Hartseer en hartsiek (1)

2018-06-11
Spreuke 13:12 NLV

Depressie kan jou laat opgee. Toe die werk te groot vir Moses geword het, het hy vir God gesê, ‘As U dit van my verwag, maak my dan asseblief maar liewer dood as wat ek na hierdie ellende moet sit en kyk’ (Numeri 11:15 NLV). Elia was seker dat Isebel haar dreigemente teen hom sou uitvoer en het vir God gevra om sy lewe te neem. Daar word gesê dat die boek Job oor ‘n tydperk van slegs nege maande strek, maar Job se verliese was so verwoestend dat hy gesê het, ‘Ek haat my lewe!..’ (Job 10:1 NLV). In plaas daarvan om te stry of ‘n Christen wat sy of haar eie lewe neem hemel toe gaan of nie, moet ons eerder vir God vir wysheid vra om te weet wanneer ‘n geliefde so hooploos of emosioneel siek geword het dat hulle dit nie meer langer kan verduur nie. Wie is hierdie mense? Jong mense wat hulself sny as ‘n uitroep om hulp. Oorlogsveterane wat aan post-traumatiese stres ly en nie van die demone van oorlog kan ontsnap nie. Slagoffers van seksuele mishandeling wat hulself tot die dood toe ooreet, drink en dwelms gebruik. Goeie mense wat met seksuele kwessies sukkel maar te vreesbevange is om daaroor te praat. Agt-en-vyftig miljoen Amerikaners stry daagliks met depressie. Hulle slaap in herehuise en onder brûe. Sommige van hulle is Christene met selfdoodgedagtes, wat dit vrees om te hoor dat hulle swak is en nie genoeg geloof het nie. As jy hulle met ‘n vinnige Skrifgedeelte, ‘n kort gebed en ‘n ‘God seën jou’ op hulle pad stuur, gooi jy hulle vir die wolwe. Jesus het jou gestuur, want jy het die Woord, die Gees en die krag om hulle te help.

Sielskos: Eseg 20-21; Mark 14:66-72; Ps 48; Spr 14:33-35

Druk deur na oorwinning

2018-06-10
Romeine 5:3-4 NLV

Michael Phelps het ‘n rekord agt goue medaljes by die 2008 Olimpiese Spele in Beijing verower. Dis egter nie net die aantal medaljes wat ons sal onthou nie, maar sy onoorwinlike gees toe dinge vir hom in die 200 meter vlinderslag drasties verkeerd geloop het. Soos hy die muur geraak het en die resies gewen het, het niemand geweet wat hy deurgemaak het om dit te bereik nie. Die wêreld het met ongeloof toegekyk hoe water uit sy swembril stroom toe Michael dit afhaal. Hy het die 200 meter amper blind geswem, ‘n ervaring wat swemmers vrees. Hy moes sy swemslae tel en desperaat vir enige tekens op die swembadvloer uitkyk, voor hy eindelik die eindpunt kon bereik – ‘n Olimpiese oorwinnaar in elke sin van die woord. Phelps het sy frustrasie gebruik om sy stamina en vasbeslotenheid om te wen, te vermeerder. Paulus sê: ‘…ons jubel selfs in ons swaarkry, want ons besef dat die swaarkry ons leer om te volhard. Op sy beurt kweek volharding betroubaarheid van karakter; en betroubaarheid van karakter versterk ons toekomsverwagting. En hierdie toekomsverwagting sal ons nie teleurstel nie…’ (verse 3-5 NLV). Wat ‘n magdom wonderbaarlike voordele wat God aan ons voorsien wanneer ons probleme in die gesig staar! Volharding: Toewyding daaraan om op sy genade staat te maak en ten spyte van omstandighede aan te hou om vorentoe te beweeg. Betroubaarheid van karakter: innerlike moed wat op persoonlike integriteit gebaseer is. Toekomsverwagting: ‘n diepe oortuiging dat ons uiteindelik daar deur sal kom, wat dit ook al van ons verg. Om dit alles te kroon, word ons sukses in ons God-gegewe missie gewaarborg want ‘…hierdie toekomsverwagting sal ons nie teleurstel nie…’! Wanneer jy nie duidelik kan sien wat voor jou lê nie, strek jouself uit – die eindpunt lê net voor jou!

