Waar is God in die storm?
2018-05-31Handelinge 27:20 NLV
Daar is tye wat dit voel of God ontoeganklik is. Wanneer jy in jou huidige omstandighede bid, voel jy verlate. Nie net verlate nie, maar vreesbevange en selfs hopeloos. Paulus het daardie gevoel verstaan. Hy het gesmag na ‘n geleentheid om in Rome te gaan preek en was onderweg daarheen toe ‘n orkaan sy skip vernietig het. Paulus het voorsien dat nie net die skip en die vrag verlore sou gaan nie, maar dat hulle ook hulle lewens sou verloor (sien vers 10). Hy het die bemanning van die dreigende tragedie probeer waarsku, maar sy woorde is deur die mense in beheer verontagsaam. In kort, is Paulus en 276 ander mense in ‘n lewensgevaarlike posisie geplaas en daar was niks wat hy daaraan kon doen nie. Hy en sy gelowige metgeselle het wanhopig gevoel en verklaar, ‘Uiteindelik is alle hoop laat vaar dat ons gered sou word.’ Na veertien dae wat hulle op see verlore was – toe die orkaan op sy ergste gewoed het – het God ‘n engel gestuur. ‘…Hou op bang wees, Paulus… om jou ontwil spaar God almal wat hier saam met jou op die skip is’ (vers 24 NLV). Toe dit lyk asof Paulus se verterende begeerte om in Rome te gaan preek gedwarsboom sou word, het God hulle getrou deur die storm gestuur na die presiese bestemming wat Hy vir hulle in gedagte gehad het. Paulus sou na Rome gaan en God se Woord voor Caesar verklaar! Is jy in ‘n storm vasgevang? Watter toets jy ook al vandag voor te staan kom, weet hierdie een ding: Jy kan God vertrou om jou daardeur te dra. Hy maak ‘…die einde bekend vanaf die begin…’ (Jesaja 46:10 NLV), dus sal jy sterkter en wyser hier deur kom.
Sielskos: Klaag 1:1-3:39; Mark 12:28-44; Ps 108; Spr 13:24-25