2018-05-30
Hebreërs 6:1 NLV
Ons almal kry dieselfde 168 ure per week. As die enigste tyd wat jy aan jou geestelike groei spandeer egter die tyd is wat jy in die kerk op ‘n Sondagoggend is, sal jy nooit verder as geestelike kinderskoene beweeg nie. Dink daaroor. ‘n Baba kan nie homself voed nie; hy verkies lekkers bo wortels; val gereeld en moet opgetel word; kruip rond en kom in die moeilikeid; hy is basies self-gesentreerd en moet gedissiplineer en opgelei word. Kry jy die prentjie? Die wedergeboorte is opwindend, maar dit moet jou wegspringplek wees, nie jou wiegie nie. Die Bybel sê, ‘Kom ons hou op om oor en oor te konsentreer op die basiese aspekte van Christenskap. Kom ons gaan verder en word geestelik volwasse…’ Dit hang van jou af! Op ‘n sekere punt moet jy vir jouself sê, ‘Van vandag af gaan ek doen wat nodig is om geestelik te groei en God se plan vir my lewe te ontdek.’ Een dag aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog, het generaal Louis Lyautey sy tuinier gevra om ‘n spesifieke soort boom op sy landgoed te plant. Die tuinier het hom ingelig dat die boom besonder stadig groei en dat dit amper ‘n eeu sou neem om volwassenheid te bereik. ‘In daardie geval,’ het die generaal geantwoord, ‘is daar geen tyd om te verspeel nie. Plant hom sommer vanmiddag nog!’ Hier is ‘n rotsvaste plan om tot geestelike volwassenheid te groei: ‘Gelukkig is die mense wat… vreugde vind in die gebooie van die Here en sy voorskrifte dag en nag oordink. Hulle is soos bome geplant langs ‘n rivier, wat vrugte dra op die regte tyd. Hulle blare verwelk nie; in alles wat hulle doen, is hulle voorspoedig’ (Psalm 1:1-3 NLV).
Sielskos: Gal 4-6; Mark 12:13-27; Ps 101; Spr 13:20-23
2018-05-29
Handelinge 1:3 NLV
Bewyse van Christus se opstanding is deegliker as enige ander feit in die geskiedenis ondersoek! Dit is deur sommige van die grootste geleerdes in die wêreld geweeg en oorweeg, onder andere deur Simon Greenleaf, ‘n gesiene professor wat van 1833 tot 1848 by Harvard se regskool gedoseer het. Hy het gehelp om Harvard se regskool bekend te maak en word gesien as een van die grootste gesaghebbendes rakende wetlike bewyse in die wêreldsgeskiedenis. Toe Greenleaf die opstanding begin ondersoek het, het hy tot die gevolgtrekking gekom dat dit ‘n realiteit is, dat dit ‘n historiese gebeurtenis was en dat enigiemand wat die bewyse eerlik ondersoek, ook daarvan oortuig sal wees. Dit was ook dan die geval met dr Frank Morison, ‘n Britse prokureur/ingenieur wat ‘n boek wou skryf wat die idee van die opstanding van Christus sou verwerp. Hy het toe ‘n boek geskryf – maar dit was nie die boek wat hy bedoel het om te skryf nie! Soos hy die bewyse ondersoek het, het hierdie skeptiese prokureur dit so oorweldigend gevind dat hy geforseer was om dit te aanvaar en het hy ‘n gelowige geword. Die boek wat hy geskryf het, Who Moved the Stone, gee gedetailleerde bewyse van die opstanding. Die eerste hoofstuk van die boek is getiteld The Book That Refused to Be Written. ‘n Generaal in die Amerikaanse burgeroorlog, die prokureur Lew Wallace, het ook besluit om ‘n boek te skryf wat die goddelikheid van Christus en die opstanding sou verwerp, maar op die ou einde het hy dit in sy beroemde boek, Ben-Hur, wat as die ‘invloedrykste boek van die negentiende eeu’ beskryf is, verdedig. Christus het opgestaan! Jou verloste geliefdes sal ook opstaan en jy sal die ewigheid saam met hulle in God se teenwoordigheid deurbring.
