‘n Gebed vir sukses by die werk

2018-05-24
Spreuke 22:29 NLV

Hier is ‘n gebed vir sukses by die werk: ‘Here, ek dank U vir die manier wat U my gemaak het, vir die baie gawes en talente wat U in my geplaas het en ek vertrou dat ek die beste persoon vir die werk is. Ek is dankbaar vir ieder en elke persoonlikheid waarmee ek werk, selfs diegene wat ek nie regtig van hou of verstaan nie. Ek vra dat my fokus gedurende my tyd in hierdie posisie, op die doelwitte wat U vir my gestel het, sal wees. Gee my die wysheid en insig om die werk te kan doen, selfs te midde van ‘n vyandige omgewing. Help my om te verstaan wat U my hier wil leer en gee my geduld soos U my vir die toekoms voorberei. Help my om my beste te lewer en altyd positief en hoopvol te bly. Stil die klagtes en teleurstellings van my hart deur U perfekte vrede en laat my toe om U met my werk te vertrou. Klee my in die kledingstukke van lof en die regverdigheid van Christus sodat ek U by die werk kan verheerlik. Laat my toe om my ware identiteit te ken, om in U guns te wandel en om U, meer as die mense waarmee ek werk, te probeer tevrede stel. Waar daar twis is, laat my ‘n vredemaker wees. Waar daar bedrog is, laat my die waarheid praat. Waar daar wanhoop is, laat my hoop bring. Waar daar vrees is, laat my geloof bring. Waar daar donkerte is, laat my lig bring. Waar daar hartseer is, laat my vreugde bring. Hierdie dinge vra ek in Jesus se Naam. Amen.’

Sielskos: Rig 9:34-11:40; Mark 10:35-52; Ps 129; Spr 20:25; Pred 5:4-6

Bid vir insig wanneer jy iemand in diens neem

2018-05-23
1 Konings 3:9 DB

Dr John Maxwell skryf: ‘Verskeie jare gelede het ek met ‘n groep bestuurders gepraat, toe iemand my vra watter beginsels ek volg wanneer ek mense in diens neem. ‘Ek het net een reël,’ het ek verduidelik. ‘Ek laat dit aan iemand anders oor.’ Dit het hulle aandag getrek. ‘Ek is baie sleg daarmee. Omdat ek so optimisties is en ‘n hoë dunk van mense het, is ek onrealisties. Dit maak nie saak watter rooi vlae in ‘n onderhoud opduik nie, ek dink altyd: Ek kan hierdie persoon help om te verbeter en sukses te behaal. Dis nie die regte houding vir iemand wat onderhoude voer nie. Om suksesvol in hierdie area te wees, het jy mense nodig wat skepties is – die tipe individue wat nie eens hulle eie moeder sal aanstel nie. Toe ek ophou om mense aan te stel, het dit my organisasie na ‘n heel nuwe vlak toe geneem.’ Toe ek vir die bestuurders sê dat ek nie meer in beheer van aanstellings is nie, kon ek sien dat hulle eerste reaksie negatief is. Soos ek egter verduidelik het, kon ek sien dat hulle die feit dat ek my eie swakpunte ken, waardeer en hulle het my eerlikheid gerespekteer. Daar is min dinge erger as iemand wat nie weet waarvan hy praat nie, dinge opmaak soos hy aangaan en voorgee dat hy kundigheid het terwyl hy nie ‘n idee het wat aangaan nie.’ As jy in die verlede die verkeerde mense aangestel het, delegeer die werk aan iemand wat goed is daarmee. As jy dit egter self moet doen, bid Salomo se gebed: ‘…Gee vir my die insig om regverdig te wees en tussen goed en kwaad te kan onderskei… Hoe kan ek sonder u hulp hierdie groot volk van U regeer?’

