2018-06-17
2 Petrus 3:18 NLV
Samuel en Susanna Wesley (John Wesley se ouers), was een aand by die aanddiens toe Susanna nie ‘amen’ op haar man se gebed vir Willem van Oranje, wat toe Engeland se koning was, sê nie. Toe hy haar vra hoekom nie, het sy verduidelik dat haar simpatie by die afgesette James die Tweede gelê het. Sy skryf oor wat volgende gebeur het: ‘Hy het onmiddellik gekniel en goddelike wraak op homself en sy nageslag gesweer as hy my ooit weer sou aanraak voor ek nie vir God en sy eie vergifnis gesmeek het nie.’ Hierdie omstandighede het ses maande geduur en is slegs verbreek toe ‘n tragiese brand twee-derdes van hulle huis vernietig het. Mense wat aan hulle wrokke vashou, nie weet hoe om teleurstelling met grasie te hanteer nie, wat ‘n lang geheue het, wat nie kan jammer sê nie en wat kerm en kla en dikmond is, trek altyd aan die kortste ent. Om goed te kan verloor is ‘n kuns wat al die genade wat ons kan bymekaar kan skraap, verg. Dit beteken om die nederigheid te hê om die realiteit sonder verskonings in die gesig te staar, maar met die selfvertroue om nie toe te laat dat verlies ons identiteit definieer of ons minderwaardig laat voel nie. Dit beteken geen verskonings, geen blaam, geen self-bejammering en ook geen self-veroordeling nie. Dit beteken dat jy die onderskeid kan tref tussen wanneer om op te gee en wanneer om te volhard. Dit beteken om ander mense te kan geluk wens. Dit beteken om ‘n uitkoms wat ons nie kan verander nie, te laat gaan, maar om vas te hou aan die wil om voluit en goed te lewe en om God met alles wat ons doen, te eer.
Sielskos: Matt 5:4; Jes 51:1-16; Ps 30; 2 Kor 1:3-7
2018-06-16
2 Petrus 3:18 NLV
Die sielkundige Henry Cloud doen baie korporatiewe konsultasies. Soms vra hy vir die bestuurders: ‘Wanneer, in jou besigheids- of universiteitsopleiding, het jy ‘n kursus geneem oor hoe om op ‘n goeie manier te verloor?’ Om te verloor is ‘n onlosmaaklike deel van die lewe. Dit gee ons ‘n onskatbare insig in die ontwikkeling van ons karakter. Wat doen ons wanneer ons deel is van ‘n span wie se besluit teengestaan word? Hoe hanteer ons dit wanneer die bevordering waarvoor ons aansoek gedoen het, na iemand anders toe gaan? Wat doen ons wanneer ons idee, voorstel of uitnodiging om op ‘n afspraak te gaan, verwerp word? Om te lewe is om te verloor. Om egter sleg en onfatsoenlik te verloor, kan dodelik wees. Die president van ‘n organisasie het ‘n agenda vir verandering wat niemand wil aanvaar nie. Hy is egter hardkoppig en wil nie nee aanvaar nie, dus kry hy kwaadwillige instemming. Mense staan hom nie openlik teë nie, maar hulle saboteer sy agenda. Hy verloor hulle respek en hulle lojaliteit. Hy kon dit nie aanvaar om sy agenda te verloor nie; dus het hy eerder dit wat belangriker is, verloor. ‘n Pastoor wil sy kerk verander op maniere wat sy gemeente nie aanstaan nie. Dus preek hy kwaai preke wat hulle kasty omdat hulle nie sy leierskap volg nie. Hy probeer druk op die ouderlinge uitoefen. Hy dreig, hy kla, hy manipuleer. Uiteindelik vra die ouderlinge hom om die kerk te verlaat. Omdat hy nie uit sy verliese kan leer nie, verloor hy alles. Petrus, wat daarvoor bekend was dat hy baie hardkoppig was, het wyser en meer volwasse geword, en ons aangemaan om in genade te groei. Wanneer jy nie kry wat jy wil hê nie – aanvaar dit!
