‘n Nuwe gees, in ‘n onvernude liggaam

2018-08-16
1 Tessalonisense 5:23 NLV

As jy slegs ‘n ‘geestelike’ wese was, sou jou geestelike potensiaal onbeperk gewees het. Jy moet egter konstant jou ‘siel’ in ag neem, wat uit jou emosies, wil en intellek bestaan. Daarmee saam moet jy ook die behoeftes en aptyte van jou fisiese ‘liggaam’ hanteer. Jy kan soveel bid soos jy wil, maar jou vleeslike natuur gaan nie skielik een oggend wakker word met die begeerte om God te behaag nie, omdat dit altyd in konflik met sy wil is (sien Romeine 8:7-8). Wanneer jy ‘in die vlees wandel,’ sal dit jou elke keer op die verkeerde pad lei. Dit moet soos ‘n bedorwe kind gedissiplineer word en aan jou gees onderwerp word. Jou siel, aan die ander kant, word konstant tussen jou vlees, wat vir God nee sê en jou gees, wat vir Hom ja sê, vasgevang. Dis hoekom jou siel (wil, emosies en intellek), daagliks deur God se Woord herprogrammeer moet word. Paulus sê, ‘…laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe…’ (Romeine 12:2 NLV). Wat jy in jou rekenaar in programmeer is wat jy uitkry, nie waar nie? Soortgelyk, wanneer jy begin om Skriftelik te dink, is wanneer jy in oorwinning begin lewe. Die ware aksie vind in jou gees plaas – die deel van jou wat hernuwe en omvorm is toe jy weer gebore is. Wanneer God se Gees met jou gees intiem word, is die gevolg ‘n nuwe geboorte en soos jy geestelik groei, begin jy geestelike vrugte produseer (sien Galasiërs 5:22). Wanneer dit gebeur, begin jy besef dat jy eintlik ‘n nuwe gees is wat in ‘n onvernude liggaam woon. As jy dit weet, sal dit jou help om baie van jou stryd te verstaan en te bid: “Here, ek is volkome U s’n: ‘gees en siel en liggaam.'”

Sielskos: 1 Kro 23:21-26:19; Luk 13:18-35; Ps 119:57-64; Spr 21:7-9