur op Christus Jesus te vertrou. Die hele Skrif kom direk van God af… Dit help ons om te wys waar mense die pad byster raak en om hulle weer reg te help. Uit die Skrif kan ons ook vir mense wys hoe God wil hê hulle moet leef. Op dié manier sal iemand wat God s’n is, weet wat God van hom verwag en só reg wees om behoorlik vir God te kan werk’ (verse 13-17 DB). Hier is hoekom jy jou Bybel moet lees: 1) Sodat jy nie die pad byster raak nie. God sal nooit iets vir jou sê wat nie in lyn is met dit wat Hy duidelik in sy Woord bekend gemaak het nie. 2) Sodat jy weet dat jy waarlik gered is. Die apostel Johannes skryf: ‘Ek skryf hierdie dinge aan julle sodat julle met die wete kan leef dat julle nou reeds deel het aan die ewige lewe, julle wat aanhou glo in die persoon van die Seun van God’ (1 Johannes 5:13 NLV). 3) Om jou roeping te identifiseer. Paulus sê, ‘…Uit die Skrif… sal iemand wat God s’n is, weet wat God van hom verwag en só reg wees om behoorlik vir God te kan werk’ (2 Timoteus 3:16-17 DB). Die Bybel is jou handleiding om ‘n Christelike lewe te lei, lees dit dus elke dag!

Sielskos: Amos 5:18-9:15; Mark 13:24-37; Ps 117; Spr 14:9-12