Sielskos: Rig 7:1-9:33; Mark 10:23-34; Ps 93; Spr 13:7-8

Bevry die slawe (2)

2018-05-22
Psalm 107:13-14 NLV

God is in die besigheid om mense te bevry – moreel en geestelik. Toe die Israeliete in slawerny vasgevang was, ‘…het hulle geroep, en Hy het hulle uit die nood bevry’ (vers 13 NLV). Jesus doen dit steeds vandag, en ‘As die Seun van God dus sê julle is vry, is julle regtig in God se gesin vry’ (Johannes 8:36 DB). Volg dus hierdie stappe na vryheid: 1) Roep God aan. Hy het gesê, ‘As julle heelhartig na My soek, sal julle My vind’ (Jeremia 29:13 NLV). Israel se roep het herhaaldelik uit die hart gekom en God reageer steeds op hartsroepe. Verlossing begin by die erkenning van jou totale afhanklikheid van Hom. In plaas daarvan om dit alles op jou eie te hanteer, sê die Bybel, ‘Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om’ (1 Petrus 5:7 NLV). 2) Voed jou siel geestelik. Jesus het gesê, ‘Ek is die brood wat lewe gee… As iemand van hierdie brood eet, sal hy vir altyd lewe…’ (Johannes 6:51 NLV). As jy van God se Woord eet en jou gevoelens in gebed deel, sal Hy jou las ligter maak en jou siel voed. Hy het gekom om ‘…aan te kondig dat gevangenes vrygelaat sal word… dat onderdruktes bevry sal word…’ (Lukas 4:18 NLV). Neem tyd om oor God se Woord te mediteer. Reflekteer daarop totdat jy verstaan hoe dit op jou lewe van toepassing is. Kennis sonder die toepassing daarvan is nutteloos. Vryheid benodig die daaglikse inname van die Skrif en die toepassing daarvan op jou huidige omstandighede. ‘Gelukkig is die mense wat… vreugde vind in die gebooie van die Here en sy voorskrifte dag en nag oordink’ (Psalm 1:1-2 NLV). Doen dit elke liewe dag – en wees vry!

Sielskos: Rig 4-6; Mark 10:13-22; Ps 88:9b-18; Spr 13:4-6

Bevry die slawe (1)

2018-05-21
Eksodus 3:8 NLV

Vir vierhonderd jaar was die Israeliete slawe vir Egiptenaars wat hulle onderdruk en ‘…die lewe bitter swaar gemaak het vir [hulle]…’ (Eksodus 1:14 NLV). Baie van ons kan hulle gevoel van hulpeloosheid verstaan wanneer ons aan die areas in ons eie lewens waar ons met verslawing sukkel, dink. Of dit nou kos, alkohol, dwelms, seks, geld of afbrekende verhoudings is, ons het al almal die sin van magteloosheid ervaar in ons herhaalde pogings om daarvan vry te breek. Gebroke en platgeslaan, het Israel tot God geroep en Hy het geantwoord, ‘…Jy kan seker wees dat Ek gesien het hoe swaar my volk in Egipte kry. Ek het gehoor hoe hulle teen hulle slawedrywers om hulp roep. Ek is baie bewus van hoe swaar hulle kry’ (Eksodus 3:7 NLV) Let op hoe God deernis aan hulle bewys het: ‘Daarom het Ek gekom om hulle van die Egiptenaars te bevry en hulle weg te lei uit Egipte na hulle eie mooi, groot land. Dit is ‘n land met oorgenoeg kos…’ (vers 8 NLV). God het gekom om hulle op te help – en Hy kan vandag dieselfde vir jou doen. Israel se verlossing is deur die slag van ‘n vlekkelose paaslam bewerkstellig. Hulle het sy bloed aan hulle deurkosyne gesmeer en die engel van die dood het hulle oorgesien. Die Bybel sê, ‘…Ook vir ons is daar immers ‘n Paaslam geslag – Christus’ (1 Korintiërs 5:7 NLV). Jesus Christus, ons Offerlam, het sy bloed gegiet om ons vry te stel van wat ook al dit is wat van ons slawe maak. Waarmee worstel jy vandag? Jy kan uit slawerny bevry word – nie deur jou eie vergeefse pogings nie – maar deur God te vertrou wat die roep van sy mense beantwoord.