Sielskos: Matt 5:3; Luk 18:9-14; Jes 57:14-21; 2 Sam 7:18-29

Reageer met genade

2018-06-09
2 Petrus 3:18 NLV

Jesus het vir sy dissipels gesê, ‘As Ek dan, wat julle Here en Leermeester is, julle voete gewas het, moet julle ook mekaar se voete was. Ek het vir julle ‘n voorbeeld gestel…’ (Johannes 13:14-15 NLV). Wie se voete het Hy gewas? Petrus, wat Hom verloën het; Tomas, wat aan Hom getwyfel het; Judas, wat Hom verraai het; en al die ander, wat Hom in die steek sou laat. Jy hoef nie die dade van jou oortreder goed te keur wanneer jy genade bewys nie. Jesus het nie jou sondes goedgekeur toe Hy jou vergewe het nie. Genade sê nie vir die dogter om van haar pa wat haar gemolesteer het, te hou nie. Dit sê nie vir die onderdruktes om vir onreg te knipoog nie. Die persoon wat deur genade gedefinieer word stuur steeds diewe tronk toe en verwag van sy of haar eks om onderhoud te betaal. Genade is nie blind nie. Dit sien die seerkry heeltemal duidelik raak. Genade kies egter om God se vergifnis meer as die seer raak te sien. Die Bybel sê, ‘Wees baie versigtig dat niemand van julle uitsak en God se onverdiende goedheid verspeel nie. Moenie dat daar onder julle ‘n giftige loot opskiet wat moeilikheid veroorsaak en baie ander aansteek nie’ (Hebreërs 12:15 NLV). Waar genade tekort skiet, is bitterheid volop. Waar genade volop is, groei vergifnis. Petrus skryf, ‘Sorg liewer dat julle steeds groei in die onverdiende goedheid en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus…’ Om in kennis van die Bybel te groei, is baie makliker as om in genade teenoor diegene wat jou seergemaak het, te groei. Die eerste benodig ‘n goeie geheue; die tweede benodig ‘n karakter soos Christus s’n. Hoe ‘groei’ jy dus in genade? Deur teenoor almal wat jy ontmoet, in elke situasie waarin jy jou bevind, dit te beoefen.

Sielskos: Eseg 16:53-19:14; Mark 14:53-65; Ps 1; Spr 14:29-32

Vier kategorieë van begeerte (4)

2018-06-08
1 Korintiërs 6:19 NLV

Fisiese begeertes: Die Bybel sê vir ons om fees te vier, te eet, te drink, te sing, te dans, te skree en musiek te maak – alles dinge wat ons met ons liggame doen. Hierdie aptyt, begeertes en plesiere kan inderwaarheid ‘n manier word om te onthou hoe goed ons God is. Die fisiese is nie apart van die geestelike nie; dit is immers God se Gees wat ons liggame lewe gee. Die Bybel veroordeel jou nie omdat jy fisies aantreklik wil wees nie. Ons moet dinge egter in perspektief beskou: “‘n Mooi vrou sonder gesonde oordeel is soos ‘n goue ring in ‘n vark se snoet” (Spreuke 11:22 NLV). Dieselfde beginsel is ook op mans van toepassing. God het egter ons liggame geskep. God het ons met ‘n liefde vir skoonheid gemaak. ‘n Paar stiliste het met ‘n ‘haarkapper’ bediening begin. Miskien klink dit vir jou vreemd. Daar word immers net een haarkapper in die Bybel genoem – Delila – en toe Simson by haar uitkom, het dinge nie goed vir hom afgeloop nie. Om mense egter te dien deur hulle hare te sny kan ‘n goeie ding wees. Mense sal probleme met hulle haarkapper deel wat hulle met niemand anders sal deel nie. Jy kan dus insien dat dit ‘n ware bediening kan wees. Hierdie groep het komplimentêre haarsnye vir fisies- en geestelik gestremde mense gegee. Toe het hulle na Costa Rica gereis om jong vroue wat uit ‘n lewe van prostitusie wou ontsnap, te bedien. Hulle het liggame wat vir baie lank nie vrylik gedien is nie; liggame wat in objekte verander is, bedien en geëer. Wat is die punt? Dit mag dalk vir jou nodig wees om ‘n nuwe konsep, ‘n Bybelse konsep, van dit wat waarlik ‘geestelik’ is, te kry.

