Barabbas – en jy
2018-05-15Lukas 23:18 NLV
Die Bybel sê: ‘Hulle het dit egter saam met die menigte uitgekreet: ‘Weg met hom! Laat Barabbas vir ons los!’ (Barabbas was in die tronk gegooi oor ‘n oproer in die stad en oor ‘n moord)’ (verse 18-19 NLV). Net soos Barabbas, verdien ons om vir ons sondes te sterf. Vier tronkmure, deur vrees, seer en haat gebou, omring ons. Ons word deur ons verlede, ons verkeerde keuses en ons trots gevange gehou. Ons is skuldig bevind. Ons sit op die vloer van ‘n stowwerige sel en wag vir die finale oomblik. Ons laksman se voetstappe eggo teen die klipmure. Kop tussen die knieë, kyk ons nie op as hy die deur oopmaak nie; ons lig nie ons oë as hy begin praat nie. Ons weet wat hy gaan sê: ‘Tyd om vir jou sondes te betaal.’ Dan hoor ons egter iets anders: ‘Jy is vry om te gaan. Hulle het Jesus in jou plek geneem.’ Die deur swaai oop en die wag skel, ‘Loop!’ en ons bevind onsself in die oggendson, ons boeie is weg, ons misdade is vergewe en ons wonder, ‘Wat het nou net gebeur?’ Genade het gebeur! God het jou sondes weggeneem. Almal van hulle. Waarheen het Hy hulle geneem? Na die bopunt van ‘n heuwel genaamd Golgota. ‘Maar nou spreek God ons in sy onverdiende goedheid vry op grond van die verlossing wat Christus Jesus vir ons verkry het – en dit sonder enige verdienste van ons kant. Want God het Hom gestuur as ‘n offer wat deur sy sterwe versoening bewerk het vir almal wat glo…’ (Romeine 3:24-26 NLV). Jesus het jou lief en vergewe jou, en Hy het ‘n wonderlike plan vir jou lewe. Kom dus vandag na Hom toe.
Sielskos: Deut 30:1-32:28; Mark 8:27-38; Ps 57; Spr 12:15-17