Hou aan bid

2018-07-30
1 Tessalonisense 5:17 NLV

Het jy moedeloos geword en ophou bid oor die probleem? Hou aan bid. God mag dalk nie antwoord op die manier wat jy dink Hy moet nie, of binne die tydraam wat jy verwag nie, maar wanneer jy volgens sy Woord bid, het Hy beloof om te antwoord: ‘…Hy sal die goeie nie weerhou van hulle wat doen wat reg is nie’ (Psalm 84:12 NLV). Toe die kinders van Israel die baie sterker Amalekiete die stryd aangesê het, het Moses op die koppie gebid en het die Israeliete die stryd gewen (sien Eksodus 17:8-13). Toe Abraham van die dreigende verwoesting van Sodom en Gomorra bewus geword het, het hy hom tot die Here gewend (sien Genesis 18:16-33), eerder as om na die stede toe te hardloop en die inwoners te waarsku. Toe raadgewers vir Nehemia sê dat Jerusalem ‘n ruïne is, het hy eers tot die Here gebid en sodoende ‘n fondasie van gebed gebou voor hy een steen van die projek om Jerusalem te herbou, neergelê het (sien Nehemia 1). Paulus se briewe het meer versoeke vir gebede as versoeke vir geld of troos bevat. Wat van Jesus? Hy het vroeg opgestaan om te bid (sien Markus 1:35). Hy het mense weggestuur om te gaan bid (sien Matteus 14:22-23). Hy het ‘n berg uitgeklim om te gaan bid (sien Lukas 9:28). Voordat Hy na die kruis gegaan het, het Hy heelnag gebid (sien Lukas 22:39-46). Elke woord wat Hy geuiter het en elke werk wat Hy gedoen het, was met gebed deurdrenk. As Hy nodig gehad het om so te bid, moet jy ook! Jy kan groot dinge bereik nadat jy gebid het, maar niks groots totdat jy gebid het nie. Die woord vir jou vandag is dus: Hou aan bid.

Sielskos: Esra 1-2; Luk 9:57-62; Ps 46; Spr 19:18-20