2018-05-12
Genesis 3:13 NLV
Adam het vir God gesê, ‘Eva het my dit laat doen.’ En Eva het vir God gesê, ‘Die Duiwel het my dit laat doen.’ Om verskonings te maak en ander te blameer is in ons DNA ingebou en totdat jy daarby verby kan kom, sal jy nooit vordering maak of ware geluk smaak nie. Hier is ‘n stelling waarby jy moet stop en oordink: Ek is die mens waarop ek nog die heeltyd wag – niemand anders is oppad nie! As jy gewillig is om verantwoordelikheid vir jou lewe te neem, sal jy ontdek dat dit nie saak maak wat ander mense doen nie, jy alleen is verantwoordelik vir jouself. Jy besluit hoe om te reageer. Daar is nie ‘n ridder op ‘n wit perd wat om die hoek vir jou wag nie. Jou skip is nie oppad nie. Die gety gaan nie draai nie. Wat gaan jy dus doen? Wanneer iemand anders se aksies jou seergemaak het, kan jy een van twee dinge doen: 1) Jy kan soos ‘n melaatse sit en by die hek van blaam en kla doodgaan (sien 2 Konings 7:3). 2) Jy kan met ‘n strategie vorendag kom wat jou in staat stel om te sê, ‘Ek is te waardevol om dood te gaan, te taai om te sit en wag vir iemand anders en te kreatief om jou verwaarlosing as my lot te aanvaar.’ Eers wanneer jy gewillig is om op te hou om jouself en ander te blameer en verantwoordelikheid vir jou lewe en jou situasie te aanvaar, sal God jou bemagtig om dinge te verander. Hierdie benadering sit die termostaat binne jou bereik en beheer. In plaas van om te vries of in ongemak te sweet, kan jy die temperatuur van jou lewe stel en die terme van jou toekoms verander.
Sielskos: Deut 25-27; Mark 8:1-13; Ps 44:9-16; Spr 12:10-11
2018-05-11
Genesis 3:12 NLV
Die verhaal van Adam en Eva se foute leer ons twee belangrike lesse oor God: 1) Hy sal nie jou verskonings aanvaar nie. 2) Hy sal jou nie toelaat om ander mense te blameer nie. Hy dring daarop aan dat jy verantwoordelikheid vir jouself moet neem. Totdat jy dit doen, kan Hy jou nie seën soos wat Hy graag wil doen nie. Dit beteken dat jy moet ophou om in die asgat van foute in die verlede te leef – jou eie, en ook ander mense s’n. Jy moet op dit waarheen jy oppad is en dit wat jy graag wil sien gebeur, fokus, eerder as om jou oë op die truspieëltjie te hou om terug te kyk op wat gedoen is en wie dit gedoen het. Dis tyd om jou mag terug te neem! Hoe? a) Hou op om ander te blameer. b) Definieer hoe sukses vir jou lyk en spesifiseer wat jy wil hê moet gebeur. c) Delegeer take sodat dit kan gebeur en beloon die mense wat jou help om ‘n beter toekoms te behaal. d) Stel bereikbare doelwitte. Verhoudings wat in die moeilikheid is, het desperaat goeie nuus nodig, ontwikkel dus bereikbare doelwitte wat almal iets sal gee om te vier. Dit hoef nie die uiteindelike doelwitte te wees wat die oorlog wen nie, maar die klein suksesse wat wys dat jy sommige gevegte wen. Hierdie spelplan gee mag terug aan die individu wat nodig het om vordering te sien. Dit lei jou aandag van blaam af en gee jou riglyne vir dit wat produktief is. Dit neem die mag van die verlede weg, waar geeneen van ons die vermoë het om gedane sake te verander nie – maak nie saak wie daarvoor te blameer is nie. Dis ‘n konstruktiewe, eerder as ‘n destruktiewe, poging.
