Hoe om vrees te oorkom (2)

2018-08-06
Klaagliedere 3:23 NLV

Kardinaal J.H. Newman, ‘n Katolieke filosoof, het gesê: ‘Moenie bang wees dat jou lewe tot ‘n einde sal kom nie, maar eerder dat dit nooit ‘n begin sal hê nie.’ Dit is wat kan gebeur as jy toelaat dat vrees ‘n houvas op jou lewe kry. Die meeste van ons vrese is werklik ongegrond. Navorsing het selfs al getoon dat vyf-en-negentig persent van dit wat ons vrees, ongegrond is. Ons moet eenvoudig leer om met die res saam te lewe. Miskien het Gertrude Stein die beste benadering gehad. Sy het gesê: ‘As jy dink hoe gevaarlik alles is, is niks eintlik vreesaanjaend nie.’ Die lewe het geen waarborge nie. Mense probeer hulself met baie dinge beskerm: alarms, reisigertjeks, aspirien, sambrele, ‘n GPS-stelsel, lugsakke. Die waarheid is egter dat die lewe gevaarlik is, dat dit jou gesondheid benadeel en jou uiteindelik sal doodmaak. Jy kan dus net sowel met oorgawe lewe. Shakespeare het gesê, ‘He is not worthy of the honeycomb who shuns the hive because the bees have stings.’ Moenie dat vrees jou daarvan weerhou om klein treë in jou ontwikkeling te gee nie. Jy weet nooit waarheen hulle mag lei nie. Daar is twee dinge wat altyd saam met ons in die lewe teenwoordig is: vrees en geloof. Elke dag wat jy leef, kies jy die een of die ander. Jeremia het geloof gekies. Hy het geskryf: ‘Deur die Here se troue liefde is ons nie doodgemaak nie. Hy hou nooit op om vir ons om te gee nie. Sy liefde het geen einde nie. Op u ontferming kan ‘n mens altyd vertrou. Dit is elke oggend nuut… My lewe behoort aan die Here, Ek kan op Hom vertrou. Die Here is goed vir hulle wat hoop op Hom en vra wat Hy wil hê’ (verse 22-25 NLV).

Sielskos: 1 Kro 1-2; Luk 11:14-28; Ps 78:56-64; Spr 20:7-10