Sielskos: Rig 1-3; Mark 10:1-12; Ps 88:1-9a; Spr 13:1-3

Nuttige wenke vir ‘n gelukkige huwelik

2018-05-20
Spreuke 31:11 NLV

As jy ‘n gelukkige huwelik wil hê, moet jy altyd hierdie twee dinge in gedagte hou:  1)  Moet nooit jou maat in die openbaar verneder nie. Wanneer jy dit doen, verneder jy jouself. Salomo skryf, ‘Waar sal jy ‘n knap vrou kry? ‘n Goeie vrou is meer werd as edelstene. Haar man het volkome vertroue in haar… Haar hele lewe lank bring sy vir hom net voordeel…’ (verse 10-12 NLV). Iemand het gesê, ‘Voor jy jou maat se smaak kritiseer, stop en onthou dat hy/sy jou gekies het!’ Die feit is dat ons almal diep binne in ons gewoontes, swakhede, worstelinge, fantasieë, herinneringe uit ons kindertyd en onuitgesproke begeertes het. Ons hunkering na iemand om te vertrou is diep en onveranderlik. Dis hoekom God die huwelik ontwerp het om ‘n veilige hawe in ‘n gevaarlike wêreld te wees. As jy nie jou maat kan vertrou nie – wie kan jy dan vertrou?  2)  Koester altyd gedeelde drome en doelwitte. Deesdae skei ‘n skokkende hoeveelheid paartjies tussen die sewentiende en vyf-en-twintigste huweliksjaar. Weet jy hoekom? Dis gewoonlik wanneer die laaste kind met skool of universiteit klaar maak en die huis verlaat. Nou is dit net die twee van julle. As jy al jou tyd spandeer het om op jou kinders te fokus en mekaar verwaarloos het, word jy eendag wakker en voel of jy saam met ‘n vreemdeling leef. Hoe vermy mens dus hierdie situasie? Deur lewenslange doelwitte en drome te hê waarnatoe beide van julle werk. Onthou, julle is meer as net ouers – julle is mense – en God het ‘n plan vir julle lewens as paartjie. As julle dit nog nie ontdek het nie, praat daaroor en bid dan en vra dat God dit aan julle sal openbaar. Dis ‘n gebed wat Hy sal beantwoord!

Sielskos: Lev 23:15-22; Hand 2:1-18

Wat sê God vir jou?

2018-05-19
Romeine 8:28 NLV

Die skrywer A.J. Cronin het al vir amper tien jaar as dokter gepraktiseer voordat hy ‘n maagseer ontwikkel het wat volkome rus geverg het om te genees. Hy het dus na ‘n plaas in die Skotse Hooglande vertrek om daar te gaan aansterk. Hy sê, ‘Die eerste paar dae van ontspanning was heel aangenaam, maar gou het die ledigheid van die plaas ondraaglik geword. Ek het dikwels, in my agterkop, die vae illusie gehad dat ek dalk wou skryf. Ek het inderwaarheid reeds die tema van ‘n boek uitgewerk – die tragiese verhaal van ‘n man se egoïsme en bitter trots. In my koue, skoon slaapkamer was daar ‘n skoongeskropte tafeltjie en ‘n baie harde stoel. Die volgende oggend het ek myself op hierdie stoel met ‘n skoon oefenboek oop op die tafel voor my bevind en stadig maar seker bewus geword van die feit dat ek nog nooit ‘n betekenisvolle frase in my hele lewe uitgedink het nie. Dit was ‘n ontmoedigende gedagte soos ek my pen opgetel het. Tog het ek begin.’ Selfs al het Cronin gesukkel om vyfhonderd woorde ‘n dag te skryf en selfs al het hy sy eerste poging op die plaas se ashoop gegooi, het hy Hatter’s Castle klaargemaak. Die boek is gedramatiseer, in twee-en-twintig tale vertaal en daar is amper vyf miljoen kopieë daarvan verkoop. Die wêreld het ‘n dokter verloor, maar ‘n skrywer bygekry. Wanneer God jou ‘n droom gee, sal die omstandighede om dit te vervul nie altyd na jou sin wees nie. In Josef se geval het dit verraad en onverdiende gevangenisstraf behels. Dis wat egter nodig was om hom op Egipte se troon te kry. Vra dus vandag vir God, ‘Wat probeer U te midde van hierdie situasie vir my sê of wys?’

Sielskos: Rut 1-4; Mark 9:38-50; Ps 18:30-50; Spr 12:25-28