2018-08-16
1 Tessalonisense 5:23 NLV
As jy slegs ‘n ‘geestelike’ wese was, sou jou geestelike potensiaal onbeperk gewees het. Jy moet egter konstant jou ‘siel’ in ag neem, wat uit jou emosies, wil en intellek bestaan. Daarmee saam moet jy ook die behoeftes en aptyte van jou fisiese ‘liggaam’ hanteer. Jy kan soveel bid soos jy wil, maar jou vleeslike natuur gaan nie skielik een oggend wakker word met die begeerte om God te behaag nie, omdat dit altyd in konflik met sy wil is (sien Romeine 8:7-8). Wanneer jy ‘in die vlees wandel,’ sal dit jou elke keer op die verkeerde pad lei. Dit moet soos ‘n bedorwe kind gedissiplineer word en aan jou gees onderwerp word. Jou siel, aan die ander kant, word konstant tussen jou vlees, wat vir God nee sê en jou gees, wat vir Hom ja sê, vasgevang. Dis hoekom jou siel (wil, emosies en intellek), daagliks deur God se Woord herprogrammeer moet word. Paulus sê, ‘…laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe…’ (Romeine 12:2 NLV). Wat jy in jou rekenaar in programmeer is wat jy uitkry, nie waar nie? Soortgelyk, wanneer jy begin om Skriftelik te dink, is wanneer jy in oorwinning begin lewe. Die ware aksie vind in jou gees plaas – die deel van jou wat hernuwe en omvorm is toe jy weer gebore is. Wanneer God se Gees met jou gees intiem word, is die gevolg ‘n nuwe geboorte en soos jy geestelik groei, begin jy geestelike vrugte produseer (sien Galasiërs 5:22). Wanneer dit gebeur, begin jy besef dat jy eintlik ‘n nuwe gees is wat in ‘n onvernude liggaam woon. As jy dit weet, sal dit jou help om baie van jou stryd te verstaan en te bid: “Here, ek is volkome U s’n: ‘gees en siel en liggaam.'”
Sielskos: 1 Kro 23:21-26:19; Luk 13:18-35; Ps 119:57-64; Spr 21:7-9
2018-08-15
2 Samuel 6:9 NLV
In die Ou Testament was die verbondsark die bekendste simbool van God se teenwoordigheid. Waar die ark ook al was, was God se teenwoordigheid ook. Israel het die Filistyne egter toegelaat om dit te steel. Daar is ‘n belangrike les hier uit te leer. Satan is daarop uit om jou van jou aanvoeling van God se teenwoordigheid te beroof! Israel het die ark om een rede verloor – ongehoorsaamheid. Jy verloor altyd jou aanvoeling van God se teenwoordigheid op die punt van ongehoorsaamheid. Wat sê God vir jou om te doen, of om op te hou doen? Hy sal nie onderhandel, skik of ongehoorsaamheid oorsien nie; jy moet dit hanteer voor jy vorentoe kan beweeg. Dawid het gevra, ‘…Hoe kan die ark van die Here ooit na my toe kom?’ omdat al die pogings om dit terug na Israel toe te bring, misluk het. Iemand het voorgestel dat hulle dit op ‘n nuwe wa sit. Iemand anders het voorgestel dat Ussa (wie se naam krag beteken) en Agjo (wie se naam na broederskap verwys) die wa moet vergesel (sien vers 3 NLV). Die meeste mense het gedink dat dit ‘n goeie plan is, maar nie God nie. Dawid het die beste bedoelings gehad, maar dit was nie in lyn met God se wil nie. God het reeds vir Israel gesê dat die ark op die skouers van die gesalfde priesters gedra moet word. Met ander woorde, op die skouers van diegene wat geweet het hoe om: a) in balans te wandel; b) in liefde en eenheid te wandel; c) in gehoorsaamheid te wandel. Kry jy die boodskap? As God se teenwoordigheid in jou lewe vir jou kosbaar is en as jy dit wil beskerm, pas dan hierdie beginsels toe.
