Hartseer en hartsiek (2)
2018-06-12Jesaja 40:29 NLV
Ons sê dinge soos, ‘Solank as wat daar lewe is, is daar hoop,’ of ‘Hoop is om ‘n knoop in ‘n tou te maak en vas te hou,’ en glo dat dinge sal beter raak. Wanneer hoop egter verminder of uitgewis word, kan geestelike en emosionele siektes mense vir ‘n uitkoms uit hulle omstandighede laat soek. Is selfdood verkeerd? Ja. Dis verkeerd omdat dit God uitsluit. Wanneer jy jou lewe neem is daar niks meer wat Hy vir jou kan doen nie. Dis verkeerd omdat jy ‘n nalatenskap van onopgeloste pyn in die harte van jou geliefdes agterlaat. Vir generasies al het Christelike leiers oor die vraagstuk van selfdood gedebatteer en van mekaar verskil. Elkeen van hulle glo egter hierdie woorde: ‘Bekommernis rem ‘n mens af…’ (Spreuke 12:25 NLV). As depressie nie bestuur word nie, kan dit tot self-vernietiging lei. Dit mag dalk nie die resultaat van ‘n koeël of ‘n oordosis dwelms wees nie; dit kan die besluit wees om op te hou eet, of om op te hou om na hulp uit te reik omdat die hulp wat hulle reeds ontvang het nie gehelp het nie. Die eindresultaat is egter dieselfde. ‘n Nasionale geestesgesondheidsorganisasie skat dat vroue twee keer meer geneig is om aan depressie te lei as mans. Mense in lae-inkomste groepe is minder geneig om vir hierdie siekte behandel te word, omdat hulle nie kan bekostig om hulp te kry nie. Het die Bybel die antwoord? Ja. ‘Hy gee krag aan dié wat moeg is. Hy maak die magteloses sterk. Selfs jongmense raak uitgeput en afgemat. Baie jongmense struikel en val. Maar dié wat hulle hoop op die Here stel, sal hulle krag terugkry…’ (Jesaja 40:29-31 NLV).
Sielskos: Eseg 22-23; Mark 15:1-20; Ps 132:1-10; Spr 15:1-4