Wees daar (4)
2018-05-28Galasiërs 6:2 NLV
Dr Raymond Vath het gesê, ‘Ons moet vir ander doen wat hulle nie vir hulleself kan doen nie, maar ons moet nie vir hulle doen wat hulle nie vir hulleself wil doen nie. Die probleem is om die wysheid te vind om die verskil te weet.’ Jy kan te veel help! Deur vir iemand dinge te doen wat hulle vir hulself kan doen, ondermyn jy hulle selfstandigheid en skep jy ‘n ongesonde afhanklikheid. In plaas daarvan om dus in te storm en oor te neem: 1) Wys vir hulle hanteerbare stappe van aksie. Deur hulle te help om beheer van hulle lewens te neem, bewapen jy hulle teen wanhoop en magteloosheid. Jy help ook so om hulle brose selfvertroue op te bou. ‘n Woord van waarskuwing: Wanneer die krisis onomkeerbare verlies soos ‘n skeisaak of die dood behels, is die werk om eenvoudig deur een dag op ‘n slag te kom, genoeg aksie. 2) Gee hulle hoop. In die diepte van die krisis voel dit of daar geen lig aan die einde van die tonnel is nie – ‘n gevoel dat die lyding vir ewig gaan aanhou. Groei en verbetering kan nie sonder hoop plaasvind nie. Hoop verskaf energie en bring verligting gebaseer op die geloof dat dinge sal verbeter, mee. God belowe, ‘…Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê’ (Jeremia 29:11 NLV). 3) Maak seker dat jy opvolg. Krisisse word selde vinnig opgelos. Alhoewel ‘n lewe uiteindelik ‘n mate van normaliteit sal aanneem, kan daar steeds episodes wees waar die persoon terugval in hartseer, hulpeloosheid en eensaamheid. Jou woorde mag troos bring, maar jou deurlopende aandag sal die persoon help om hulle geloof te behou en te vorder op hulle reis na genesing.
Sielskos: Rig 19:16-21:25; Mark 11:27-33; Ps 45; Spr 13:13-16