2018-05-18
Genesis 22:16-17 NLV
God het vir Abraham gesê, …’Omdat jy My gehoorsaam het en nie eens jou geliefde seun van My weerhou het nie, neem Ek ‘n eed dat Ek jou oorvloedig sal seën. Ek sal jou nageslag vermenigvuldig tot ‘n ontelbare menigte, soos die sterre aan die hemel…’ Isak was die lewenslange droom van ‘n onvrugbare vrou genaamd Sara en ‘n impotente man genaamd Abraham. Hoe meer God jou seën, hoe moeiliker is dit egter om te keer dat daardie seëning ‘n afgod in jou lewe word. Geld kan dalk die beste voorbeeld hiervan wees. Hoe meer geld jy maak, hoe moeiliker is dit om die Almagtige God te vertrou en hoe makliker is dit om die almagtige rand te vertrou. As jy finansieel geseën is, is dit ‘n gawe van God (sien Deuteronomium 8:18). God seën ons egter nie finansieel sodat ons dit selfsugtig kan gebruik nie. Hy seën ons meer, sodat ons ‘n groter seën vir ander kan wees (sien Genesis 12:2). Die waarheid is dat dit waarvan jy bereid is om weg te stap, dit is wat God gewillig is om aan jou toe te vertrou. Hy wil hê dat jy op ‘n plek moet kom waar jy jou identiteit op Wie s’n jy is vind, eerder as wie jy is. Jy kan jou identiteit op ‘n duisend verskillende dinge baseer – die grade wat jy behaal het, die posisie wat jy beklee, die salaris wat jy verdien, ens. As jy jou identiteit egter op iets tydelik baseer, is jou identiteit ‘n huis van kaarte. Daar is net een soliede fondasie: Jesus Christus. Wat staan dus tussen jou en God? Wat voed jou ego? Waar vind jy jou identiteit buite Christus? Dis wat jy vandag op die altaar moet plaas.
Sielskos: Obad; Mal 1-4; Mark 9:30-37; Ps 18:1-29; Spr 12:23-24
2018-05-17
Genesis 22:9 NLV
Abraham het Isak as ‘n spesiale geskenk van God gesien. God-gegewe geskenke is egter wonderlike – en gevaarlike – dinge. Hoekom sê ons so? Soos jy die gawes wat God jou gegee het begin ontwikkel, begin jy meer op hulle staatmaak as wat jy op God staatmaak. Dit is op daardie punt wat jou grootste sterkpunt jou grootste swakheid word. Dit is God wat vir Lucifer ‘n beeldskone vorm en ‘n pragtige stem gegee het. Daardie gawes is oorspronklik tot God se glorie gebruik. Toe het Lucifer in die spieël begin kyk en oor sy eie skoonheid begin reflekteer. Hy het begin om die gawe wat aan hom gegee is, eerder as God, te verheerlik. Die les in Lucifer se val is die volgende: Wat jy nie in lof verander nie, verander in hoogmoed. Dis ‘n probleem, want ‘…God is téén mense wat te veel van hulleself dink, maar aan dié wat besef hoe afhanklik hulle van Hom is, gee Hy sy onverdiende goedheid’ (Jakobus 4:6 NLV). In plaas van om lof na God toe te swaai, het Lucifer dit gebruik om sy ego te voed. Dit was sy sondige begeerte om opgehef te word wat tot sy val gelei het. Wat is jou grootste God-gegewe gawes? Wat is jou belangrikste God-gegewe geleenthede? Watter groot drome het die Heilige Gees in jou laat wortel skiet? Dit is jou ‘Isak.’ Jy moet jou ‘Isak’ liefhê en hom vier, maar jy moet nooit toelaat dat dit God se plek in jou lewe inneem nie. As jou drome vir jou belangriker as God word, moet jy hulle ter wille van jou siel opoffer. Jy moet hulle op die altaar plaas en die mes oplig. Soms moet jou droom doodgaan voordat dit vir God se glorie opgewek kan word.
