Vier kategorieë van begeerte (4)
2018-06-081 Korintiërs 6:19 NLV
Fisiese begeertes: Die Bybel sê vir ons om fees te vier, te eet, te drink, te sing, te dans, te skree en musiek te maak – alles dinge wat ons met ons liggame doen. Hierdie aptyt, begeertes en plesiere kan inderwaarheid ‘n manier word om te onthou hoe goed ons God is. Die fisiese is nie apart van die geestelike nie; dit is immers God se Gees wat ons liggame lewe gee. Die Bybel veroordeel jou nie omdat jy fisies aantreklik wil wees nie. Ons moet dinge egter in perspektief beskou: “‘n Mooi vrou sonder gesonde oordeel is soos ‘n goue ring in ‘n vark se snoet” (Spreuke 11:22 NLV). Dieselfde beginsel is ook op mans van toepassing. God het egter ons liggame geskep. God het ons met ‘n liefde vir skoonheid gemaak. ‘n Paar stiliste het met ‘n ‘haarkapper’ bediening begin. Miskien klink dit vir jou vreemd. Daar word immers net een haarkapper in die Bybel genoem – Delila – en toe Simson by haar uitkom, het dinge nie goed vir hom afgeloop nie. Om mense egter te dien deur hulle hare te sny kan ‘n goeie ding wees. Mense sal probleme met hulle haarkapper deel wat hulle met niemand anders sal deel nie. Jy kan dus insien dat dit ‘n ware bediening kan wees. Hierdie groep het komplimentêre haarsnye vir fisies- en geestelik gestremde mense gegee. Toe het hulle na Costa Rica gereis om jong vroue wat uit ‘n lewe van prostitusie wou ontsnap, te bedien. Hulle het liggame wat vir baie lank nie vrylik gedien is nie; liggame wat in objekte verander is, bedien en geëer. Wat is die punt? Dit mag dalk vir jou nodig wees om ‘n nuwe konsep, ‘n Bybelse konsep, van dit wat waarlik ‘geestelik’ is, te kry.
Sielskos: Eseg 14:1-16:52; Mark 14:43-52; Ps 129; Spr 14:25-28