Sielskos: Eseg 34-36; Luk 1:1-10; Ps 80:12-19; Spr 15:15-17
2018-06-15
Filippense 3:20 NLV
Elke jaar kry die Stille Oseaan-salm, wat vyf tot ses jaar in die oseaan geleef het, skielik die drang om na die water van hul geboorte-rivier terug te keer. Met vissermanne, bere en enorme hidro-elektriese damme wat in hulle pad staan, veg hulle hul weg stroom-op om by hulle tuiste uit te kom. Wetenskaplikes weet nie hoe die salm dit regkry om na die presiese rivier waar hulle gebore is, terug te keer nie. Sommige wetenskaplikes dink hulle doen dit omdat hulle die vars water van hulle rivier kan proe of ruik. Ander wetenskaplikes dink dat hulle dalk die sterre gebruik om te navigeer. Ongeag hoe hulle dit doen, weet ons dat hulle nie kaarte en kompasse gebruik nie; hulle reis is instinktief. Hulle het ‘n verlange na ‘n spesifieke rivier en hulle sal nie rus totdat hulle die rivier vind nie. Dis presies hoe dit met ons is. God het ons vir die hemel geskep en niks in ons lewe sal daardie verlange stil nie (sien Prediker 3:11). Net soos daardie salm, is ons in hierdie wêreld, maar nie van hierdie wêreld nie. Ja, ons vind vreugde daarin om die lewenstaak wat God vir ons gegee het te vervul, maar dit is niks teenoor die vreugde wat in die hemel vir ons wag nie. Paulus stel dit so: ‘Ons daarteenoor het ons burgerskap in die hemel. Van dáár verwag ons ook die Here Jesus Christus as Redder. Hy sal ons vernederde liggame verander in liggame met goddelike heerlikheid, soos sy eie. Hiervoor sal Hy dieselfde krag gebruik as dié waarmee Hy alle dinge onder sy gesag bring’ (Filippense 3:20-21 NLV). Soos jou geredde geliefdes die aarde verlaat om hemel toe te gaan, sal jou verlange om by hulle aan te sluit, net groter word.
Sielskos: Eseg 31-33; Mark 16:1-20; Ps 80:1-11; Spr 15:11-14
2018-06-14
Kolossense 4:6 NLV
Bid: ‘Here, ek sluit by die psalmdigter Dawid aan en vra: ‘Mag die woorde van my mond en die gedagtes van my hart vir U aanneemlik wees…’ (Psalm 19:15 NLV). Ek besef dat die woorde wat ek spreek geweldige krag het, in beide my eie lewe en in my verhoudings. U Woord sê, ‘Die tong het mag oor dood en oor lewe…’ (Spreuke 18:21 NLV). Leer my om woorde te spreek wat altyd getrou aan u Woord is en wat U verheerlik. Help my om versigtig te wees om woorde te spreek wat ander mense opbou in plaas van afbreek, wat komplimenteer eerder as kritiseer, wat in liefde en waarheid gespreek word en nie deur my eie verwagtings en begeertes verdraai word nie, en wat vertroue en nie mismoedigheid meebring nie. Waar ek woorde gespreek het wat negatief of skadelik vir iemand anders was, vergewe my. Weerhou my daarvan om dinge te sê wat ander mense op enige manier seermaak of afkraak. Ek wil vriendelik met my woorde wees en ‘n tong hê wat genesing en seën bevorder (sien Spreuke 12:18). Help my om geloof in u Heerskappy oor my lewe te hê dat ek ‘…alles sonder kla of teëpraat’ (Filippense 2:14 NLV) kan doen. Help my om nie negatiewe dinge van myself te sê nie. Help my om onmiddellik op te hou wanneer ek ‘n kritiese woord begin sê. U woord sê, ‘Met woorde wat altyd vriendelik en sinvol is, moet julle gereed staan om die regte antwoord vir elke mens te gee.’ Laat my woorde U vandag eer en verheerlik. In Jesus se naam bid ek dit. Amen.’
