Wanneer jy nie kry wat jy wil hê nie (2)
2018-06-172 Petrus 3:18 NLV
Samuel en Susanna Wesley (John Wesley se ouers), was een aand by die aanddiens toe Susanna nie ‘amen’ op haar man se gebed vir Willem van Oranje, wat toe Engeland se koning was, sê nie. Toe hy haar vra hoekom nie, het sy verduidelik dat haar simpatie by die afgesette James die Tweede gelê het. Sy skryf oor wat volgende gebeur het: ‘Hy het onmiddellik gekniel en goddelike wraak op homself en sy nageslag gesweer as hy my ooit weer sou aanraak voor ek nie vir God en sy eie vergifnis gesmeek het nie.’ Hierdie omstandighede het ses maande geduur en is slegs verbreek toe ‘n tragiese brand twee-derdes van hulle huis vernietig het. Mense wat aan hulle wrokke vashou, nie weet hoe om teleurstelling met grasie te hanteer nie, wat ‘n lang geheue het, wat nie kan jammer sê nie en wat kerm en kla en dikmond is, trek altyd aan die kortste ent. Om goed te kan verloor is ‘n kuns wat al die genade wat ons kan bymekaar kan skraap, verg. Dit beteken om die nederigheid te hê om die realiteit sonder verskonings in die gesig te staar, maar met die selfvertroue om nie toe te laat dat verlies ons identiteit definieer of ons minderwaardig laat voel nie. Dit beteken geen verskonings, geen blaam, geen self-bejammering en ook geen self-veroordeling nie. Dit beteken dat jy die onderskeid kan tref tussen wanneer om op te gee en wanneer om te volhard. Dit beteken om ander mense te kan geluk wens. Dit beteken om ‘n uitkoms wat ons nie kan verander nie, te laat gaan, maar om vas te hou aan die wil om voluit en goed te lewe en om God met alles wat ons doen, te eer.
Sielskos: Matt 5:4; Jes 51:1-16; Ps 30; 2 Kor 1:3-7