Sielskos: 1 Kro 19:1-23:20; Luk 13:1-17; Ps 119:49-56; Spr 21:4-6
2018-08-14
Matteus 7:11 NLV
Die kruis is die bewys van hoe lief God jou het. ‘As God werklikwaar nie sy eie Seun gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal aan die dood oorgegee het, is daar tog geen manier waarop Hy nie ook alle ander goeie dinge aan ons sal skenk nie’ (Romeine 8:31 NLV). As dit in God se Woord beloof word, is dit God se wil – weier dus om met minder tevrede te wees. Jy moet egter onwankelbaar wees, anders sal dit nie werk nie (sien Jakobus 1:6-8). Die Psalmdigter het gesê, ‘Een ding vra ek van die Here, en dit sal ek bly soek…’ (Psalm 27:4 NLV). As jy gehoorsaam is en daarna strewe om Hom te behaag, wees dan vol vertroue wanneer jy na Hom toe gaan. ‘…as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God te gaan’ (1 Johannes 3:21 NLV). Wanneer jy sonde in jou lewe toelaat, word jy ongemaklik in God se teenwoordigheid en dan is dit moeilik om vir die resultate wat jy wil soek, geloof te hê. Hanteer dit dus onmiddellik. Wonderwerke gebeur met diegene wat glo – kom dus in ‘n posisie waar jy God vol vertroue vir die ding wat jy nodig het, kan glo. Hy het nie sy planne vir jou lewe verander nie. Omstandighede en seisoene verander, maar ‘…die woord van God bly vir altyd’ (Jesaja 40:8 NLV). Jesus het gesê, ‘…hoeveel te meer sal julle hemelse Vader goeie dinge gee aan hulle wat dit van Hom vra!’ Dit is ‘n Bybelse belofte. ‘…Hy sal die goeie nie weerhou van hulle wat doen wat reg is nie’ (Psalm 84:12 NLV). As God nee sê, is dit omdat dit nie goed sal wees vir jou nie. Vertrou Hom – Hy het iets beters vir jou in gedagte.
Sielskos: 1 Kro 16-18; Luk 12:49-59; Ps 119:41-48; Spr 21:1-3
2018-08-13
Psalm 37:23 NLV
Elia se lotsbestemming was om op Karmelberg te staan, vuur uit die hemel af te roep en Israel van afgodery te red. Hy kon egter met net een tree op ‘n slag daar kom. Dis hoe God werk. Eers het God hom na die Kritspruit gestuur (Krit beteken ‘verbond’). Op ‘n punt in jou geestelike reis moes jy al ontdek het dat God ‘n God is wat verbonde maak en dit nakom. Hy het die Jordaanrivier wonderbaarlik laat opdroog, ‘n byl laat dryf en visse in ‘n leë net laat inswem – bewyse dat Hy sy beloftes hou. Toe God vir Elia na die Kritspruit gestuur het, het Hy vir hom gesê, ‘…Ek sal die kraaie beveel om vir jou kos te bring’ (1 Konings 17:4 NLV). As Elia elders gegaan het, sou God nie aan sy behoeftes voldoen het nie. Omdat ‘n verbond tweesydig is; wanneer jy jou deel doen, sal God syne doen. Vervolgens het God vir Elia na Sarfat gestuur en gesê, ‘…Daar woon ‘n weduwee. Ek het aan haar opdrag gegee om vir jou te sorg’ (vers 8 NLV). Dink daaroor: God het ‘n vleis-etende voël en ‘n arm weduwee gebruik om vir Elia te sorg, hou dus op om in Hom te twyfel! Die Bybel sê, ‘Die Here bepaal die rigting van ‘n mens…’ As jy waarlik in die Skrif glo, hoekom kla jy, bekommer jy jouself en probeer alles uitpluis in plaas daarvan om op Hom te vertrou? ‘Sarfat’ beteken ‘n ‘smeltkroes,’ ‘n plek waar metale gesuiwer word. As jy dus vandag deur ‘n vurige toets gaan, wees bly – God is besig om die goud in jou karakter van die onsuiwerhede te skei. Wanneer jy die toets by die Kritspruit en Sarfat geslaag het, sal jy gereed wees vir die seën by Karmelberg!
