God se tyd, plek en doel vir jou lewe

2018-08-03
Handelinge 17:26-27 NLV

Kom ons kyk na drie frases in hierdie Skrifgedeelte: 1) ‘Hy het die tye van hulle bestaan bepaal…’ Jou ouers mag jou dalk nie wou gehad het nie, maar God wou jou gehad het. Hy het die oomblik van jou geboorte geskeduleer, Hy het ‘n doel vir jou lewe en jy is konstant in sy gedagtes. As dit te goed klink om waar te wees, lees verder: ‘U het my gesien voor ek gebore is. In u boek is alles opgeteken; elke dag is bepaal voordat een van hulle daar was. Kosbaar is u gedagtes vir my, o God!..’ (Psalm 139:16-17 NLV). Dis nou ‘n fondasie om jou selfwaarde op te bou! 2) ‘…en die grense van hulle blyplek.’ God se wil verg van jou om op die regte plek te wees, dis hoekom Hy ‘grense’ daarstel. Soms sal Hy sê, ‘Moenie soontoe gaan nie, Ek wil jou hier hê,’ of ‘Moenie daar bly nie, Ek soek jou daar.’ Omdat iemand anders êrens heen gegaan het en sukses behaal het, beteken nie dat dieselfde met jou sal gebeur nie. ‘Die Here bepaal die rigting van ‘n mens, en met sý lewe is Hy tevrede’ (Psalm 37:23 NLV). Sluit God by elke detail van jou lewe in, want waar Hy lei, sal Hy ook voorsien. 3) ‘God se doel met die nasies was om Hom te soek…’ Elke aksie van God in jou lewe is so ontwerp om jou afhanklikheid aan Hom te vermeerder. Elke taak wat Hy jou gee, het sy deelname nodig om suksesvol te wees. Selfs met al sy groot talente, het Paulus erken, ‘Nie dat ons op eie houtjie iets kan bedink asof dit ons eie breinkind is nie. Ons bekwaamheid kom van God…’ (2 Korintiërs 3:5 NLV).

Sielskos: 1 Joh 1:1-3:10; Luk 10:38-42; Ps 78:32-39; Spr 20:1-3