Wees kreatief
2018-06-03Markus 2:4 NLV
Mary Engelbreit wou altyd kinderboeke illustreer, maar ‘n voorligtingsberader by die skool het vir haar gesê, ‘Jy kan dit nie doen nie. Wees prakties. Kry ‘n graad en word ‘n onderwyser.’ Mary het by ‘n kunswinkel begin werk, oor die industrie geleer en kunstenaars wat ‘n lewe gemaak het deur te doen waarvoor hulle lief was, leer ken. Deur te weier dat struikelblokke op die konvensionele pad na sukses haar terughou, het Engelbreit ‘n erkende kunstenaar geword wat haar eie tydskrif begin het. Proust het gesê, ‘Die ware reis van ontdekking bestaan nie daaruit om nuwe landskappe te soek nie, maar om nuwe oë te hê.’ Leer om buite die boks te dink en onthou, inspirasie ontstaan uit perspirasie! Verwag dat daar probleme gaan opduik en moenie toelaat dat dit jou voornemens verswak nie. Vier mans wat nie hulle verlamde vriend as gevolg van die skare by Jesus kon uitkry nie, ‘…het ‘n gat deur die dak bokant Jesus se kop gemaak. Toe laat hulle die mat waarop die sieke gelê het, deur die dak sak.’ Jesus het geloof in aksie gesien en dit beloon deur die man gesond te maak. Jy kan enigiets bereik as jy daaroor bid en volhard. Rebecca Barlow Jordan sê, ‘Ware kreatiwiteit hou nie by inspirasie op nie. Baie mense het al probeer en gefaal, omdat hulle nie die struikelblokke kon oorkom nie. Die ware kunstenaar sien deur geloof die voltooide prentjie. Almal van ons is kunstenaars en God het vir ons werk om te doen. Hy moedig ons aan om die vrugte van ons arbeid te geniet. Die ware seëning vind egter nie net plaas wanneer ons dinge regkry nie, maar wanneer kreatiwiteit sy goddelike oorsprong bekragtig en eer aan God bring.’
Sielskos: Gal 5:23; Spr 16:32; 2 Pet 1:5-8; Heb 11:23-27