Nuttige wenke vir ‘n gelukkige huwelik

2018-05-20
Spreuke 31:11 NLV

As jy ‘n gelukkige huwelik wil hê, moet jy altyd hierdie twee dinge in gedagte hou:  1)  Moet nooit jou maat in die openbaar verneder nie. Wanneer jy dit doen, verneder jy jouself. Salomo skryf, ‘Waar sal jy ‘n knap vrou kry? ‘n Goeie vrou is meer werd as edelstene. Haar man het volkome vertroue in haar… Haar hele lewe lank bring sy vir hom net voordeel…’ (verse 10-12 NLV). Iemand het gesê, ‘Voor jy jou maat se smaak kritiseer, stop en onthou dat hy/sy jou gekies het!’ Die feit is dat ons almal diep binne in ons gewoontes, swakhede, worstelinge, fantasieë, herinneringe uit ons kindertyd en onuitgesproke begeertes het. Ons hunkering na iemand om te vertrou is diep en onveranderlik. Dis hoekom God die huwelik ontwerp het om ‘n veilige hawe in ‘n gevaarlike wêreld te wees. As jy nie jou maat kan vertrou nie – wie kan jy dan vertrou?  2)  Koester altyd gedeelde drome en doelwitte. Deesdae skei ‘n skokkende hoeveelheid paartjies tussen die sewentiende en vyf-en-twintigste huweliksjaar. Weet jy hoekom? Dis gewoonlik wanneer die laaste kind met skool of universiteit klaar maak en die huis verlaat. Nou is dit net die twee van julle. As jy al jou tyd spandeer het om op jou kinders te fokus en mekaar verwaarloos het, word jy eendag wakker en voel of jy saam met ‘n vreemdeling leef. Hoe vermy mens dus hierdie situasie? Deur lewenslange doelwitte en drome te hê waarnatoe beide van julle werk. Onthou, julle is meer as net ouers – julle is mense – en God het ‘n plan vir julle lewens as paartjie. As julle dit nog nie ontdek het nie, praat daaroor en bid dan en vra dat God dit aan julle sal openbaar. Dis ‘n gebed wat Hy sal beantwoord!

Sielskos: Lev 23:15-22; Hand 2:1-18