Glo God vir ‘goeie dinge’
2018-08-14Matteus 7:11 NLV
Die kruis is die bewys van hoe lief God jou het. ‘As God werklikwaar nie sy eie Seun gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal aan die dood oorgegee het, is daar tog geen manier waarop Hy nie ook alle ander goeie dinge aan ons sal skenk nie’ (Romeine 8:31 NLV). As dit in God se Woord beloof word, is dit God se wil – weier dus om met minder tevrede te wees. Jy moet egter onwankelbaar wees, anders sal dit nie werk nie (sien Jakobus 1:6-8). Die Psalmdigter het gesê, ‘Een ding vra ek van die Here, en dit sal ek bly soek…’ (Psalm 27:4 NLV). As jy gehoorsaam is en daarna strewe om Hom te behaag, wees dan vol vertroue wanneer jy na Hom toe gaan. ‘…as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God te gaan’ (1 Johannes 3:21 NLV). Wanneer jy sonde in jou lewe toelaat, word jy ongemaklik in God se teenwoordigheid en dan is dit moeilik om vir die resultate wat jy wil soek, geloof te hê. Hanteer dit dus onmiddellik. Wonderwerke gebeur met diegene wat glo – kom dus in ‘n posisie waar jy God vol vertroue vir die ding wat jy nodig het, kan glo. Hy het nie sy planne vir jou lewe verander nie. Omstandighede en seisoene verander, maar ‘…die woord van God bly vir altyd’ (Jesaja 40:8 NLV). Jesus het gesê, ‘…hoeveel te meer sal julle hemelse Vader goeie dinge gee aan hulle wat dit van Hom vra!’ Dit is ‘n Bybelse belofte. ‘…Hy sal die goeie nie weerhou van hulle wat doen wat reg is nie’ (Psalm 84:12 NLV). As God nee sê, is dit omdat dit nie goed sal wees vir jou nie. Vertrou Hom – Hy het iets beters vir jou in gedagte.
Sielskos: 1 Kro 16-18; Luk 12:49-59; Ps 119:41-48; Spr 21:1-3