Wanneer jy nie kry wat jy wil hê nie (1)

2018-06-16
2 Petrus 3:18 NLV

Die sielkundige Henry Cloud doen baie korporatiewe konsultasies. Soms vra hy vir die bestuurders: ‘Wanneer, in jou besigheids- of universiteitsopleiding, het jy ‘n kursus geneem oor hoe om op ‘n goeie manier te verloor?’ Om te verloor is ‘n onlosmaaklike deel van die lewe. Dit gee ons ‘n onskatbare insig in die ontwikkeling van ons karakter. Wat doen ons wanneer ons deel is van ‘n span wie se besluit teengestaan word? Hoe hanteer ons dit wanneer die bevordering waarvoor ons aansoek gedoen het, na iemand anders toe gaan? Wat doen ons wanneer ons idee, voorstel of uitnodiging om op ‘n afspraak te gaan, verwerp word? Om te lewe is om te verloor. Om egter sleg en onfatsoenlik te verloor, kan dodelik wees. Die president van ‘n organisasie het ‘n agenda vir verandering wat niemand wil aanvaar nie. Hy is egter hardkoppig en wil nie nee aanvaar nie, dus kry hy kwaadwillige instemming. Mense staan hom nie openlik teë nie, maar hulle saboteer sy agenda. Hy verloor hulle respek en hulle lojaliteit. Hy kon dit nie aanvaar om sy agenda te verloor nie; dus het hy eerder dit wat belangriker is, verloor. ‘n Pastoor wil sy kerk verander op maniere wat sy gemeente nie aanstaan nie. Dus preek hy kwaai preke wat hulle kasty omdat hulle nie sy leierskap volg nie. Hy probeer druk op die ouderlinge uitoefen. Hy dreig, hy kla, hy manipuleer. Uiteindelik vra die ouderlinge hom om die kerk te verlaat. Omdat hy nie uit sy verliese kan leer nie, verloor hy alles. Petrus, wat daarvoor bekend was dat hy baie hardkoppig was, het wyser en meer volwasse geword, en ons aangemaan om in genade te groei. Wanneer jy nie kry wat jy wil hê nie – aanvaar dit!

Sielskos: Eseg 34-36; Luk 1:1-10; Ps 80:12-19; Spr 15:15-17