Bevry die slawe (1)

2018-05-21
Eksodus 3:8 NLV

Vir vierhonderd jaar was die Israeliete slawe vir Egiptenaars wat hulle onderdruk en ‘…die lewe bitter swaar gemaak het vir [hulle]…’ (Eksodus 1:14 NLV). Baie van ons kan hulle gevoel van hulpeloosheid verstaan wanneer ons aan die areas in ons eie lewens waar ons met verslawing sukkel, dink. Of dit nou kos, alkohol, dwelms, seks, geld of afbrekende verhoudings is, ons het al almal die sin van magteloosheid ervaar in ons herhaalde pogings om daarvan vry te breek. Gebroke en platgeslaan, het Israel tot God geroep en Hy het geantwoord, ‘…Jy kan seker wees dat Ek gesien het hoe swaar my volk in Egipte kry. Ek het gehoor hoe hulle teen hulle slawedrywers om hulp roep. Ek is baie bewus van hoe swaar hulle kry’ (Eksodus 3:7 NLV) Let op hoe God deernis aan hulle bewys het: ‘Daarom het Ek gekom om hulle van die Egiptenaars te bevry en hulle weg te lei uit Egipte na hulle eie mooi, groot land. Dit is ‘n land met oorgenoeg kos…’ (vers 8 NLV). God het gekom om hulle op te help – en Hy kan vandag dieselfde vir jou doen. Israel se verlossing is deur die slag van ‘n vlekkelose paaslam bewerkstellig. Hulle het sy bloed aan hulle deurkosyne gesmeer en die engel van die dood het hulle oorgesien. Die Bybel sê, ‘…Ook vir ons is daar immers ‘n Paaslam geslag – Christus’ (1 Korintiërs 5:7 NLV). Jesus Christus, ons Offerlam, het sy bloed gegiet om ons vry te stel van wat ook al dit is wat van ons slawe maak. Waarmee worstel jy vandag? Jy kan uit slawerny bevry word – nie deur jou eie vergeefse pogings nie – maar deur God te vertrou wat die roep van sy mense beantwoord.

Sielskos: Rig 1-3; Mark 10:1-12; Ps 88:1-9a; Spr 13:1-3