2018-08-10
Genesis 21:10 NLV
Toe Abraham probeer het om God se plan te verhaas en dit deur goed-bedoelde, maar ondeurdenkte menslike pogings probeer vervul het, is Ismael gebore. Miskien het jy al self iets soortgelyk probeer. Ons almal het ons ‘Ismael’ – ‘n goeie idee wat nie God se idee was nie. Dit kan jou lewe kompliseer. Dus het God vir Abraham gesê, ‘…Raak ontslae van die slavin en haar seun!..’ Met ander woorde: ‘Dis tyd om jou verlede te hanteer. Hierdie ding hou jou terug en totdat jy dit hanteer het, kan jy nie vorentoe na jou doelwit beweeg nie. Kry dit uit jou lewe uit en moenie terugkyk nie!’ Soms kan jou wonderwerk (Isak) en jou fout (Ismael) vir ‘n tydperk saam onder jou dak woon. Dinge kan so goed in een area van jou lewe wees, en tog so sleg in ‘n ander area. Daar kom egter ‘n tyd wanneer God sê, ‘As gevolg van die planne wat Ek vir jou het, moet jy hierdie ding uit jou lewe laat gaan.’ Dis nie maklik nie. Dis pynlik om dit wat jou vlees na smag of kosbaar ag, te laat gaan. Jy het egter net twee opsies: Om deur jou emosies gelei te word en God se beste mis te loop, of om te sê, ‘So lief soos wat ek vir hierdie persoon of ding is, het ek die Here liewer.’ Wanneer jy gewillig is om weg te loop van iets wat jy gedink het jy moet hê, omdat jy liewer vir God is, word dit ‘n ‘…voortdurende lofoffer aan God…’ (Hebreërs 13:15 NLV) genoem. Wanneer jy dit aan God offer, posisioneer jy jouself om ‘n nuwe vlak van sy seën te ontvang. Praat God vandag oor iets soortgelyks in jou lewe met jou? Indien dit die geval is, laat dit gaan!
Sielskos: 1 Kro 7:20-9:44; Luk 12:13-21; Ps 119:17-24; Spr 20:22-24
2018-08-09
Romeine 10:17 DB
Iemand het geskryf: ‘Two natures beat within my breast; the one is foul, the other blessed. The one I love, the other I hate; the one I feed will dominate.’ Vrees en geloof sal altyd in jou lewe teenwoordig wees en die een wat jy voed, sal bo uitkom. Jy kan nie verwag dat vrees eenvoudig sal verdwyn nie. As jy op jou vrese fokus, aandag aan hulle gee en tot hulle ingee, sal hulle vermeerder. Die manier om hulle te oorkom is om hulle uit te honger. Moet hulle nie jou tyd en energie gee nie. Moenie hulle met skinderstories, negatiewe nuus of bangmaak rolprente voed nie. Fokus op jou geloof en voed dit elke dag met God se Woord (sien Romeine 10:17). Hoe meer tyd en energie jy aan jou geloof wy, hoe sterker sal dit word. Enige tyd wat jy vir iets bang voel maar dit steeds doen, herprogrammeer jy jou houding. Met ander woorde, wanneer jy bang voel, beteken dit ‘gaan’ in plaas van ‘stop’; dit beteken ‘baklei harder’ eerder as ‘gee op.’ Die belangrikste tree wat jy kan neem om jou vrees te oorkom is om God te vertrou om die ding wat jy dink jy nie kan doen nie, te doen. Maak nie saak hoe sterk die houvas is wat die vrees op jou het nie, dit kan oorkom word, omdat die vrees in jou gedagtes is en jou gedagtes deur die Woord van God vernuwe kan word. Hier is die sleutel daartoe: ‘Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, maar laat God julle omvorm deurdat Hy julle gedenkpatrone vernuwe. Dan sal julle goed kan onderskei wat Hý wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is’ (Romeine 12:2 NLV).
