Reageer met genade
2018-06-092 Petrus 3:18 NLV
Jesus het vir sy dissipels gesê, ‘As Ek dan, wat julle Here en Leermeester is, julle voete gewas het, moet julle ook mekaar se voete was. Ek het vir julle ‘n voorbeeld gestel…’ (Johannes 13:14-15 NLV). Wie se voete het Hy gewas? Petrus, wat Hom verloën het; Tomas, wat aan Hom getwyfel het; Judas, wat Hom verraai het; en al die ander, wat Hom in die steek sou laat. Jy hoef nie die dade van jou oortreder goed te keur wanneer jy genade bewys nie. Jesus het nie jou sondes goedgekeur toe Hy jou vergewe het nie. Genade sê nie vir die dogter om van haar pa wat haar gemolesteer het, te hou nie. Dit sê nie vir die onderdruktes om vir onreg te knipoog nie. Die persoon wat deur genade gedefinieer word stuur steeds diewe tronk toe en verwag van sy of haar eks om onderhoud te betaal. Genade is nie blind nie. Dit sien die seerkry heeltemal duidelik raak. Genade kies egter om God se vergifnis meer as die seer raak te sien. Die Bybel sê, ‘Wees baie versigtig dat niemand van julle uitsak en God se onverdiende goedheid verspeel nie. Moenie dat daar onder julle ‘n giftige loot opskiet wat moeilikheid veroorsaak en baie ander aansteek nie’ (Hebreërs 12:15 NLV). Waar genade tekort skiet, is bitterheid volop. Waar genade volop is, groei vergifnis. Petrus skryf, ‘Sorg liewer dat julle steeds groei in die onverdiende goedheid en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus…’ Om in kennis van die Bybel te groei, is baie makliker as om in genade teenoor diegene wat jou seergemaak het, te groei. Die eerste benodig ‘n goeie geheue; die tweede benodig ‘n karakter soos Christus s’n. Hoe ‘groei’ jy dus in genade? Deur teenoor almal wat jy ontmoet, in elke situasie waarin jy jou bevind, dit te beoefen.
Sielskos: Eseg 16:53-19:14; Mark 14:53-65; Ps 1; Spr 14:29-32