Sielskos: Gal 1-3; Mark 12:1-12; Ps 128; Spr 13:17-19
2018-05-28
Galasiërs 6:2 NLV
Dr Raymond Vath het gesê, ‘Ons moet vir ander doen wat hulle nie vir hulleself kan doen nie, maar ons moet nie vir hulle doen wat hulle nie vir hulleself wil doen nie. Die probleem is om die wysheid te vind om die verskil te weet.’ Jy kan te veel help! Deur vir iemand dinge te doen wat hulle vir hulself kan doen, ondermyn jy hulle selfstandigheid en skep jy ‘n ongesonde afhanklikheid. In plaas daarvan om dus in te storm en oor te neem: 1) Wys vir hulle hanteerbare stappe van aksie. Deur hulle te help om beheer van hulle lewens te neem, bewapen jy hulle teen wanhoop en magteloosheid. Jy help ook so om hulle brose selfvertroue op te bou. ‘n Woord van waarskuwing: Wanneer die krisis onomkeerbare verlies soos ‘n skeisaak of die dood behels, is die werk om eenvoudig deur een dag op ‘n slag te kom, genoeg aksie. 2) Gee hulle hoop. In die diepte van die krisis voel dit of daar geen lig aan die einde van die tonnel is nie – ‘n gevoel dat die lyding vir ewig gaan aanhou. Groei en verbetering kan nie sonder hoop plaasvind nie. Hoop verskaf energie en bring verligting gebaseer op die geloof dat dinge sal verbeter, mee. God belowe, ‘…Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê’ (Jeremia 29:11 NLV). 3) Maak seker dat jy opvolg. Krisisse word selde vinnig opgelos. Alhoewel ‘n lewe uiteindelik ‘n mate van normaliteit sal aanneem, kan daar steeds episodes wees waar die persoon terugval in hartseer, hulpeloosheid en eensaamheid. Jou woorde mag troos bring, maar jou deurlopende aandag sal die persoon help om hulle geloof te behou en te vorder op hulle reis na genesing.
Sielskos: Rig 19:16-21:25; Mark 11:27-33; Ps 45; Spr 13:13-16
2018-05-27
2 Korintiërs 1:4 DB
Een manier om ‘n vriend in krisis te help is om hulle te help om belangrike hulpbronne te identifiseer – geestelik, persoonlik en interpersoonlik. 1) Geestelike hulpbronne. ‘God is ons toevlug en ons krag; in nood is Hy gereed om te help’ (Psalm 46:1 NLV). God se Woord verlig die donkerte en verwarring. Sy Gees is die bron van alle troos – Hy gee ‘…vrede… wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink…’ (Filippense 4:7 NLV). Sy teenwoordigheid spreek die eensaamheid aan en sy krag help ‘n seer hart om gevoelens van hulpeloosheid te oorkom. Mense wat in krisis verkeer is dikwels gedisoriënteerd, wat veroorsaak dat hulle vergeet wat God hulle reeds gegee het. 2) Persoonlike hulpbronne. Herinner hulle aan hulle unieke sterkpunte en vaardighede. Help hulle om oorwinnings wat hulle in die verlede suksesvol in moeilike tye genavigeer het, te onthou. Moedig ‘n positiewe houding aan wat na die toekoms kyk eerder as om deur die huidige pyn verlam te word. Die belangrikste is egter om hulle geloof met gebed en waarhede uit God se Woord te versterk. Laaste maar nie die minste nie, herinner hulle aan jou ondersteuning. 3) Interpersoonlike hulpbronne. Familielede, vriende, kollegas en bure sal heel waarskynlik ondersteundend wees, en gemeenskapshulpbronne is ook vir mediese, finansiële en materiële hulp beskikbaar. Die plaaslike kerk is nog ‘n bron van hulp. Mense wat in krisis verkeer, is dikwels skaam om vir hulp te vra; hulle voel dat hulle hulle probleme self behoort te hanteer. Help hulle verstaan dat jy geseën word deur te gee en dat hulle eendag ook die geleentheid sal hê om iemand te ‘…help en troos wanneer hulle swaarkry…’
Sielskos: Gal 5:23; Jes 40:9-11; Jes 42:1-4; Ps 18:31-35