Sielskos: Eseg 27:25-30:26; Mark 15:33-47; Ps 143; Spr 15:8-10
2018-06-13
2 Kronieke 26:4 NLV
Daar is ‘n grappie wat lui, ‘Maak nie saak wat ons ons kinders leer nie, hulle dring daarop aan om net soos ons op te tree!’ Ons glimlag, maar dis ‘n ernstige saak. Een kundige sê, ‘Ons leer wat ons weet, maar ons herproduseer wat ons is.’ Jou kinders kan dalk soms dit wat jy sê betwyfel, maar hulle glo altyd dit wat jy doen. Dus: 1) As jy wil hê dat hulle stiltetyd met God moet hê, moet jy stiltetyd met God hê. 2) As jy wil hê dat jou kinders moet kerk toe gaan, neem hulle, moenie hulle stuur nie. 3) As jy nie wil hê dat jou kinders moet vloek nie, let dan op wat uit jou mond kom. 4) As jy nie wil hê dat jou kinders moet rook, drink, of dwelms doen nie, moet jy dit ook uitlos. Wanneer jy een ding sê maar ‘n ander ding doen, sal jou kinders jou steeds liefhê, maar hulle sal op die ou einde respek vir jou verloor. Wat erger is, hulle sal dink, ‘As die beginsels wat jy preek nie vir jou werk nie, hoekom moet ek dit probeer?’ Jou voorbeeld sal ‘n groter impak as al jou vermanings hê. Lees die volgende twee Skrifgedeeltes noukeurig deur. Die eerste een word in die Ou Testament gevind: ‘Hy het gedoen wat reg was vir die Here, net soos sy pa… gedoen het.’ Die tweede een word in die Nuwe Testament gevind: ‘Ek weet dat jy die Here opreg vertrou, want jy het dieselfde geloof as jou ma, Eunice, en jou ouma, Loïs’ (2 Timoteus 1:5 NLV). Duisende jare skei hierdie twee Skrifgedeeltes, maar die waarheid wat hulle leer is tydloos: stel dus die regte voorbeeld!
Sielskos: Eseg 24:1-27:24; Mark 15:21-32; Ps 132:11-18; Spr 15:5-7
2018-06-12
Jesaja 40:29 NLV
Ons sê dinge soos, ‘Solank as wat daar lewe is, is daar hoop,’ of ‘Hoop is om ‘n knoop in ‘n tou te maak en vas te hou,’ en glo dat dinge sal beter raak. Wanneer hoop egter verminder of uitgewis word, kan geestelike en emosionele siektes mense vir ‘n uitkoms uit hulle omstandighede laat soek. Is selfdood verkeerd? Ja. Dis verkeerd omdat dit God uitsluit. Wanneer jy jou lewe neem is daar niks meer wat Hy vir jou kan doen nie. Dis verkeerd omdat jy ‘n nalatenskap van onopgeloste pyn in die harte van jou geliefdes agterlaat. Vir generasies al het Christelike leiers oor die vraagstuk van selfdood gedebatteer en van mekaar verskil. Elkeen van hulle glo egter hierdie woorde: ‘Bekommernis rem ‘n mens af…’ (Spreuke 12:25 NLV). As depressie nie bestuur word nie, kan dit tot self-vernietiging lei. Dit mag dalk nie die resultaat van ‘n koeël of ‘n oordosis dwelms wees nie; dit kan die besluit wees om op te hou eet, of om op te hou om na hulp uit te reik omdat die hulp wat hulle reeds ontvang het nie gehelp het nie. Die eindresultaat is egter dieselfde. ‘n Nasionale geestesgesondheidsorganisasie skat dat vroue twee keer meer geneig is om aan depressie te lei as mans. Mense in lae-inkomste groepe is minder geneig om vir hierdie siekte behandel te word, omdat hulle nie kan bekostig om hulp te kry nie. Het die Bybel die antwoord? Ja. ‘Hy gee krag aan dié wat moeg is. Hy maak die magteloses sterk. Selfs jongmense raak uitgeput en afgemat. Baie jongmense struikel en val. Maar dié wat hulle hoop op die Here stel, sal hulle krag terugkry…’ (Jesaja 40:29-31 NLV).
Sielskos: Eseg 22-23; Mark 15:1-20; Ps 132:1-10; Spr 15:1-4