Sielskos: Deut 22-24; Mark 7:24-37; Ps 44:1-8; Spr 12:7-9
2018-05-10
Matteus 25:32 NLV
Jesus beskryf die oordeelsdag met hierdie woorde: “Al die nasies sal voor Hom bymekaar gebring word en Hy sal hulle van mekaar skei soos ‘n skaapwagter die skape van die bokke skei. Hy sal die skape aan sy regterkant laat staan en die bokke aan sy linkerkant. Daarop sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: ‘Kom julle, want my Vader het julle geseën. Kom ontvang julle erfenis – die koninkryk wat my Vader reeds van voor die begin van die wêreld af vir julle gereed gemaak het. Want toe Ek honger was, het julle vir My kos gegee; toe Ek dors was, het julle vir My iets gegee om te drink; toe Ek ‘n hawelose vreemdeling was, het julle My in julle huise ontvang; toe Ek niks gehad het om aan te trek nie, het julle vir My klere gegee; toe Ek siek was, het julle na My omgesien; toe Ek in die tronk was, het julle My opgesoek'” (verse 32-36 NLV). Hoe sal Jesus die skape van die bokke skei? Hoe sal Hy weet watter een jy is? Jesus sê dat diegene aan die regterkant – die skape – diegene sal wees wat Hom kos gegee het, vir Hom iets gegee het om te drink, vir Hom blyplek gegee het toe Hy eensaam was, klere gegee het en gerusstelling toe Hy siek of in die tronk was. Mense wat gered is, is besorgd oor ander mense in nood. Die skape sal met ‘n opregte vraag reageer: Wanneer het ons dit gedoen? Dan sal Jesus antwoord, ‘…As julle iets hiervan vir een van my broers of susters gedoen het… het julle dit vir Mý gedoen’ (vers 40 NLV). Probeer om dit vandag in gedagte te hou.
Sielskos: Luk 24:50-53; Hand 1:1-11; Ef 4:7-10
2018-05-09
Jakobus 3:6 NLV
Op ‘n winderige dag in Maart 1997, het ‘n pa en seun die Valley Forge Nasionale Historiese Park besoek, waar George Washington die Revolusionêre Weermag in die moeilike winter van 1777-1778 gestasioneer het. Die man en sy seun het iets minder histories in gedagte gehad: Hulle wou ‘n model vuurpyl afvuur. Eers het hulle probeer om elektriese kabels te gebruik om die lont aan te steek, maar dit het nie gewerk nie. Toe het hulle probeer om die lont met ‘n vuurhoutjie aan te steek. Dis toe dat die moeilikheid begin het. ‘n Klein kooltjie het die gras aan die brand gesteek en die winde het die vuur vinnig aangeblaas en die veld waar die soldate geoefen het, afgebrand. Die vuur het amper ook George Washington se historiese hoofkwartiere afgebrand. Die waarde van dit wat hulle in gevaar gestel het was onmeetbaar. Dit het dertig eenhede van twaalf brandweermagte meer as ‘n uur geneem om die vuur onder beheer te bring. Op die ou einde was omtrent dertig hektaar as en roet en die man met die vuurhoutjie is van die vernietiging van regeringseiendom aangekla. Die Bybel sê, ‘…’n Klein vuurtjie kan ‘n groot bos aan die brand steek. Die tong is ook ‘n vuur. Dit is vol dinge wat jou verhouding met God kan bederf’ (verse 5-6 NLV). ‘Sit ‘n wag voor my mond, Here, hou wag oor wat ek sê’ (Psalm 141:3 NLV). ‘…As jy die lewe wil liefhê en die goeie dae wil beleef, moet jy jou tong weghou van kwaadpraat…’ (1 Petrus 3:10 NLV). ‘Die regverdiges bring lewe deur hulle woorde…’ (Spreuke 10:21 NLV). Maak dus seker dat jou woorde help, nie seermaak nie; dat hulle opbou, nie afbreek nie. Met ander woorde, wees versigtig met wat jy sê!
