Om ander te dien, moet jy hulle eers sien

2018-08-04
Handelinge 3:4 NLV

Die Bybel sê: ‘Net tóé word daar ‘n man aangedra wat van sy geboorte af lam was. Mense het hom daagliks laat sit by die tempelpoort wat as Mooipoort bekend staan, om by die tempelgangers te bedel. Petrus en Johannes wou net in die tempel ingaan, toe hy hulle sien en ‘n bydrae by hulle vra. Petrus kyk hom toe saam met Johannes stip aan, en sê: ‘Kyk na ons!’ Die verlamde man kyk toe na hulle in die verwagting dat hy ‘n bydrae gaan kry. Maar Petrus sê: ‘Geld het ek nie. Maar wat ek het, dít gee ek vir jou: Op gesag van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop! Petrus vat die man toe aan sy regterhand en help hom op. En onmiddellik het sy voete en enkels gesond en sterk geword. Hy het opgespring, op sy voete gestaan, en begin rondstap. Daarna, terwyl hy rondstap, huppel en God prys, is hy saam met hulle die tempel in’ (verse 2-8 NLV). Hierdie wonderwerk het met die volgende woorde begin: “Petrus kyk hom toe saam met Johannes stip aan, en sê: ‘Kyk na ons!'” Dit gaan met die volgende woorde verder: ‘Petrus vat die man toe aan sy regterhand en help hom op.’ In sekere Zoeloe tradisies, groet die mense mekaar met ‘n frase wat ‘Ek sien jou’ beteken. Kan dit God se strategie vir die mensdom se seer wees? Eers ontmoet vriendelike oë desperate oë. Vervolgens help sterk hande swakkes. Dan, die wonderwerk van God. Ons doen ons klein deeltjie, Hy doen sy groot deel en die lewe by die Mooipoort word presies dit – mooi. Om ander mense te dien, moet jy hulle eers sien. Om hulle op te hef moet jy hulle eers liefhê, omdat jy weet dat Jesus hulle liefhet.

Sielskos: 1 Joh 3:11-5:21; Luk 11:1-13; Ps 78:40-55; Spr 20:4-6

God se tyd, plek en doel vir jou lewe

2018-08-03
Handelinge 17:26-27 NLV

Kom ons kyk na drie frases in hierdie Skrifgedeelte: 1) ‘Hy het die tye van hulle bestaan bepaal…’ Jou ouers mag jou dalk nie wou gehad het nie, maar God wou jou gehad het. Hy het die oomblik van jou geboorte geskeduleer, Hy het ‘n doel vir jou lewe en jy is konstant in sy gedagtes. As dit te goed klink om waar te wees, lees verder: ‘U het my gesien voor ek gebore is. In u boek is alles opgeteken; elke dag is bepaal voordat een van hulle daar was. Kosbaar is u gedagtes vir my, o God!..’ (Psalm 139:16-17 NLV). Dis nou ‘n fondasie om jou selfwaarde op te bou! 2) ‘…en die grense van hulle blyplek.’ God se wil verg van jou om op die regte plek te wees, dis hoekom Hy ‘grense’ daarstel. Soms sal Hy sê, ‘Moenie soontoe gaan nie, Ek wil jou hier hê,’ of ‘Moenie daar bly nie, Ek soek jou daar.’ Omdat iemand anders êrens heen gegaan het en sukses behaal het, beteken nie dat dieselfde met jou sal gebeur nie. ‘Die Here bepaal die rigting van ‘n mens, en met sý lewe is Hy tevrede’ (Psalm 37:23 NLV). Sluit God by elke detail van jou lewe in, want waar Hy lei, sal Hy ook voorsien. 3) ‘God se doel met die nasies was om Hom te soek…’ Elke aksie van God in jou lewe is so ontwerp om jou afhanklikheid aan Hom te vermeerder. Elke taak wat Hy jou gee, het sy deelname nodig om suksesvol te wees. Selfs met al sy groot talente, het Paulus erken, ‘Nie dat ons op eie houtjie iets kan bedink asof dit ons eie breinkind is nie. Ons bekwaamheid kom van God…’ (2 Korintiërs 3:5 NLV).