Sielskos: 1 Pet 1-5; Mark 9:14-29; Ps 49; Spr 12:20-22
2018-05-16
Genesis 22:1 NLV
Die Bybel sê: “Na ‘n tyd wou God Abraham se geloof en gehoorsaamheid toets… God sê vir hom: ‘Neem jou seun, jou enigste seun, ja, vir Isak wat jy so liefhet, en gaan na die land Moria. Offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal wys’… Daarna het [Abraham] vertrek na die plek wat God vir hom aangedui het” (verse 1-3 NLV). Jy vra, “Hoekom sal God my toets?” Eerstens, om te bewys dat Hy aan jou getrou is. Tweedens, om jou die geleentheid te gee om te bewys dat jy aan Hom getrou is. Jou toetse is die manier hoe jy na die volgende vlak in sy koninkryk beweeg. Daardie dag het Abraham bewys dat hy vir niks liewer as vir God was nie. Dit was ook daardie dag dat God Homself as ‘Jehovah Jireh’ – die Here wat voorsien – aan Abraham voorgestel het. Dis wanneer jy jou geloof uitoefen dat jy God se getrouheid ontdek. Die toetse sal ongetwyfeld rondom dit wat die belangrikste vir jou is, gesentreerd wees. Waarin vind jy hou identiteit? Waarin vind jy jou sekuriteit? Dit is jou “Isak”. God sal jou toets om seker te maak dat jy jou identiteit en sekuriteit in Hom alleenlik vind. Hy sal inderwaarheid enigiets toets wat jy meer as Hom vertrou, totdat jy dit op die altaar plaas. Moenie bekommerd wees nie; jy hoef nie in vrees te lewe dat God dit wat vir jou die belangrikste is gaan wegneem nie. Wanneer die geskenk egter belangriker as die Gewer word, dan word die einste ding wat God jou gegee het om sy doelwitte te dien, iets wat sy plan vir jou lewe ondermyn. Dit is hoekom God dit sal hanteer.
Sielskos: Deut 32:29-34:12; Mark 9:1-13; Ps 62; Spr 12:18-19
2018-05-15
Lukas 23:18 NLV
Die Bybel sê: ‘Hulle het dit egter saam met die menigte uitgekreet: ‘Weg met hom! Laat Barabbas vir ons los!’ (Barabbas was in die tronk gegooi oor ‘n oproer in die stad en oor ‘n moord)’ (verse 18-19 NLV). Net soos Barabbas, verdien ons om vir ons sondes te sterf. Vier tronkmure, deur vrees, seer en haat gebou, omring ons. Ons word deur ons verlede, ons verkeerde keuses en ons trots gevange gehou. Ons is skuldig bevind. Ons sit op die vloer van ‘n stowwerige sel en wag vir die finale oomblik. Ons laksman se voetstappe eggo teen die klipmure. Kop tussen die knieë, kyk ons nie op as hy die deur oopmaak nie; ons lig nie ons oë as hy begin praat nie. Ons weet wat hy gaan sê: ‘Tyd om vir jou sondes te betaal.’ Dan hoor ons egter iets anders: ‘Jy is vry om te gaan. Hulle het Jesus in jou plek geneem.’ Die deur swaai oop en die wag skel, ‘Loop!’ en ons bevind onsself in die oggendson, ons boeie is weg, ons misdade is vergewe en ons wonder, ‘Wat het nou net gebeur?’ Genade het gebeur! God het jou sondes weggeneem. Almal van hulle. Waarheen het Hy hulle geneem? Na die bopunt van ‘n heuwel genaamd Golgota. ‘Maar nou spreek God ons in sy onverdiende goedheid vry op grond van die verlossing wat Christus Jesus vir ons verkry het – en dit sonder enige verdienste van ons kant. Want God het Hom gestuur as ‘n offer wat deur sy sterwe versoening bewerk het vir almal wat glo…’ (Romeine 3:24-26 NLV). Jesus het jou lief en vergewe jou, en Hy het ‘n wonderlike plan vir jou lewe. Kom dus vandag na Hom toe.
