Sadrag, Mesag en Abednego (2)
2018-06-02Daniël 3:1 NLV
Dis veilig om te sê dat enigiemand wat ‘n dertig meter hoë standbeeld van homself bou, heel waarskynlik besig is om vir iets anders te kompenseer. Hierdie standbeeld was die toonbeeld van trots. Ons het almal ‘n bietjie Nebukadnesar in ons. Ons sal nou nie ‘n standbeeld vir onsself oprig nie, maar ons raak ontsteld wanneer mense nie voor ons wense buig nie. Ons sal niemand ooit in ‘n oond gooi nie, maar ons raak witwarm van woede wanneer ons nie ons sin kry nie. Ons soek aanbidding op meer subtiele maniere. Ons oordryf op ons CV’s en vertel witleuentjies om die grys areas in ons lewens weg te steek. As jy nie jou identiteit en sekuriteit in dit wat God vir jou aan die kruis bereik het vind nie, sal jy jou onsekerhede agter jou eie skynheiligheid wegsteek. Jy sal jou eie gevegte probeer veg, jou eie geleenthede probeer skep en jou eie reputasie probeer vestig. Twee Skrifgedeeltes definieer koning Saul se val: 1) ‘Saul het daar ‘n altaar vir die Here gebou…’ (1 Samuel 15:12 NLV). 2) ‘…Saul is Karmel toe om ‘n gedenkteken vir homself op te rig…’ (1 Samuel 15:12 NLV). Samuel het egter reg deur die rookskerm gesien: ‘…Voorheen het jy min van jouself gedink, tog het jy die leier van die stamme van Israel geword…’ (1 Samuel 15:17 NLV). Weet jy wie bou gedenktekens vir hulself? Mense wat min van hulself dink! Hoe onsekerder ‘n persoon oor homself is, hoe meer monumente moet hy bou. Daar is ‘n fyn lyn tussen ‘Laat u koninkryk kom’ en ‘Laat my koninkryk kom.’ As jy oor daardie lyn tree, word jou verhouding met God selfdienend. Jy dien Hom nie, jy gebruik Hom. Jy bou nie altare vir God nie; jy bou vir jouself gedenktekens. Dis afgodery.
Sielskos: Amos 1:1-5:17; Mark 13:12-23; Ps 82; Spr 14:5-8