Wat sê God vir jou?

2018-05-19
Romeine 8:28 NLV

Die skrywer A.J. Cronin het al vir amper tien jaar as dokter gepraktiseer voordat hy ‘n maagseer ontwikkel het wat volkome rus geverg het om te genees. Hy het dus na ‘n plaas in die Skotse Hooglande vertrek om daar te gaan aansterk. Hy sê, ‘Die eerste paar dae van ontspanning was heel aangenaam, maar gou het die ledigheid van die plaas ondraaglik geword. Ek het dikwels, in my agterkop, die vae illusie gehad dat ek dalk wou skryf. Ek het inderwaarheid reeds die tema van ‘n boek uitgewerk – die tragiese verhaal van ‘n man se egoïsme en bitter trots. In my koue, skoon slaapkamer was daar ‘n skoongeskropte tafeltjie en ‘n baie harde stoel. Die volgende oggend het ek myself op hierdie stoel met ‘n skoon oefenboek oop op die tafel voor my bevind en stadig maar seker bewus geword van die feit dat ek nog nooit ‘n betekenisvolle frase in my hele lewe uitgedink het nie. Dit was ‘n ontmoedigende gedagte soos ek my pen opgetel het. Tog het ek begin.’ Selfs al het Cronin gesukkel om vyfhonderd woorde ‘n dag te skryf en selfs al het hy sy eerste poging op die plaas se ashoop gegooi, het hy Hatter’s Castle klaargemaak. Die boek is gedramatiseer, in twee-en-twintig tale vertaal en daar is amper vyf miljoen kopieë daarvan verkoop. Die wêreld het ‘n dokter verloor, maar ‘n skrywer bygekry. Wanneer God jou ‘n droom gee, sal die omstandighede om dit te vervul nie altyd na jou sin wees nie. In Josef se geval het dit verraad en onverdiende gevangenisstraf behels. Dis wat egter nodig was om hom op Egipte se troon te kry. Vra dus vandag vir God, ‘Wat probeer U te midde van hierdie situasie vir my sê of wys?’

Sielskos: Rut 1-4; Mark 9:38-50; Ps 18:30-50; Spr 12:25-28