2018-05-26
Galasiërs 6:2 DB
Wanneer ‘n vriend of familielid ‘n krisis ervaar, moet jou doel wees om hulle te help om dit te hanteer en daardeur te groei. Soms is dit makliker gesê as gedaan! Soos wat hulle seer harte by die nuwe omstandighede aanpas, sal hulle dalk skepties wees oor wie hulle kan vertrou. Om daar te wees vir hulle is egter waaroor die koninkryk van God gaan! ‘Help ander gelowiges wat swaarkry…’ (vers 2 NLV). Jou toewyding kan ‘n betekenisvolle rol in iemand se reis om weer emosioneel gesond te word, speel. Hier is drie praktiese voorstelle: 1) Moenie van hulle verwag om kontak te maak nie. Dis algemeen van mense wat ‘n krisis ervaar om te onttrek eerder as om vir hulp te vra. Dikwels is hulle te ontsteld om te weet wat hulle nodig het, so jy sal heel waarskynlik die eerste tree moet neem. Moet ook asseblief nie voel asof jy ‘n kundige moet wees nie. Twee eenvoudige stappe kan die persoon wat seer het gewaardeerd laat voel en laat voel asof jy hulle seerkry verstaan: a) Luister versigtig na hulle bekommernisse en persepsies. b) Behou oogkontak en stel waarlik belang. 2) Help om hulle angs te verminder. Bied ‘n kalmerende teenwoordigheid deur hulle uit te nooi om hulle gevoelens te deel. As hulle denkwyse verwring voorkom, sê iets soos, ‘Mag ek ‘n ander manier voorstel om na dinge te kyk?’ 3) Help hulle om te fokus op dit wat belangrik is. Hulle voel oorweldig, help hulle dus om op die sake te fokus wat hulle onmiddellike aandag moet geniet. In plaas van om oor die verlede te tob en oor die toekoms bekommerd te wees, moedig hulle aan om op die huidige oomblik te konsentreer en vir die hier en nou te leef (sien Matteus 6:34).
Sielskos: Rig 16:1-19:15; Mark 11:12-26; Ps 47; Spr 13:11-12
2018-05-25
Romeine 12:8 NLV
Ons sê, ‘Dis nie my verantwoordelikheid nie. Ek wil nie betrokke raak nie!’ Het jy al ooit hierdie woorde gesê? Jy mag dalk dink dat jy ‘n goeie rede gehad het – miskien was dit ‘n ongerieflike tyd – maar die punt is dat jy nie aangebied het om iemand in nood te help nie. Jy is nie alleen nie. Navorsing wys dat die neiging om betrokkenheid te vermy wêreldwyd aan die toeneem is. Nietemin is dit ‘n Bybelse mandaat om ‘daar te wees’ vir ander mense; dis die praktiese toepassing daarvan om God en jou naaste lief te hê (sien Matteus 22:37-39). Krisisse doen hulle gewoonlik op drie maniere voor: 1) Situasie krisisse wat ernstige siektes, die dood van ‘n geliefde of die ineenstorting van familieverhoudings insluit. Die patriarg Job het almal van hulle ervaar! 2) Krisisse wat as gevolg van die verloop van tyd ontwikkel – om die huis te verlaat, om universiteit toe te gaan, huweliksaanpassings, ouerskap, aftrede of gesondheid wat afneem. Abraham en Sara het van hierdie tipe krisisse geweet. Hulle het hulle huis en familie verlaat en jare van kinderloosheid verduur. Toe het God hulle nog boonop gevra om hulle ‘wonderwerk’ seun te offer. 3) Self-bewuste krisisse is wanneer jy ontstellende waarhede oor jouself ontdek – jy word vertel dat jou siekte, menslik gesproke, nie behandelbaar is nie, of jy sien jouself as ‘n mislukking omdat jy te oud voel om jou lewensdoelwitte te bereik. Miskien staar die realiteit jou in die gesig dat jy geskei of ‘n wewenaar of weduwee is, of jy voel as gevolg van jou agtergrond verwerp. Mense soos Elia en Jona is voorbeelde van self-bewustelike krisisse. Laat enige van hierdie voorbeelde jou aan iemand dink? Wees dan daar vir hulle.
Sielskos: Rig 12-15; Mark 11:1-11; Ps 97; Spr 13:9-10