Hartseer en hartsiek (1)

2018-06-11
Spreuke 13:12 NLV

Depressie kan jou laat opgee. Toe die werk te groot vir Moses geword het, het hy vir God gesê, ‘As U dit van my verwag, maak my dan asseblief maar liewer dood as wat ek na hierdie ellende moet sit en kyk’ (Numeri 11:15 NLV). Elia was seker dat Isebel haar dreigemente teen hom sou uitvoer en het vir God gevra om sy lewe te neem. Daar word gesê dat die boek Job oor ‘n tydperk van slegs nege maande strek, maar Job se verliese was so verwoestend dat hy gesê het, ‘Ek haat my lewe!..’ (Job 10:1 NLV). In plaas daarvan om te stry of ‘n Christen wat sy of haar eie lewe neem hemel toe gaan of nie, moet ons eerder vir God vir wysheid vra om te weet wanneer ‘n geliefde so hooploos of emosioneel siek geword het dat hulle dit nie meer langer kan verduur nie. Wie is hierdie mense? Jong mense wat hulself sny as ‘n uitroep om hulp. Oorlogsveterane wat aan post-traumatiese stres ly en nie van die demone van oorlog kan ontsnap nie. Slagoffers van seksuele mishandeling wat hulself tot die dood toe ooreet, drink en dwelms gebruik. Goeie mense wat met seksuele kwessies sukkel maar te vreesbevange is om daaroor te praat. Agt-en-vyftig miljoen Amerikaners stry daagliks met depressie. Hulle slaap in herehuise en onder brûe. Sommige van hulle is Christene met selfdoodgedagtes, wat dit vrees om te hoor dat hulle swak is en nie genoeg geloof het nie. As jy hulle met ‘n vinnige Skrifgedeelte, ‘n kort gebed en ‘n ‘God seën jou’ op hulle pad stuur, gooi jy hulle vir die wolwe. Jesus het jou gestuur, want jy het die Woord, die Gees en die krag om hulle te help.

Sielskos: Eseg 20-21; Mark 14:66-72; Ps 48; Spr 14:33-35