Bid vir die regte woorde

2018-06-14
Kolossense 4:6 NLV

Bid: ‘Here, ek sluit by die psalmdigter Dawid aan en vra: ‘Mag die woorde van my mond en die gedagtes van my hart vir U aanneemlik wees…’ (Psalm 19:15 NLV). Ek besef dat die woorde wat ek spreek geweldige krag het, in beide my eie lewe en in my verhoudings. U Woord sê, ‘Die tong het mag oor dood en oor lewe…’ (Spreuke 18:21 NLV). Leer my om woorde te spreek wat altyd getrou aan u Woord is en wat U verheerlik. Help my om versigtig te wees om woorde te spreek wat ander mense opbou in plaas van afbreek, wat komplimenteer eerder as kritiseer, wat in liefde en waarheid gespreek word en nie deur my eie verwagtings en begeertes verdraai word nie, en wat vertroue en nie mismoedigheid meebring nie. Waar ek woorde gespreek het wat negatief of skadelik vir iemand anders was, vergewe my. Weerhou my daarvan om dinge te sê wat ander mense op enige manier seermaak of afkraak. Ek wil vriendelik met my woorde wees en ‘n tong hê wat genesing en seën bevorder (sien Spreuke 12:18). Help my om geloof in u Heerskappy oor my lewe te hê dat ek ‘…alles sonder kla of teëpraat’ (Filippense 2:14 NLV) kan doen. Help my om nie negatiewe dinge van myself te sê nie. Help my om onmiddellik op te hou wanneer ek ‘n kritiese woord begin sê. U woord sê, ‘Met woorde wat altyd vriendelik en sinvol is, moet julle gereed staan om die regte antwoord vir elke mens te gee.’ Laat my woorde U vandag eer en verheerlik. In Jesus se naam bid ek dit. Amen.’

Sielskos: Eseg 27:25-30:26; Mark 15:33-47; Ps 143; Spr 15:8-10