Sielskos: 1 Kro 12:23-15:29; Luk 12:35-48; Ps 119:33-40; Spr 20:28-30
2018-08-12
Spreuke 23:15 NLV
Omdat perfekte mense nie bestaan nie, kan daar ook nie perfekte ouers wees nie. Selfs al het jy dus jou kinders baie lief, sal daar tye wees wat jy moeg, gefrustreerd, teleurgesteld en geïrriteerd raak. Die geheim is om seker te maak dat dit die uitsondering, eerder as die reël, is. ‘n Christelike sielkundige skryf: “‘n Paar jaar gelede het ek ‘n duisend ma’s en pa’s gevra om hulle grootste frustrasies in die grootmaak van hulle kinders te beskryf. Ek het baie humoristiese stories oor taai telefone, nat toiletsitplekke en geknoopde skoenveters gehoor. Een ma wou weet hoekom kleuters nooit in die badkamer opgooi nie. In ons opname het die ouers egter nie net bloot oor hulle frustrasies gelag nie – hulle was geneig om hulself te blameer. Baie van hulle het gesê dat hulle oorweldig was en vertroue in hulle vermoë om die werk te kon doen, verloor het. Baie van hulle het gesukkel om die daaglikse verantwoordelikhede te hanteer. Hoe hartseer is dit nie dat hierdie antieke verantwoordelikheid van kinders grootmaak so swaar en met skuldgevoelens gelaai geword het nie. In die meeste gevalle is hierdie self-veroordeling nie deur die feite gestaaf nie. Die meeste ma’s en pa’s het ‘n geloofwaardige werk by die huis gedoen – en dit is tyd dat iemand hulle vir hulle toewyding en opoffering op die rug klop. Eendag wanneer die frustrasies van kleuterskap en die onrus van tienerskap verby is, sal hulle die soete voordele van hulle goeie en liefdevolle ouerskap smaak. Byt vas, Ma en Pa, julle is vaardiger as wat julle dink julle is.” Salomo het die ouer se ware beloning uitgespel: ‘Ek sal baie bly wees, my kind, as jy ook ‘n wyse mens word.’
Sielskos: Eks 16:1-18; Joh 6:1-15; Joh 6:25-40; 1 Kor 11:23-24
2018-08-11
Psalm 120:2 NLV
Wanneer jy doelbewus ‘n vals indruk skep, noem die Bybel jou iemand ‘…wat die leuen liefhet en beoefen’ (Openbaring 22:15 NLV). Dit mag dalk hard klink, veral as jy net ‘n ekstra geldjie wou maak, iemand se gevoelens wou spaar of jouself beter wou laat lyk. Geen mens sal so ‘n standaard daarstel nie, maar God doen. En Hy is ernstig daaroor. Kyk maar na Ananias en Saffira. Toe hierdie paartjie ‘n vals indruk wou skep oor hoeveel hulle gegee het, het hulle in die teenwoordigheid van die apostels dood neergeslaan. Gevolglik het ‘Niemand anders… dit sommer gewaag om by hulle aan te sluit nie…’ (Handelinge 5:13 NLV). Hoe lank sou jy in daardie kerk gehou het? Petrus het gesê, ‘…Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God’ (vers 4 NLV). Dit laat dinge anders lyk, nie waar nie? Daar word ‘n verhaal vertel van ‘n man wat gaan visvang het, maar niks gevang het nie. Hy het toe oppad huis toe by die mark gestop en drie visse gekoop. Toe het hy vir die winkeleienaar gesê, ‘Gooi hulle vir my – sodoende kan ek as ek by die huis kom vir my vrou sê dat ek hulle gevang het.’ Salomo het gesê, ‘Ek praat die volle waarheid… Alles wat ek sê is reg. Daar is niks daarin wat krom of verdraai is nie’ (Spreuke 8:7-8 NLV). Sommige van die ergste leuens is dié wat ons onsself vertel en begin glo. ‘n Leuenaar se grootste probleem is dat hy of sy niemand anders kan glo nie, omdat jy jou buurman beoordeel volgens die manier wat jy jou eie lewe leef. As jy dus ‘n probleem het om die waarheid te praat, bid, ‘Here, red my van lippe wat lieg, en van ‘n tong wat mislei.’
Sielskos: 1 Kro 10:1-12:22; Luk 12:22-34; Ps 119:25-32; Spr 20:25-27