Hoe om vrees te oorkom (4)
2018-08-08Matteus 6:34 NLV
Gister en môre dring altwee op ons aandag aan. Gister wil hê dat ons moet wonder of ons die regte besluite geneem het. Dis ‘n mors van energie. Soos president Harry Truman gesê het, ‘As jy die beste gedoen het wat jy kan – as jy gedoen het wat jy moes – is daar geen punt om jou daaroor te bekommer nie omdat niks dit kan verander nie.’ Môre kan ook veroorsaak dat jy geleenthede misloop. Kom ons wees eerlik daaroor, die meeste mense daag by ‘n ander bestemming in die lewe op as wat hulle verwag het – sommige beter, sommige slegter, maar almal verskillend. Om op die bestemming te fokus is dus nie noodwendig ‘n goeie idee nie. Jesus het gesê, ‘Moet julle daarom nie oor môre bekommer nie. Môre sal sy eie bekommernisse bring. Vandag se moeilikhede is vir een dag heeltemal genoeg.’ Jesus het met die mense wat oor die basiese benodighede van die lewe soos kos en klere bekommerd was, gepraat. Hy het vir hulle gesê, ‘Moet julle dus nie bekommer… nie… Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het’ (verse 31-32 NLV). Die enigste plek waar jy waarlik mag het, is in die hede. Doen wat jy kan in die hier en nou en jy sal, ten spyte van jou vrees, die bevrediging hê om te weet dat jy alles binne jou krag gedoen het om jou potensiaal te bereik. Die Amerikaanse skrywer Mark Twain het geskerts, ‘Ek is al deur verskriklike dinge in my lewe – ‘n paar daarvan wat regtig gebeur het!’ Gee jou verlede en jou toekoms aan God oor en lewe een dag op ‘n slag, terwyl jy op Hom vertrou. Dis hoe jy vrees oorkom.
Sielskos: 1 Kro 4:24-5:26; Luk 11:45-54; Ps 119:1-8; Spr 20:15-18