Hoe om vrees te oorkom (1)

2018-08-05
Psalm 139:14 NLV

Daar word die verhaal vertel van ‘n man met ‘n buitengewone vrees vir donderweer wat ‘n psigiater daaroor besoek het. ‘Jy ly aan brontofobie,’ sê die psigiater. ‘Dit is werklik laf om op jou ouderdom nog vir donderweer bang te wees. Dink daaraan as die tromme in die simfonie van die lewe.’ ‘Maar sê nou dit help nie?’ vra die man. ‘Dan moet jy maar maak soos ek maak. As jy donderweer hoor, stop watte in jou ore, kruip onder jou bed en sing jou gunstelingliedjie so hard as wat jy kan totdat die donderweer ophou.’ Die meeste mense se vrese is nie op feite gegrond nie, maar op gevoelens. Vrees is onrealistiese verwagtings wat realisties lyk. Jy moet verder kyk as jou irrasionele gevoelens en die verwagtings daaragter ontdek. As jy byvoorbeeld in armoede grootgeword het, mag jy dalk bang wees om vrygewig te wees. As jy deur iemand verlaat is, mag jy bang wees om mense te vertrou, of jy mag aan mense vasklou en hulle probeer beheer. As jy mishandel is, mag jy dalk emosionele en fisiese intimiteit vrees. As jy nie mooi of intelligent voel nie, of nie uit ‘n hoë-klas familie uit kom nie, mag jy dalk bang wees om met mense te meng of met hulle te praat, uit vrees dat hulle dalk op jou sal neerkyk. James Thurber, die Amerikaanse humoris, het geskryf: ‘Almal moet probeer om voor hul dood uit te vind waarvan hulle weghardloop en waarheen en waarom.’ Dawid het nie net die bron van sy vrese vasgestel nie, maar ook die bron van sy selfwaarde en sekuriteit: ‘Ek loof U omdat U my so besonder wonderbaarlik gemaak het. U werke is wonderbaar…’ Wanneer jy weet dat jy God se goedkeuring het, begin jou vrese doodgaan.

Sielskos: Joh 1:1-14; Matt 4:12-16; Matt 5:14-16; Hand 9:1-19