Sielskos: 1 Kro 6:1-7:19; Luk 12:1-12; Ps 119:9-16; Spr 20:19-21
2018-08-08
Matteus 6:34 NLV
Gister en môre dring altwee op ons aandag aan. Gister wil hê dat ons moet wonder of ons die regte besluite geneem het. Dis ‘n mors van energie. Soos president Harry Truman gesê het, ‘As jy die beste gedoen het wat jy kan – as jy gedoen het wat jy moes – is daar geen punt om jou daaroor te bekommer nie omdat niks dit kan verander nie.’ Môre kan ook veroorsaak dat jy geleenthede misloop. Kom ons wees eerlik daaroor, die meeste mense daag by ‘n ander bestemming in die lewe op as wat hulle verwag het – sommige beter, sommige slegter, maar almal verskillend. Om op die bestemming te fokus is dus nie noodwendig ‘n goeie idee nie. Jesus het gesê, ‘Moet julle daarom nie oor môre bekommer nie. Môre sal sy eie bekommernisse bring. Vandag se moeilikhede is vir een dag heeltemal genoeg.’ Jesus het met die mense wat oor die basiese benodighede van die lewe soos kos en klere bekommerd was, gepraat. Hy het vir hulle gesê, ‘Moet julle dus nie bekommer… nie… Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het’ (verse 31-32 NLV). Die enigste plek waar jy waarlik mag het, is in die hede. Doen wat jy kan in die hier en nou en jy sal, ten spyte van jou vrees, die bevrediging hê om te weet dat jy alles binne jou krag gedoen het om jou potensiaal te bereik. Die Amerikaanse skrywer Mark Twain het geskerts, ‘Ek is al deur verskriklike dinge in my lewe – ‘n paar daarvan wat regtig gebeur het!’ Gee jou verlede en jou toekoms aan God oor en lewe een dag op ‘n slag, terwyl jy op Hom vertrou. Dis hoe jy vrees oorkom.
Sielskos: 1 Kro 4:24-5:26; Luk 11:45-54; Ps 119:1-8; Spr 20:15-18
2018-08-07
Galasiërs 6:9 NLV
Moenie toelaat dat dit wat jy nie kan doen nie met dit wat jy kan doen, inmeng nie. Die boksbestuurder Cus D’Amato, het gesê: ‘Die held en die lafaard voel altwee dieselfde vrees, maar die held gebruik sy vrees en projekteer dit op sy opponent, terwyl die lafaard weghardloop. Dit is dieselfde vrees; dis wat jy daarmee doen wat saak maak.’ Die meeste negatiewe emosies kan in iets positiefs omskep word om ons lewens te bevorder. Is jy bang vir armoede? Omskep dit in ‘n goeie werksetiek. Is jy bang vir gierigheid? Omskep dit in vrygewigheid. Is jy bang vir verwerping? Omskep dit in die vermoë om met mense te skakel. Soos die ekonoom Roger Babson opgemerk het, ‘As dinge verkeerd loop, moenie saam met hulle loop nie.’ Soek eerder ‘n nuwe manier om dit te doen. Jy kan jou lewe omswaai deur die ding te neem wat eens op ‘n tyd vrees geskep het en daardie energie te gebruik om iets waardevols te doen. Die skrywer Harold Stephens het gesê, ‘Daar is ‘n groot verskil tussen bekommernis en besorgdheid. ‘n Bekommerde persoon sien ‘n probleem; ‘n besorgde persoon los ‘n probleem op.’ Hoe kan jy iemand word wat probleme oplos? Deur op die dinge wat jy kan beheer te fokus. Die eerste daarvan is jou houding. Onthou, wat met jou gebeur is nie naastenby so belangrik soos wat in jou gebeur nie. Die tweede is jou kalender. Jy mag dalk nie vandag se omstandighede kan beheer nie, maar jy kan jou bes doen om die tyd wat jy het, te beplan. Die meeste van ons vrees die toekoms omdat ons nie daarvoor voorberei nie.