Sielskos: 1 Joh 1:1-3:10; Luk 10:38-42; Ps 78:32-39; Spr 20:1-3

Dissipelskap beteken dat jou ‘self’ moet sterf

2018-08-02
Lukas 9:23 NLV

In 44 n.C., het koning Herodus beveel dat ‘n apostel, Jakobus, met ‘n swaard deurboor moet word. Hy was een van die eerste apostels wat ‘n martelaar geword het. Lukas is aan ‘n olyfboom in Griekeland opgehang. Ongelowige Tomas is in Indië lewend aan die brand gesteek. Filippus is gekruisig en het steeds met sy laaste asem van die kruis af gepreek. Matteus is in Ethopië in die rug gesteek. Bartolomeus is in Armenië doodgeslaan. Jakobus die Regverdige is van die dak van die tempel in Jerusalem afgegooi en toe deur die skare doodgeslaan. Simon die Yweraar is in 74 n.C. deur die goewerneur van Sirië gekruisig. Judas Thaddeus is met stokke in Mesopotamië doodgeslaan. Mattias, wat in die plek van Judas Iskariot aangestel is, is gestenig en onthoof. Petrus is op sy eie versoek onderstebo gekruisig. Toe Johannes die Geliefde dit oorleef het nadat hy in ‘n houer kokende water geplaas is, het die keiser Diocletianus hom na die eiland Patmos toe verban. Jy sal heel waarskynlik nie geroep word om fisies vir Christus te sterf nie, maar om sy dissipel te wees, moet jy aan jouself sterf. Jesus het gesê, ‘…As enigeen van julle my dissipel wil word, moet jy jou selfsugtige ambisie aflê, elke dag jou kruis opneem en My volg. As jy jou lewe vir jouself wil hou, sal jy dit verloor. Maar as jy jou lewe vir My opgee, sal jy ware lewe vind’ (verse 23-24 NLV). As jy jouself wil vind, moet jy gewillig wees om jouself vir Christus te verloor. As jy in die volste sin lewendig wil word, moet jy bereid wees om in alle vorme van self-gesentreerdheid te sterf en vir Christus te lewe.

Sielskos: Esra 9-10; Luk 10:25-37; Ps 78:17-31; Spr 19:27-29

Stel God in alle dinge eerste

2018-08-01
Matteus 6:33 NLV

Tot en met die sestiende eeu, het wetenskaplikes geglo dat die aarde die middelpunt van die heelal was en dat die son rondom die aarde gedraai het. Toe het ‘n sterrekundige genaamd Copernicus gekom en gestry dat die son nie om die aarde draai nie, maar dat die aarde om die son draai. Hy het die wetenskap vir ewig gerewolusioneer. Wanneer dit by dissipelskap kom, het Jesus dieselfde ding gedoen. ‘…maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg.’ Sondigheid is in wese selfsugtigheid. Dis om jouself op ‘n troon te plaas, om jou begeertes, behoeftes en planne bo alles anders te stel. Jy mag dalk steeds vir God soek, maar jy soek Hom nie eerste nie. In plaas van om te probeer om sy doelwitte te vervul, probeer jy Hom sover kry om joune te vervul. Wie volg wie dan? “Jesus het toe vir sy dissipels gesê: ‘As julle my volgelinge wil wees, moet julle julle eie, selfsugtige ambisie prysgee, julle kruis op julle skouers neem, en agter My aankom. As julle probeer om julle lewe vir julleself te bewaar, sal julle dit verloor. Maar as julle julle lewe ter wille van My prysgee, sal julle ware lewe vind'” (Matteus 16:24-25 NLV). D.L. Moody het gesê, ‘Die wêreld het nog nie gesien wat God met, vir, deur en in die man of vrou sal doen wat volledig en geheel en al aan Hom gewy is nie.’ As jy bereid is om jouself aan God oor te gee, is daar geen perke aan dit wat Hy met jou sal doen nie.