Sielskos: Eseg 14:1-16:52; Mark 14:43-52; Ps 129; Spr 14:25-28

Vier kategorieë van begeerte (3)

2018-06-07
Spreuke 18:24 NLV

Verhoudingsbegeertes: Jonatan was die troonopvolger, maar hy het dit vrywilliglik opgegee omdat hy geweet het dat sy vriend, Dawid, God se keuse vir die koningskap was. Jonatan se begeerte om ‘n vriend te wees was groter as sy begeerte om koning te wees. Hoe dikwels gebeur so iets? Hy het ook nie Dawid se vriend geword omdat hy enige bymotiewe gehad het nie. Hy het eenvoudig net van Dawid gehou en hulle vriendskap het Israel se koers verander. Ons almal het verhoudingsbegeertes wat ons nie nastreef nie. Tensy ‘n diep, betekenisvolle verhouding in ons skote val, gee ons op. Vriendskappe soos dit gebeur nie net sommer nie; Jonatan moes ongelooflike struikelblokke oorkom om ‘n vriendskap met Dawid te bou. Soms sal jy dieselfde moet doen, en God sal jou daarmee help. John Ortberg skryf: ‘My vriend Chuck het die geestelike gawe om ‘n ontbyt te gebruik. Hy ontmoet mense in die Amerikaanse restaurant, Waffle House. Die kelnerin hou daarvan om hom te bedien omdat hy goeie fooitjies los en almal laat lag. Hy is regtig snaaks en heeltemal oop oor sy eie gebrokenheid, wat mense teenoor hom laat oopmaak soos tulpe in die son. Hy voel God se teenwoordigheid die meeste aan wanneer hy in die Waffle House sit en toegelaat word om in iemand se siel te sien. Dit is nie net die koffie wat mense na hom toe bring nie; dis die riviere van lewende water wat uit hom uit vloei.’ As jy inherent skaam is, is hier ‘n wenk vir jou: Die kans is goed dat die persoon waarna jy graag wil uitreik ook skaam is. Gaan maak kontak en kyk wat gebeur. Wie weet, jy kan dalk die antwoord op hulle eensaamheid word en hulle die antwoord op joune.

Sielskos: Eseg 10-13; Mark 14:27-42; Ps 124; Spr 14:21-24

Vier kategorieë van begeerte (2)

2018-06-06
Psalm 37:4 NLV

Die begeerte om te presteer: Die eerste ding wat God vir Adam gesê het was: ‘…Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde… en heers oor… die aarde’ (Genesis 1:28 NLV). Die rede hoekom jy so ‘n sterk begeerte het om iets in die lewe te bereik, is omdat God jou so geskep het. Min mense is meer as Paulus deur prestasie gemotiveer: ‘Al is my lewe kosbaar, ag ek dit van geen waarde as ek nie my lewenstaak en my bediening wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaarmaak nie…’ (Handelinge 20:24 NLV). God het nie Paulus se begeerte om te presteer weggeneem nie; Hy het dit ingespan sodat Paulus God se wil kon vervul. ‘n Sterk beroepsgeoriënteerde dryfkrag, tesame met die begeerte om te leer en te presteer, kan ‘n goeie ding wees, tensy dit tot werkverslawing, statusafhanklikheid of die manipulering van ander mense lei. Wanneer dit gebeur, moet jy jou motivering herevalueer. As dit egter nie die geval is nie en jy bevind jouself waar jy met ‘n vuur binne-in jou in God groei om iets te bereik – gaan voort en presteer. Oefen heerskappy uit! Gebruik jou vaardighede om goeie dinge vir ander te bereik. Op daardie punt, of jy nou tot ‘n vergadering bydra, waarde tot jou span voeg of idees formuleer, sal jy weet dat dit meer as net jou eie vaardighede is. Wanneer jy rasionele vaardighede ontwikkel wat jou in staat stel om ‘n band met kliënte en kollegas te vorm, kan jy gelyktydig vir hulle bid en hulle seën. Soos jy vreugde in jou prestasies kry, is jou lewe vir God behaaglik. ‘n Woord van advies: Elke nou en dan, onthou om te stop en Hom te bedank dat jy iets waarvoor jy lief is, kan doen!

Sielskos: Eseg 5-9; Mark 14:12-26; Ps 4; Spr 14:17-20