Sielskos: Deut 30:1-32:28; Mark 8:27-38; Ps 57; Spr 12:15-17
2018-05-14
Johannes 1:40-42 NLV
In die vroeë dae van sy bediening, wou Billy Graham plaaslike Christene mobiliseer om hulle vriende en familielede wat nog nie gered is nie, na sy evangeliese vergaderings toe te bring. Die Graham span het dus ‘Operasie Andreas’ op die been gebring – ‘n eenvoudige plan waarby kerkgangers die name van hulle ongeredde vriende kon neerskryf, vir hulle begin bid en hulle na Billy Graham se kruistogte uitnooi om die evangelie te hoor. Hoekom het hulle die naam ‘Operasie Andreas’ daarvoor gekies? Omdat Andreas, elke keer wat hy in Johannes se evangelie genoem word, besig was om iemand na Christus toe te neem. Eers bring hy sy broer, Simon Petrus. Dan in Johannes hoofstuk ses, bring hy die seuntjie met die vyf broodjies en twee vissies na Jesus toe. In Johannes hoofstuk twaalf lei hy ‘n groep Grieke na Jesus toe. Jy kan dieselfde doen. Jare gelede het ‘n nuwe Christen, die vier-en-twintig jarige Albert McMakin, sy vriende in sy bakkie gelaai en hulle elke aand na ‘n evangeliese veldtog in sy stad aangery. Die kans is goed dat jy nog nooit McMakin se naam tevore gehoor het nie. Jy is egter heelwaarskynlik vertroud met een van die passasiers in sy bakkie, ‘n jong man wat daardie selfde week sy lewe vir Christus gegee het – Billy Graham. Andreas het sy broer Simon Petrus na Christus toe geneem en Petrus het skare mense aan Christus voorgestel. Jy weet nooit! Die persoon met wie jy vandag jou geloof deel, of volgende Sondag saam kerk toe neem, mag dalk deur God gebruik word om dinge te doen waarvan jy nog nooit gedroom het nie. As jy jou deel doen, sal God die res doen.
Sielskos: Deut 28-29; Mark 8:14-26; Ps 44:17-26; Spr 12:12-14
2018-05-13
Filippense 3:13 NLV
Hoe jou verlede ook al mag lyk, God het ‘n beter toekoms vir jou in gedagte. Voor jy egter jouself daarna kan uitstrek, moet jy die mense wat jou seergemaak het, vergewe, jouself vergewe en dit laat gaan. Wanneer jy dit doen, sal jy heel waarskynlik ‘n wye verskeidenheid emosies ervaar. Jy mag dalk woede ervaar en dink dat die lewe onregverdig is en dat dit nie is wat jy in gedagte gehad het nie. Jy het nooit verwag dat jy alleen vir jou lewe verantwoordelikheid moet neem nie. Jy mag dalk angstig voel, bang dat jy dit nie sal kan doen nie – en dat as jy misluk jy net jouself het om te blameer. Jy mag dalk vererg voel omdat jy nou jou lewe in ‘n nuwe lig moet oorweeg, vanuit ‘n ander perspektief. Jy mag dalk selfs hartseer voel oor die manier wat jy ander mense in die verlede blameer het, terwyl jy diep binne in jou geweet het dat jou lewe nie na wense as gevolg van jou eie keuses en besluite vorder nie. Jy mag dalk skaam voel oor die foute in jou verlede en onseker wees of jy regtig persoonlike verantwoordelikheid kan neem en vorentoe kan beweeg. Watter emosies ook al te voorskyn kom, weet net dat dit normaal is wanneer jy ‘n betekenisvolle lewensverandering maak. Erken dit wat jy voel; vra jouself af of jou gedagtes rasioneel is en of dit net ou vrese is wat met jou praat. Hou dan by jou besluit om op te hou om ander te blameer en neem verantwoordelikheid vir jou eie lewe. Die woord vir jou vandag is: ‘…vergeet dit wat agter [jou] lê, en strek [jou] uit na dit wat voorlê.’
Sielskos: Gal 5:22; Luk 19:11-26; Ps 36:5-9; Heb 10:19-23