Sielskos: Esra 6-8; Luk 10:13-24; Ps 78:9-16; Spr 19:24-26

Die stappe na sukses

2018-07-31
Psalm 37:23-24 ABA

Om sukses in die lewe te behaal, het jy hierdie vier dinge nodig: 1) Morele waardes. Wat is jy bereid om te doen om te kom waar jy wil wees? Jy kan nie net op enige manier daar kom nie; jy moet grense hê. Ja, ons het almal al op ‘n stadium reëls gebreek, maar dank God dat ons reëls gehad het om te breek. Ons kon onsself weer met ons morele kompas op die regte pad bring. Baie mense vandag gee nie om om op die regte pad te bly nie. 2) Metodes. ‘n Doelwit sonder ‘n plan is soos ‘n pad wat nêrens heen gaan nie. Jy moet eers die doelwit, dan die plan en dan die proses kry. As jy hierdie drie-stap formule volg, sal jy verstaan dat daar metodes is wat jy moet gebruik en by moet bly! 3) Middele. Wanneer God aan jou die visie gee, rus Hy jou ook toe. Wanneer dit nie gebeur nie, is die tyd dalk nie reg nie of het Hy iets anders vir jou in gedagte. God se voorsiening kan kom as ‘n idee wat jou skielik tref, of ‘n idee wat wortelskiet en oor ‘n tydperk groei. Sy voorsiening sluit hulp van ander mense af in, so wandel in liefde waar jy ook al gaan. 4) Bestuurskap. Jesus het gesê, ‘…Baie word verwag van hulle aan wie baie gegee is…’ (Lukas 12:48 NLV). Sommige mense maak of die proses verby is wanneer God hulle gee wat hulle wil hê. Nee, dis net die begin. Raai wie sal jou grootste uitdaging in jou bestuurskap van jou sukses wees? Jyself! Dis hoekom die Psalmdigter geskryf het, ‘Wanneer die Here tevrede is oor hoe ‘n mens lewe… dan val hy nie hard nie, want die Here hou sy hand vas.’

Sielskos: Esra 3-5; Luk 10:1-12; Ps 78:1-8; Spr 19:21-23

Hou aan bid

2018-07-30
1 Tessalonisense 5:17 NLV

Het jy moedeloos geword en ophou bid oor die probleem? Hou aan bid. God mag dalk nie antwoord op die manier wat jy dink Hy moet nie, of binne die tydraam wat jy verwag nie, maar wanneer jy volgens sy Woord bid, het Hy beloof om te antwoord: ‘…Hy sal die goeie nie weerhou van hulle wat doen wat reg is nie’ (Psalm 84:12 NLV). Toe die kinders van Israel die baie sterker Amalekiete die stryd aangesê het, het Moses op die koppie gebid en het die Israeliete die stryd gewen (sien Eksodus 17:8-13). Toe Abraham van die dreigende verwoesting van Sodom en Gomorra bewus geword het, het hy hom tot die Here gewend (sien Genesis 18:16-33), eerder as om na die stede toe te hardloop en die inwoners te waarsku. Toe raadgewers vir Nehemia sê dat Jerusalem ‘n ruïne is, het hy eers tot die Here gebid en sodoende ‘n fondasie van gebed gebou voor hy een steen van die projek om Jerusalem te herbou, neergelê het (sien Nehemia 1). Paulus se briewe het meer versoeke vir gebede as versoeke vir geld of troos bevat. Wat van Jesus? Hy het vroeg opgestaan om te bid (sien Markus 1:35). Hy het mense weggestuur om te gaan bid (sien Matteus 14:22-23). Hy het ‘n berg uitgeklim om te gaan bid (sien Lukas 9:28). Voordat Hy na die kruis gegaan het, het Hy heelnag gebid (sien Lukas 22:39-46). Elke woord wat Hy geuiter het en elke werk wat Hy gedoen het, was met gebed deurdrenk. As Hy nodig gehad het om so te bid, moet jy ook! Jy kan groot dinge bereik nadat jy gebid het, maar niks groots totdat jy gebid het nie. Die woord vir jou vandag is dus: Hou aan bid.

Sielskos: Esra 1-2; Luk 9:57-62; Ps 46; Spr 19:18-20