Druk deur na oorwinning
2018-06-10Romeine 5:3-4 NLV
Michael Phelps het ‘n rekord agt goue medaljes by die 2008 Olimpiese Spele in Beijing verower. Dis egter nie net die aantal medaljes wat ons sal onthou nie, maar sy onoorwinlike gees toe dinge vir hom in die 200 meter vlinderslag drasties verkeerd geloop het. Soos hy die muur geraak het en die resies gewen het, het niemand geweet wat hy deurgemaak het om dit te bereik nie. Die wêreld het met ongeloof toegekyk hoe water uit sy swembril stroom toe Michael dit afhaal. Hy het die 200 meter amper blind geswem, ‘n ervaring wat swemmers vrees. Hy moes sy swemslae tel en desperaat vir enige tekens op die swembadvloer uitkyk, voor hy eindelik die eindpunt kon bereik – ‘n Olimpiese oorwinnaar in elke sin van die woord. Phelps het sy frustrasie gebruik om sy stamina en vasbeslotenheid om te wen, te vermeerder. Paulus sê: ‘…ons jubel selfs in ons swaarkry, want ons besef dat die swaarkry ons leer om te volhard. Op sy beurt kweek volharding betroubaarheid van karakter; en betroubaarheid van karakter versterk ons toekomsverwagting. En hierdie toekomsverwagting sal ons nie teleurstel nie…’ (verse 3-5 NLV). Wat ‘n magdom wonderbaarlike voordele wat God aan ons voorsien wanneer ons probleme in die gesig staar! Volharding: Toewyding daaraan om op sy genade staat te maak en ten spyte van omstandighede aan te hou om vorentoe te beweeg. Betroubaarheid van karakter: innerlike moed wat op persoonlike integriteit gebaseer is. Toekomsverwagting: ‘n diepe oortuiging dat ons uiteindelik daar deur sal kom, wat dit ook al van ons verg. Om dit alles te kroon, word ons sukses in ons God-gegewe missie gewaarborg want ‘…hierdie toekomsverwagting sal ons nie teleurstel nie…’! Wanneer jy nie duidelik kan sien wat voor jou lê nie, strek jouself uit – die eindpunt lê net voor jou!
Sielskos: Matt 5:3; Luk 18:9-14; Jes 57:14-21; 2 Sam 7:18-29