Wees versigtig met wat jy sê
2018-05-09Jakobus 3:6 NLV
Op ‘n winderige dag in Maart 1997, het ‘n pa en seun die Valley Forge Nasionale Historiese Park besoek, waar George Washington die Revolusionêre Weermag in die moeilike winter van 1777-1778 gestasioneer het. Die man en sy seun het iets minder histories in gedagte gehad: Hulle wou ‘n model vuurpyl afvuur. Eers het hulle probeer om elektriese kabels te gebruik om die lont aan te steek, maar dit het nie gewerk nie. Toe het hulle probeer om die lont met ‘n vuurhoutjie aan te steek. Dis toe dat die moeilikheid begin het. ‘n Klein kooltjie het die gras aan die brand gesteek en die winde het die vuur vinnig aangeblaas en die veld waar die soldate geoefen het, afgebrand. Die vuur het amper ook George Washington se historiese hoofkwartiere afgebrand. Die waarde van dit wat hulle in gevaar gestel het was onmeetbaar. Dit het dertig eenhede van twaalf brandweermagte meer as ‘n uur geneem om die vuur onder beheer te bring. Op die ou einde was omtrent dertig hektaar as en roet en die man met die vuurhoutjie is van die vernietiging van regeringseiendom aangekla. Die Bybel sê, ‘…’n Klein vuurtjie kan ‘n groot bos aan die brand steek. Die tong is ook ‘n vuur. Dit is vol dinge wat jou verhouding met God kan bederf’ (verse 5-6 NLV). ‘Sit ‘n wag voor my mond, Here, hou wag oor wat ek sê’ (Psalm 141:3 NLV). ‘…As jy die lewe wil liefhê en die goeie dae wil beleef, moet jy jou tong weghou van kwaadpraat…’ (1 Petrus 3:10 NLV). ‘Die regverdiges bring lewe deur hulle woorde…’ (Spreuke 10:21 NLV). Maak dus seker dat jou woorde help, nie seermaak nie; dat hulle opbou, nie afbreek nie. Met ander woorde, wees versigtig met wat jy sê!
Sielskos: Deut 18-21; Mark 7:14-23; Ps 37:32-40; Spr 12:4-6