Sielskos: Deut 18-21; Mark 7:14-23; Ps 37:32-40; Spr 12:4-6
2018-05-08
Romeine 8:33 NLV
Paulus skryf: ‘Wie sal dit waag om ons aan te kla as God ons spesiaal uitgekies het? God is immers die Een wat ons vryspreek. Wie sal ons veroordeel? Christus Jesus is tog die Een wat vir ons gesterf het, wat boonop opgestaan het, wat op die ereplek langs God sit en wat daar vir ons pleit’ (verse 33-34 NLV). Satan se aanklagte sputter en val soos ‘n ballon wat afblaas. Hoekom hoor ons hulle dan nog? Hoekom voel ons as Christene steeds skuldig? Nie alle skuldgevoelens is sleg nie. God gebruik toepaslike dosisse skuld om sonde vir ons uit te wys. Ons weet dat skuldgevoelens van God af kom wanneer dit ‘…die verantwoording, dringendheid om reg te maak, ontsag… en erns om die oortreder te straf…’ (2 Korintiërs 7:11 NLV) meebring. God se skuldgevoelens bring net genoeg spyt mee om ons te verander. Satan se skuldgevoelens bring genoeg spyt mee om ons tot slaaf te maak. Moenie dat hy sy boeie om jou sluit nie! Onthou: ‘…julle lewe is saam met [Christus] veilig by God weggesteek’ (Kolossense 3:3 NLV). Wanneer God na jou kyk, sien Hy eerste vir Jesus. In Chinees is die woord vir geregverdig ‘n kombinasie van twee karakters: die figuur van ‘n lam en ‘n persoon. Die lam is bo-op en bedek die persoon. Wanneer God na jou kyk, is dit wat Hy sien: die perfekte Lam van God wat jou bedek. Net een keer in die Skrif word melding gemaak dat Jesus iets skryf. Hy skryf in die sand om vir die aangeklaagde sondaar wat Hy pas vergewe het, te sê, ‘…Ook Ek veroordeel jou nie. Gaan maar, en moet van nou af nie meer sonde doen nie’ (sien Johannes 8:10-11). Die woord vir jou vandag is dus: Vertrou jou voorstaander, nie jou aanklaer nie!
Sielskos: Deut 14-17; Mark 7:1-13; Ps 37:25-31; Spr 12:1-3
2018-05-07
Openbaring 12:10 NLV
Die apostel Johannes het geskryf: “Toe het ek ‘n kragtige stem in die hemel hoor sê: ‘…Die aanklaer van ons medegelowiges is neergewerp, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het'” (vers 10 NLV). Satan het net een doel: ‘Die dief kom vir niks anders nie as om te steel, dood te maak en te vernietig…’ (Johannes 10:10 NLV). Hy sal jou vrede steel, jou drome vernietig en jou toekoms verwoes. Hy neem mense in diens om sy gif te smokkel. Vriende onthou jou verlede. Predikers verkonding alle skuld en geen genade nie. Sommige ouers versprei dit vier-en-twintig uur ‘n dag. Lank reeds in volwassenheid hoor jy nog hulle stemme: ‘Hoekom kan jy nie groot word nie?’ ‘Wanneer gaan jy my begin trots maak?’ Wat is die antwoord? Jesus! Hy ‘… het nou die heel belangrikste posisie in die hemel. Daarom kan Hy nou ons saak by God suksesvol verdedig’ (Romeine 8:34 DB). In die teenwoordigheid van God, in uitdaging van Satan, staan Jesus Christus in verdediging van jou op. Hy neem die rol van ‘n priester aan. ‘Wat meer is, ons het ‘n groot priester wat toesig hou oor die huis van God. Kom ons gaan dan die heiligheid binne, ja, tot voor God, met ‘n opregte hart en absolute vertroue, terwyl ons harte gesuiwer is van ‘n skuldige gewete…’ (Hebreërs 10:21-22 NLV). ‘n Skoon gewete. ‘n Skoon hart. Vry van beskuldiging – vry van veroordeling. Nie net van ons foute in die verlede nie, maar ook van ons toekomstige foute. ‘Juis daarom kan Hy ons saak by God regmaak wanneer ons deur Hom na God toe gaan. Hy sal altyd daar wees om ons saak by God te stel, want Hy leef vir altyd’ (Hebreërs 7:25 DB). Moet dus nie na jou aanklaer luister nie – vertrou jou voorstaander!
Sielskos: Deut 11-13; Mark 6:45-56; Ps 37:16-24; Spr 11:30-31