Sielskos: 1 Kro 3:1-4:23; Luk 11:29-44; Ps 78:65-72; Spr 20:11-14
2018-08-06
Klaagliedere 3:23 NLV
Kardinaal J.H. Newman, ‘n Katolieke filosoof, het gesê: ‘Moenie bang wees dat jou lewe tot ‘n einde sal kom nie, maar eerder dat dit nooit ‘n begin sal hê nie.’ Dit is wat kan gebeur as jy toelaat dat vrees ‘n houvas op jou lewe kry. Die meeste van ons vrese is werklik ongegrond. Navorsing het selfs al getoon dat vyf-en-negentig persent van dit wat ons vrees, ongegrond is. Ons moet eenvoudig leer om met die res saam te lewe. Miskien het Gertrude Stein die beste benadering gehad. Sy het gesê: ‘As jy dink hoe gevaarlik alles is, is niks eintlik vreesaanjaend nie.’ Die lewe het geen waarborge nie. Mense probeer hulself met baie dinge beskerm: alarms, reisigertjeks, aspirien, sambrele, ‘n GPS-stelsel, lugsakke. Die waarheid is egter dat die lewe gevaarlik is, dat dit jou gesondheid benadeel en jou uiteindelik sal doodmaak. Jy kan dus net sowel met oorgawe lewe. Shakespeare het gesê, ‘He is not worthy of the honeycomb who shuns the hive because the bees have stings.’ Moenie dat vrees jou daarvan weerhou om klein treë in jou ontwikkeling te gee nie. Jy weet nooit waarheen hulle mag lei nie. Daar is twee dinge wat altyd saam met ons in die lewe teenwoordig is: vrees en geloof. Elke dag wat jy leef, kies jy die een of die ander. Jeremia het geloof gekies. Hy het geskryf: ‘Deur die Here se troue liefde is ons nie doodgemaak nie. Hy hou nooit op om vir ons om te gee nie. Sy liefde het geen einde nie. Op u ontferming kan ‘n mens altyd vertrou. Dit is elke oggend nuut… My lewe behoort aan die Here, Ek kan op Hom vertrou. Die Here is goed vir hulle wat hoop op Hom en vra wat Hy wil hê’ (verse 22-25 NLV).
Sielskos: 1 Kro 1-2; Luk 11:14-28; Ps 78:56-64; Spr 20:7-10
2018-08-05
Psalm 139:14 NLV
Daar word die verhaal vertel van ‘n man met ‘n buitengewone vrees vir donderweer wat ‘n psigiater daaroor besoek het. ‘Jy ly aan brontofobie,’ sê die psigiater. ‘Dit is werklik laf om op jou ouderdom nog vir donderweer bang te wees. Dink daaraan as die tromme in die simfonie van die lewe.’ ‘Maar sê nou dit help nie?’ vra die man. ‘Dan moet jy maar maak soos ek maak. As jy donderweer hoor, stop watte in jou ore, kruip onder jou bed en sing jou gunstelingliedjie so hard as wat jy kan totdat die donderweer ophou.’ Die meeste mense se vrese is nie op feite gegrond nie, maar op gevoelens. Vrees is onrealistiese verwagtings wat realisties lyk. Jy moet verder kyk as jou irrasionele gevoelens en die verwagtings daaragter ontdek. As jy byvoorbeeld in armoede grootgeword het, mag jy dalk bang wees om vrygewig te wees. As jy deur iemand verlaat is, mag jy bang wees om mense te vertrou, of jy mag aan mense vasklou en hulle probeer beheer. As jy mishandel is, mag jy dalk emosionele en fisiese intimiteit vrees. As jy nie mooi of intelligent voel nie, of nie uit ‘n hoë-klas familie uit kom nie, mag jy dalk bang wees om met mense te meng of met hulle te praat, uit vrees dat hulle dalk op jou sal neerkyk. James Thurber, die Amerikaanse humoris, het geskryf: ‘Almal moet probeer om voor hul dood uit te vind waarvan hulle weghardloop en waarheen en waarom.’ Dawid het nie net die bron van sy vrese vasgestel nie, maar ook die bron van sy selfwaarde en sekuriteit: ‘Ek loof U omdat U my so besonder wonderbaarlik gemaak het. U werke is wonderbaar…’ Wanneer jy weet dat jy God se goedkeuring het, begin jou vrese doodgaan.
Sielskos: Joh 1:1-14; Matt 4:12-16; Matt 5:14-16; Hand 9:1-19